Kampboffin: Jou gasstoof

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: GettyImages.com
Foto: GettyImages.com

In die kampplek het 'n mens 'n paar opsies om jou kos gaar te kry of water te kook vir 'n bietjie boeretroos. Die mees basiese en beste, natuurlik, is 'n kampvuur, maar dit neem tyd om aan die gang te kry en jy kan ook nie sommer enige plek vuurmaak nie.

'n Mikrogolfoond kom ewe nuttig te pas, maar nie almal van ons vat een saam op vakansie nie en boonop het jy 220 V-krag op jou staanplek nodig. Dieselfde geld vir 'n induksieplaat. Die algemeenste manier is 'n gasstoof. As jou wa 'n buitekombuis het, is hy tien teen een toegerus met een, en as jy met 'n tent kamp, is 'n draagbare gasstoof amper so deel van jou kampgoed as 'n stel kampstoele.

Die gasstoof is die middelpunt van jou kampkombuis, al kamp jy ook waar.
Die gasstoof is die middelpunt van jou kampkombuis, al kamp jy ook waar.

Vat 2 vir 'n vlam

Gas - of meer spesifiek LP-gas, kort vir liquefied petroleum - is 'n neweproduk van olieraffinering en kan ook uit natuurlike gas ontgin word. (Sasol ontgin ook gas uit steenkool.)

Volgens die 2022-jaarverslag van die Suid-Afrikaanse Brandstofbedryfvereniging (Sapia) word die meeste van ons LP-gas ingevoer. By navraag het ook die Vloeibarepetroleumgasvereniging van Suid-Afrika (LPGSA), bevestig dat 80% of meer van die LP-gas wat plaaslik verbruik word, tans van die buiteland af kom.

Gas bestaan uit hidrokoolstofgasse met molekules wat 3-4 koolstofatome het. LP-gas bestaan hoofsaaklik uit 'n mengsel van propaan en butaan. Volgens ons nasionale standaard vir LP-gas (SANS 1774) word 'n verhouding van 50-50 tot 90-10 propaan en butaan as LP-gas beskou, sê die LPGSA.

Die mense by dié vereniging wys ook daarop dat die verhouding tussen die propaan en butaan 'n invloed het op die verdampingsdruk. Hoe meer propaan, hoe hoër die druk in die silinder. 'n Soort organoswaelverbinding, etielmerkaptaan, word by die gasmengsel gevoeg vir LP-gas se kenmerkende reuk.

Een bron meen dit ruik soos uie, preie, doerian ('n tropiese vrug in Suidoos-Asië) of selfs gekookte kool. As jy dus die gas kan ruik, is daar iewers 'n lekkasie. Dit is 'n reuk wat 'n mens in 'n piepklein konsentraat kan ruik - tot so min as 1 deel per 2,8 miljard deeltjies lug.

Terloops, natuurlike gas styg in die atmosfeer op, terwyl LP-gas meer as een en 'n half keer digter is as die lug rondom ons. Dit beteken LP-gas sal op op die grond vergaar indien dit uitlek. Gas op sigself is nie giftig nie en veroorsaak geen besoedeling indien dit sou ontsnap nie.

Gas se kookpunt is ver onder kamertemperatuur, wat beteken teen ons gewone temperature en lugdruk verdamp dit. Onder druk neem dit die vorm van 'n vloeistof aan - dít is hoekom dit voel of daar 'n waterige inhoud is wanneer jy 'n vol silinder skud. Maar wanneer die gas by die silinder uitkom en van vloeistofvorm in gasvorm verander, sit dit 270 keer uit.

Dit beteken 1 l vloeibare gas is in gasvorm 270 l. Wanneer 'n gassilinder gevul word, is dit tot 80% vol vloeistof en die res is gasdamp. Die druk in die silinder verander namate die temperatuur verander. 'n Silinder met propaangas het byvoorbeeld 'n druk van 6,4 bar* as die temperatuur van die gas 16 ºC is, maar teen 27 ºC gaan dit op tot 8,8 bar, teen 32 °C tot 10,3 bar en teen 38 ºC tot 11,9 bar.

