Eiervrug-en-maalvleis-kebabs

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
  • 24 - eiervrugskywe van 5 mm dik
  • 600g - beesmaalvleis (nie te maer)
  • 100g - feta, fyngekrummel
  • 60ml - fyngekapte rooi ui
  • 30ml - fyngekapte platblaarpietersielie
  • 1 - rooi brandrissie, fyngekap
  • 3ml - gedroogde origanum
  • - 5 ml elk fyn koljander, komyn en rissiepoeier
  • 7.5ml - sumac
  • - sout en peper na smaak
  • 30ml - olyfolie
  • - suurlemoenwiggies, tahini-jogurt en tabbouleh om voor te sit

1. Gebruik 24 ewe groot skywe eiervrug en pak in 'n enkellaag op 'n kapplank. Besprinkel goed met sout en laat staan vir sowat 30 minute sodat die skywe hul eie vloeistof begin vrystel. Vee die vog en sout met 'n skoon lappie of kombuispapier af. Dié stap verseker die eiervrug-skywe is sag genoeg om te rol sonder om te breek.

Foto: ER Lombard
Foto: ER Lombard

2. Meng die maalvleis met die feta, ui, pietersielie, brandrissie, origanum en speserye en geur ruim met sout en peper.

Foto: ER Lombard
Foto: ER Lombard

3. Verdeel die maalvleismengsel tussen die bereide eiervrugskywe en druk dit mooi plat. Rol die eiervrug op met die vleisvulsel, begin by die dun kant van die skyf en rol na die breë kant. Ryg ses eiervrugrolletjies op vier metaalstokkies en verf oraloor met die olyfolie. Eiervrug is soos 'n spons en sal vinnig die olie absorbeer.

Foto: ER Lombard
Foto: ER Lombard

4. Braai die kebabs vinnig oor hoë hitte sodat die eiervrug mooi kleur kan kry, reg rondom op die vleiskante ook. Krap van die kole uit sodat die hitte matiger is en braai verder vir nog 5-10 minute of tot die eiervrug gaar is. Sit gerus sommer jou braaibak se deksel oor die kebabs terwyl dit braai om 'n oondjie te vorm. Jy wil gaar eiervrug hê sonder dat die maalvleis droog word, so hou goed dop.

Foto: ER Lombard
Foto: ER Lombard

Ta-da! Drup 'n ekstra skeutjie olyfolie oor die kebabs en sit voor met ekstra brandrissie, vars suurlemoenskyfies, 'n tahini-jogurtsousie en quinoa-tabbouleh.

OM DIE TAHINI-JOGURTSOUSIE TE MAAK:

Klits 125 ml ongegeurde jogurt, 30 ml tahini, 15 ml vars suurlemoensap, 2,5 ml sumac en 'n knippie gedroogde knoffelpoeier saam. Geur goed na smaak met sout en vars gemaalde swartpeper. As die sousie te dik is na jou smaak, verdun met 30 ml water voor jy dit met sout en peper dokter.

SPELETJIES VANDAG

CTA