- 4 - lamskenkels (400 g elk)
- 5ml - vinkelsaadjies, fyngestamp
- 3ml - elk fyn komyn en koljander
- 30ml - olyfolie
- - sap van 2 groot suurlemoene
- 6 - knoffelhuisies, geskil
- 6 - suurlemoenblare
- 15ml - gedroogde origanum
- - ’n bossie vars origanum
- 125ml - witwyn
- 300ml - water
- 1 - groot ui, in dik ringe gesny
1. Maak twee diep insnydings in die dikste deel van die skenkelvleis. Geur oraloor met sout, peper, vinkel, komyn en koljander.
2. Voorverhit die oond. Sit die oondbak op 'n stoofplaat. Verhit die olyfolie daarin en braai die vleis tot oraloor goudbruin (jy kan ook 'n pan gebruik as jy meer gemaklik is daarmee). Dié stap is opsioneel, maar ek glo dit gee 'n geuriger eindresultaat. Voeg die res van die bestanddele by die gebraaide lam, maak dig toe met 'n deksel of foelie en rooster vir 3 uur in die oond tot die vleis smeltsag is.
3. Skep die vleis uit die sous en laat dit rus. Skep die oortollige vet uit die pansous, druk die gaar knoffel daarin fyn en syg deur 'n sif in 'n mooi bakkie. Sit die sous saam met die vleis, geroosterde groente en koeskoes voor. Ek roer 'n blik gedreineerde kekerertjies en 'n strooisel vars ment deur my koeskoes.
WENK: Rooster gerus vet aartappelwiggies in die pan saam met die vleis vir die laaste uur of kook orzo (pastarys) in die pansappe in die oondbak terwyl die vleis rus. Albei is goeie plaasvervangers vir die koeskoes. Krummel gerus fetakaas oor die gereg as jy wil.














