Hoekom twee verskillende soorte deeg gebruik?
Bros- en skilferdeeg word dikwels gekombineer vir pasteie. Die brosdeeg is perfek om die pasteibak mee uit te voer aangesien dit sterker is as skilferdeeg en dun uitgerol kan word vir 'n bros onderkant, sonder dat die delikate lae saamgepers word. Die botterige skilferlaag bo-oor rond jou skepping op sy beurt af met 'n ragfyn blaartjiedop as apploustrekker.
Maak: 12 handpasteitjies
Voorbereiding: 3 uur
• Baktyd: vulsel 2 uur; pasteie 25 minute
• Oondtemperatuur: 180 °C
• 400 g blaardeeg, ontdooi
• 'n bietjie geklitste eier
VULSEL
• olyfolie vir vlakbraai
• 1 groot ui, gekap
• 2 groot wortels, gekap
• 2 selderystingels, gekap
• 2 knoffelhuisies, gekap
• 800 g beesvleisblokkies (sien wenk)
• 45 ml meel
• sout na smaak
• 30 ml tamatiepasta
• 10 ml gemengde peperkorrels
• 250 ml pinotage
• 500 ml beesvleisaftreksel
• 30 ml worcestersous
• bouquet garni (lourierblare, tiemie, pietersielie)
SODAWATERDEEG
• 500 ml (280 g) koekmeel
• 'n groot knippie sout
• 250 g koue botter, in blokkies gesny
• 85 ml yskoue sodawater
• 15 ml brandewyn of suurlemoensap

1. BEREI DIE VULSEL
• Verhit die olie en braai die ui, wortel, seldery en knoffel saam tot glansend. Skep die groente uit, rol die vleis in die meel, geur met sout en braai dit nou in dieselfde pan tot goudbruin oraloor. Werk in sarsies en voeg nog olie by soos nodig. Sodra al die vleis bruin is, meng die tamatiepasta, peperkorrels en wyn in die warm pan en kook driftig vir 5 minute terwyl jy heeltyd roer. Skraap enige bruin deeltjies van die pan se bodem los.
• Voorverhit die oond. Skep die gebraaide vleisblokkies terug en roer die aftreksel, worcestersous en kruie by. Sit die deksel op en bak in die oond vir 2 uur. Laat afkoel.


2. MAAK DIE SODAWATERDEEG
• Sif die droë bestanddele saam en vryf die botter met jou vingerpunte in tot die mengsel soos growwe broodkrummels lyk.
• Roer die sodawater en brandewyn by en meng tot glad. Vorm die deeg in 'n plat skyf, draai in bakpapier toe en verkoel vir 1 uur.


3. VORM DIE TERTJIES, EN BAK!
• Strooi meel oor 'n skoon werkvlak en rol die deeg uit tot 3 mm dik. Sny 10 cm-sirkels en voer die holtes van 'n vlak muffinpan daarmee uit. Die deeg moet effens groter as die holtes wees. Prik die deegbodems met 'n vurk en verf die rande met 'n bietjie eier.

• Skep vleisvulsel in die doppies. Rol die blaardeeg oop en sny 12 x 9 cm-sirkels uit, bedek die vulsel en druk die rande mooi bymekaar. Maak 'n stoomgaatjie in elke pasteitjie en verf met eier. Bak vir 25-30 minute of tot gaar en uitgerys.
Wenk
Jy kan natuurlik ghoelasj-vleis vir die vulsel gebruik, maar 'n kombinasie blokkies gesny uit die beesvoorkwart (dit sluit in dikrib, kortrib, skenkelvleis, nek en borsstuk) is ryker en sal nie droog kook nie.



