Die maksimumdruk wat 'n silinder kan weerstaan, is omtrent vyf keer meer as die druk waarvoor dit tipies gebruik word, maar dit word deur die vervaardiger bepaal. Volgens die webwerf esenssys.com sal 'n silinder waarskynlik teen 68,95 bar oopskeur. Volgens die LPGSA is 7,5-10,5 bar 'n standaarddruk in 'n silinder. Die gasreëlaar tussen die silinder en die stoof verlaag die druk tot 0,0275 bar.

Daar moet 'n konsentrasie van 2-10% LP-gas in die lug wees om vlam te vat, en die aansteektemperatuur is bo 380 ºC. Die vlam is veronderstel om blou te brand, wat ook 'n teken van volkome ontbranding is.

'n Oranje of gelerige vlam is 'n aanduiding dat die ontbranding gebrekkig is. Dit beteken onverbrande koolstof en hidrokoolstof word vrygestel - lang name vir roet. 'n Blou vlam brand teen rondom 1 980 ºC en die geel vlam teen 1 000 ºC.

Terwyl die blou vlam ordentlik brand, gee 'n geel vlam buiten die roet ook koolstofmonoksied af. Koolstofmonoksied is skadelik vir mense en kan selfs dodelik wees. Dit het geen kleur, reuk of smaak nie, en as jy byvoorbeeld aan die slaap is, is jy uiters blootgestel. Dit kan skade aanrig voordat iemand besef daar is 'n probleem.

Gebruik dus jou gasstoof waarvoor dit bedoel is - en buite jou tent of woonwa. (Moet dit nooit gebruik om hitte in die woonwa of tent te kry nie).

Gas - of meer spesifiek LP-gas - is 'n neweproduk van olieraffinering en kan ook uit natuurlike gas ontgin word.

Vuurwarm

Die natuurkundige Giovanni Battista Venturi
Die natuurkundige Giovanni Battista Venturi

Gasstowe verskil, maar vir ons doeleindes kyk ons na die algemene gietystersoort wat op baie waens te sien is. Tussen die stelknop wat jy oopdraai en die vlam wat jy by die brander aansteek, gebeur 'n paar interessante dinge. Die sogenaamde Venturi-effek - danksy die slim werk van ene Giovanni Battista Venturi, 'n Italiaanse fisikus van die 19de eeu - laat die stoof werk soos hy moet.

Nadat jy die stelknop oopgedraai het, word die gas deur 'n naaldpuntgrootte gaatjie - die venturi of jet - gespuit in 'n groter pyp waarin gewone lug is. Wanneer die gas deur die venturi beweeg, versnel die vloei, maar dit veroorsaak ook 'n negatiewe druk.

As jy die stoof van nader bekyk, sal jy sien die mengbuis - die deel tussen die venturi en die brander - het langs die stelknop 'n opening rondom. Dit is waar die lug rondom ons - die primêre lugbron - die buis binnevloei (danksy die negatiewe druk binne die buis). Hier gebeur twee belangrike dinge: Omdat die gas deur die klein opening in die groter volume inspuit, veroorsaak dit, soos ons reeds genoem het, 'n laer lugdruk. Lug word dus in die pyp ingesuig, wat dan tot gevolg het dat die lug en die gas meng.

Dit is hierdie mengsel wat aan die brand slaan as jy 'n vuurhoutjie by die brander trek. (Die lug rondom die vlam is die sekondêre lugbron.) As jy al met hierdie soort gasstoof gewerk het, het dit waarskynlik al met jou gebeur dat die vlam agter die stelknop (in die mengbuis) skielik aan die brand slaan - die Engelse praat van flashback. Dit veroorsaak 'n aardige geluid en 'n mens skrik jou boeglam. Ontspan, niks gaan ontplof nie.

Draai net dadelik die knop toe om die gastoevoer af te sny. As jy die vlam laat aanhou brand, kan dit die brander beskadig. Die ontbranding in dié geval is ook gebrekkig as gevolg van 'n tekort aan primêre lug. Die energiedoeltreffendheid van 'n LP-gasstoof is 55-60%, terwyl nuwer modelle s'n tot 90% is.

