Nuus

Ma vertel: Só gaan ek van skottelgoedwasser na eetplek-eienaar

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Van onder begin kan jy dié eertydse skottelgoedwasser - wat nou haar eie eetplek besit - níks vertel nie!

Laurentia wys glimlaggend haar trofee van die Calamari Cook-off-kompetisie wat sy gewen het. Foto: Verskaf
Laurentia wys glimlaggend haar trofee van die Calamari Cook-off-kompetisie wat sy gewen het. Foto: Verskaf

Dis bedrywig in Sea Vista aan die rand van St. Francisbaai in die Oos-Kaap, waar "Aunty Lau" se takeaway-winkel is. Buite 'n enkel-garage staan 'n windskeef bordjie met "Aunty Lau" en 'n foonnommer daarop geskryf. Met die instap groet die vrou agter dié bynaam, Laurentia George (42), hartlik. Die plastiekstoele onder die groot houttafel word dadelik nadergetrek. "Welkom in die ‘kasi'. Sit, sit," nooi sy, en dra botteltjies yskoue water aan.

Laurentia is St. Francisbaai se calamari queen sedert Desember laas jaar, toe sy die dorp se calamari-kookkompetisie gewen het. En hoe dan anders? Haar pryswenner-calamari lok dan tot oorsese besoekers. "Rêrigwaar!" laat sy ewe hoor. "Net annerdag kry ek 'n WhatsApp van Hollanders wat al hier kom eet het toe hulle met vakansie in ons land was. Hulle wou net laat weet hulle is op pad terug en kan nie wag om weer hier te kom calamari eet nie," vertel sy trots.

Van Laurentia se geregte. Die calamari bly ‘n treffer. Foto: Verskaf
Van Laurentia se geregte. Die calamari bly ‘n treffer. Foto: Verskaf

Haar dogter Devarushka (17) is reeds aan die werskaf met eetgoed in die kombuis, wat Laurentia al geselsend met 'n wakende oog dophou. Sy't geen professionele opleiding as sjef ontvang nie, sê sy, en het oor die jare haar kennis in dié praktyk geslyp.

"Ek het lank terug in 'n restaurant hier gewerk. Een aand het die eienaar nie genoeg roti's gehad nie. Eers is ek Spar toe, wat toe was, en die 7-Eleven het niks oorgehad nie. Ek sê toe vir die eienaar ek kan haar mos help, want ek kan roti's maak."

Die eienares het dadelik haar potensiaal raakgesien, toe bevorder sy Laurentia van skottelgoedwasser na sous-chef onder haar leiding. Daar het Laurentia geleer hoe om die verskillende kombuisapparate op die regte manier te gebruik, en hoe om verskillende geregte aanmekaar te slaan. "Sy het my ook van deep cleaning, higiëne en ‘first in, first out' geleer. Dit was in 1999. Ek was 17.

Laurentia het as 'n restaurant se sous-chef geleer hoe om wêreldklasgeregte te maak. Foto: Verskaf
Laurentia het as 'n restaurant se sous-chef geleer hoe om wêreldklasgeregte te maak. Foto: Verskaf

"Ek was maar 16 toe ek en my man, Derick (52), getroud is, en ons het vyf lieflike kinders. Daar is Delorezo (26), Devandré (21), Devarushka, wat my in die takeaway help, Derick Junior (11) en ons baby, Declan (3). Al was dit nie altyd maklik nie, het ons deurgedruk."

Wat is die storie agter haar besigheid? "Ek sit die an‘erdag en dink: Ek het nou al by so baie restaurante gewerk, mense wonder seker hoekom. En dis eintlik eenvoudig: Die plekke het óf toegemaak, óf ek was ge-retrench as gevolg van die ekonomie. Tussendeur het ek selfs gewone huiswerk gedoen om te oorleef.

"Die lockdown was die ergste, maar dis ook wat my gered het. Toe ek die covid-grant van R1 600 ontvang, het ek lank gesit en dink of ek moes gate toestop. Ek besluit toe om my eie takeaway oop te maak."

In 2022 is Aunty Lau‘s toe geopen, en in 2023 is dit geregistreer. Hulle het eers uit die huis gewerk, maar later die enkel-garage in 'n takeaways omskep. Sy beplan nog om 'n afdak op te sit en boontoe te bou.

Teen die muur agter die houttafel waarop haar trofee ook pryk, is verskillende menus opgeplak. "My heel eerste takeaway was slaptjips, wat ek teen R10 'n pakkie verkoop het. Eers bietjie later het hoenderstukke ook bygekom. Later toe verkoop ek ook tjops, vis en souse. Die beef stew met pap en die chicken boxes is deesdae ook baie gewild, maar die calamari bly die wenner!"

Sy't ingeskryf vir die Calamari Cook-off omdat dit nog altyd op haar bucket list was om 'n kookkompetisie te wen, sê sy, al het sy al voorheen ingeskryf en 'n voucher na ‘n resort gewen.

"Een keer was my chilli só sterk, die mense het begin hoes en nies. Só het ek geleer om my resepte aan te pas. Toe is een van my drome uiteindelik laas jaar bewaarheid toe ek (in die cook-off) die People's én Judges' Choice-kategorieë wen. Ek het 'n pragtige trofee ontvang."

Die afgelope maande woon sy ook verrykingskursusse by, dan moet Derick en Devarushka die winkel beman. "Daar leer ek meer oor besigheid, soos oor food safety, tax returns en wanbestuur," sê sy, en wys trots na van haar sertifikate teen die muur.

Ook teen die muur pryk daar 'n afskrif van Psalm 91. "Dié psalm is kosbaar vir my en die woorde dra by dat ek aanhou glo in my drome. Hopelik sal ek in die toekoms ook ander in my gemeenskap kan help deur aan hulle werk te verskaf. Sal dít nou nie die cherry op die koek wees nie!"

Willemien Green

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM