- 400g - witbroodmeel
- 15ml - ligte bruinsuiker
- 8g - kitsgis
- 5ml - sout
- 300ml - louwarm water
- - ’n skeutjie olyfolie vir smeer
- 15ml - heuning of melasse*
- 7.5ml - koeksoda
- - ’n bietjie eierwit vir aanverf
- - sesam- en papawersaadjies en seesoutvlokkies
1. Meng die meel, suiker, gis en sout saam. Maak 'n holte in die middel, voeg die water by en roer met 'n houtlepel saam tot dit 'n deeg vorm. Keer die deeg uit op 'n skoon oppervlak en knie tot glad vir minstens 10 minute. Hierdie deeg is droër as gewone brooddeeg, so as dit moeiliker as gewoonlik voel, hou net aan! Die gluten wat die knieëry opwek, is belangrik.

2. Olie 'n mengbak liggies, sit die deeg daarin en bedek met kleefplastiek of 'n klam vadoek. Laat dit op 'n warm plek rys vir 1 uur 30 minute of tot verdubbel in volume.

3. Knie die deeg vinnig af om ontslae te raak van enige lugborrels en verdeel in ses gelyke dele. Vorm elk in 'n netjiese bolletjie, bedek weer en laat rus vir 15 minute. Indien die deeg nie rus nie, is dit moeilik om die bagels te vorm.

4. Druk in die middel van elke deegballetjie 'n gaatjie met die agterkant van 'n houtlepel en rek met jou hande die opening groter om bagels te vorm. Rangskik op 'n bakplaat uitgevoer met bakpapier, bedek liggies met kleefplastiek en verkoel oornag. Enigiets van 12 tot 24 uur is wenslik sodat die deeg stadig geur kan ontwikkel.

5. Laat staan die bagels vir 20 minute teen kamertemperatuur. Voorverhit die oond. Bring 'n groot kastrol water tot kookpunt. Roer die heuning of melasse en koeksoda by die water. Verlaag die hitte effens sodat dit prut. Dompel die bagels een vir een of twee op 'n slag in die water vir 30 sekondes aan 'n kant. Dreineer, en sit weer op die voorbereide bakplaatjie.

6. Verf die bagels met 'n bietjie eierwit en strooi die saadjies en/of growwe sout oor. Bak vir 15-20 minute of tot goudbruin en gaar. Geniet met jou keuse van bolaag-bestanddele. Die bagels is op hul beste vars gebak, dan hoef hul nie eens gerooster te word nie!

*Tradisioneel word die water gegeur met 'n ruim lepel "barley malt syrup" vir geur en kleur. Dit is 'n spesialiteitsbestanddeel en jy kan dit gerus vervang met heuning, melasse of selfs dadelstroop.