Dit is heelwat hoër as baie ander stowe: In 'n gasstoof wat 45% doeltreffend is, is die hoeveelheid energie wat 1 kg LP-gas vrystel, gelykstaande aan 2,5 kg steenkool in 'n koolstoof en 21,2 kg hout wat gebrand word.

Hou 'n oog op jou gas

Die gassilinder moet regop staan, en soos 'n mens op woonwaens sien, word dit vasgeklamp. Dit is nie nodig om die klep heeltemal oop te draai nie; een en 'n halwe draai is voldoende. As jy gas ruik, maak die klep toe.

Gebruik water met 'n bietjie skottelgoedseep om 'n lekplek op te spoor, en kyk ook op plekke soos die klep en reëlaar. Jy sal borrels sien waar dit lek. As vlamme elders ontstaan as gevolg van die gas, maak die klep toe.

Moenie die vlamme met 'n tuinslang probeer blus nie; gebruik 'n brandblusser - dié is gewoonlik naby die woonwadeur. Moenie jou gasstoof in 'n geslote ruimte - soos die binnekant van jou tent - gebruik nie.

Die gassilinder moet regop en stewig staan.
Die gassilinder moet regop en stewig staan.

Laat 'n losstaande gasstoof afkoel voor jy dit bêre. Maak seker jou los gasstoof staan stewig en gelyk. As hy omval, is jy nie net jou ete kwyt nie, maar jou kampgoed kan vlamvat. Gewoonlik is 'n woonwa se gasstoof op 'n werkblad gemonteer, maar party van hulle sit dwars, wat beteken die een plaat is agter die ander.

Wees versigtig dat die voorste plaat jou nie brand wanneer jy bo-oor strek om iets in die kas by te kom nie. Haal eerder alles wat jy nodig het, uit die kaste vóór jy die stoof aansteek.

As jou gasstoof nie 'n eie aansteker het nie, steek eers jou vuurhoutjie aan en hou dit by die brander. Draai nou eers die gasstoof se stelknop oop. Andersom kan gevaarlik wees, want die gas bou op by die brander en kan "ontplof" as jy die vuurhoutjie trek.

Hou die klep toe as jy nie die gassilinder gebruik nie.
Hou die klep toe as jy nie die gassilinder gebruik nie.

As jy klaar is met die stoof, draai die klep by die gassilinder toe, veral wanneer jy gaan sleep. Draai dit oop net voor jy die stoof weer gaan gebruik. As die silinder leeg is, maak die klep toe voordat jy die gaspyp verwyder.

As jy die klep ooplos, kan suurstof met oorblywende LP-gasdeeltjies in die silinder meng - wat die inhoud hoogs vlambaar maak en ontplof as iemand 'n vuurhoutjie trek.

Ry & Sleep sê

Net soos brandstof is gas aan die kus goedkoper as in die binneland. Volgens 'n 2013-aanbieding deur die departement van energie word die maksimumprys sedert 2010 deur die regering gereguleer.

Die LPGSA wys daarop dat pryse voor Covid-19 verband gehou het met die brandstofprys, maar sedert Julie 2020 word 'n nuwe prysmodel gebruik.

* Vir konsekwentheid gebruik ons bar as drukeenheid vir gas, maar kilopascal (kPa) word internasionaal meer algemeen gebruik.

** Teksbronne

Vloeibarepetroleumgas-vereniging van Suid-Afrika (LPGSA) en lpgas.co.za; esenssys.com; wikipedia.org; worldliquidgas.org; lpg-apps.org; elgas.com.au; "Multiple-Household Fuel Use - A Balanced Choice Between Firewood, Charcoal and LPG", 'n 2014-verslag van die Duitse federale ministerie vir ekonomiese samewerking en ontwikkeling; energypedia.info; researchgate.net; opentextbc.ca; thegasman.co.za; esapyronics.com; campcraft.co.za; sapia.org.za; "Market Inquiry Into the LPG Sector", 'n verslag van die Suid-Afrikaanse Mededingingskommissie gedateer Maart 2017; mayoclinic.org

Leon Botha (teks en foto’s)

SPELETJIES VANDAG

CTA