Crème caramel-ringkoek – dis toorkuns!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Foto's ER Lombard

Sit dit voor!

Keer die koek versigtig uit die pan en bedruip met ekstra karamelsous.

Maak 1 ringkoek

Voorbereiding: 20 minute

Baktyd: 1 uur en 15 minute

Oondtemperatuur: 170 °C

• 15 ml gesmelte botter

• 60 ml gekoopte karamelsous (sien wenk onder)

KOEKBESLAG

• 440 ml koekmeel

• 125 ml kakao

• 5 ml koeksoda

• 2,5 ml bakpoeier

• 'n groot knypie Maldon-seesout

• 125 g botter, kamertemperatuur

• 250 ml ligbruinsuiker

• 1 groot eier

• 1 groot eiergeel

• 330 ml karringmelk

KAASKOEKVLA

• 1 blik (380 g) ingedampte melk

• 1 blik (385 g) kondensmelk

• 170 g mediumvet-roomkaas

• 3 groot eiers

• 1 groot eierwit

1. Voorverhit die oond. Smeer 'n Bundt-pan met 'n inhoudsmaat van 2 liter oraloor met botter en giet die karamelsous onderin die pan.

MAAK DIE KOEKBESLAG

2. Sif die droë bestanddele saam en hou eenkant. Klits die botter en suiker saam vir 5 minute tot lig en romerig.

3. Voeg die eier en eiergeel by die bottermengsel en klits weer. Voeg nou die karringmelk en die droë bestanddele om die beurt hierby en klits tot net gemeng.

4. Skep in die voorbereide pan bo-op die karamelsous en maak gelyk.

MAAK DIE KAASKOEKVLA

5. Maak vooraf seker al die bestanddele is kamertemperatuur. Sit al die bestanddele in 'n beker-versapper en verwerk saam tot glad. (Jy kan ook 'n staafmenger vir die doel gebruik.)

6. Giet die gladde vla versigtig bo-oor die koekbeslag in die voorbereide pan.

7. Bedek die koek met 'n gesmeerde vel foelie, dowwe kant na buite, en sit dit in 'n groot oondbak.

Giet genoeg kookwater in die oondbak dat die pan halfpad daarin staan, en bak vir 1 uur en 15 minute. Haal die koek uit die waterbad, laat afkoel en sit dit dan in die yskas tot heeltemal koud. Dié stap is belangrik, want soos met crème caramel moet die karamellaag stol voor jy die koek kan uitkeer, anders gaan dit breek.

Wenk! Ons het Creative Cuisine Pantry se klaar bereide karamelsous onderin die koekpan en as afronding gebruik.

Alternatiewelik kan jy 125 ml strooisuiker, 60 ml kookwater en 3 ml suurlemoensap saam in 'n klein kastrol oor matige hitte roer tot al die suiker opgelos is en dit dan kook, sonder om te roer, tot die suikerstroop 'n goue karamelkleur het - hoe donkerder die kleur, hoe dieper die karamelsmaak. Giet die karamel in die ringpan soos aangedui in stap 1.

Geskenkpapier van Bali Trading (balitrading.co.za) Resep aangepas van Kelly Anthony (theanthonykitchen.com)

SPELETJIES VANDAG

CTA