ONTBYT | Begin die dag reg

Getty Images
Getty Images

ONTBYT-INKOPIES

Volgraanontbytvlokkies soos ProNutro, All-Bran, Cheerios, Weet-Bix, Maximize en Alpen-muesli

Pap soos hawermout (Jungle Oats of Bokomo Oats; onthou dat laasgenoemde 'n laer glukemiese indeks het), volgraan-Tasty Wheat, growwe, verrykte mieliemeel en Maltabellapap

Ontbytstafies. Baie van dié produkte bevat te veel suiker en te min voedingswaarde; lees dus die etiket voor jy koop

Volgraan- of lae-GI-brood Bruin pitabroodjies of tortillas

Volgraanmuffins of bestanddele om jou eie mee te bak

Melk en jogurt - volroommelk, Clover se Mmmilk, DairyBelle se Good Morning-melk, gegeurde melkdrankies en gewone en drinkjogurt

Eiers

Kaas

Grondboontjiebotter

Ham of pastrami

Skouerspekvleis

Soos 'n koning in die oggend, 'n prins in die middag en 'n boemelaar in die aand. Dís hoe ons - en veral energieke klein mensies - volgens die gesegde behoort te eet. Ná 'n lang nag van vas, gewoonlik tussen tien en twaalf uur lank, is jou bloedsuiker op sy laagste.

In die oggend is jou liggaam soos 'n motor waarvan die brandstoftenk byna leeg is. Jy moet dit vol maak om deur die dag te kan kom. Doen jy dit nie, voel jy gou moeg en prikkelbaar en sukkel jy om te konsentreer, sê Maretha Vermaak, 'n dieetkundige van Pretoria.

Die ideale ontbyt vir kinders tussen een en sewe jaar oud lyk net soos hul ander maaltye, sê Jeske Wellmann, dieetkundige en medeskrywer van verskeie gesondheidskosboeke:

  • 'n Halwe bord vol vrugte,
  • 'n Porsie stysel so groot soos jou kind se vuis,
  • 'n Porsie proteïen of melkprodukte so groot soos jou kind se handpalm, en
  • 'n Klein bietjie bygevoegde vet soos botter. "Onthou ook om vloeistof in te bou," sê Jeske. "Dit moet verkieslik water wees, want jou kind is waarskynlik effens ontwater ná 'n nag se slaap. 'n Bietjie vrugtesap (sowat 120 ml) is ook goed."

Die bohaai oor brekfis

Kinders wat ontbyt eet, sal nie sommer sukkel om 'n gesonde liggaamsgewig te handhaaf nie. Hoekom? Want kinders wat ontbyt eet is oor die algemeen geneig om gesonder te eet en het meestal meer energie om aan fisieke aktiwiteite deel te neem as hul maats wat nie 'n goeie ontbyt agter die blad het nie.

Navorsing wys ook dat kinders wat ontbyt eet, beter op skool vaar, sê Maretha. " 'n Studie waaraan kinders tussen nege en elf deelgeneem het, het gewys dat dié wat nie ontbyt geëet het nie meer toetsfoute maak, stadiger onderskei en langer neem om iets te onthou as dié wat wel geëet het."

Kinders wat ontbyt eet neem ook meestal meer vesel, kalsium en ander belangrike voedingstowwe in. Hulle bloedsuiker- en cholesterolvlak is boonop beter en hulle is gewoonlik minder afwesig by die skool.

Dis ook belangrik wát jy hom vir ontbyt gee. Hier is praktiese wenke om jou onbytspyskaart weer vol woema te maak.

Dink nuut oor ontbyt

Jeske se raad aan ouers is om goed te beplan (kyk na ons spyskaart) en seker te maak hulle bied 'n groot verskeidenheid koskeuses. Dit beteken nie een oggend graanvlokkies en die volgende dag Coco Pops nie - 'n mens hóéf nie soggens ontbytgraan te eet nie. Waarom nie vir jou kind van die vorige aand se oorskietkos opdis nie?

"Daar is niks verkeerd met 'n stukkie roosterbrood met gisteraand se maalvleis op, wors en pap of 'n gekookte eier (wat jy ook al die vorige aand kon maak) nie, want met 'n maaltyd soos dié maak jy seker jou kind kry 'n gebalanseerde ete in," sê Jeske.

Vrugte eerste

Vrugte is belangrik in die oggend, maar dit kan 'n uitdaging wees. Hoeveel kinders sal tevrede wees met 'n appel of 'n koejawel kort nadat hulle hul oë oopgemaak het, of wie wil dit eet ná 'n bord vol ProNutro? Jeske se raad is nogtans om die vrug te probeer inkry voor jy vir hulle iets anders gee wat meer vullend is. 'n Vrugteskommel is altyd 'n goeie plan, want jy kan bykans alles in dié wonderdrankie sit: van vesel (die vrug) en proteïen (die jogurt of melk) tot vet (neute)!

Babas en ontbyt

Vir babas wat vaste kos begin eet, is die ontbytopsies maar skraal, maar gelukkig is dit nog nie nodig dat hulle 'n gebalanseerde ete eet nie. Jou baba kan dus rustig voortsmul aan sy rys- of fyn mieliepap en 'n paar weke later 'n paar lepels vol fyngemaakte vrugte.

Teen sowat sewe maande is 'n samestelling van hawermoutpap en vrugte 'n fantastiese ontbytidee vir babas. "Jy kan die vrugte inwerk deur die appel bo-oor die pap te rasper," sê Jeske. "En om te vermy dat alles altyd dieselfde proe, kan jy soms 'n bietjie kaneel bo-oor strooi."

'n Agt maande oue baba kan die hawermoutpap met koeimelk eet. Jeske sê navorsing wys dat die blootstelling aan allergene (soos wat in koeimelk kan voorkom) van jongs af eintlik baie goed is. Voeg dus gerus maar klein hoeveelhede koeimelk by, tensy jou kind natuurlik al 'n ernstige allergiese reaksie daarop gehad het.

Die ideale samestelling vir 'n oggendmaaltyd soos hierbo beskryf is van nege maande af vir jou baba belangrik. "Begin dan om seker te maak jy bring die regte hoeveelheid vrugte, stysel, proteïene en 'n bietjie vet by ontbyt in."

Jy moet die voorbeeld stel. Eet die eerste ete van jul dag saam.

'n Week met woema
'n Week met woema
Getty Images
Getty Images

MAAK JOU EIE ...

Vrugtejogurt

As jy tyd het, kan jy gerus jou eie vrugtejogurt maak, want winkelvrugtejogurt is dikwels propvol bygevoegde suiker.

Maak sowat vier porsies (babas kan van nege maande af saamsmul):

  • Skil en kap 'n ryp perske in stukkies, voeg 'n klein piesang, 300 ml natuurlike jogurt en twee teelepels stroop by. Meng alles saam.

Vrugtemuesli

Laat week 100 g hawermout, twee eetlepels sultanas of rosyne en 300 ml appel- en mangosap oornag in 'n bedekte bakkie in die yskas. Roer die volgende oggend twee gerasperde appels en vier tot ses eetlepels melk en 'n bietjie stroop by (of heuning as jou baba al 'n jaar oud is).

Kies kortpad

Ontbyttyd is 'n moeilike tyd in die meeste huise. Maretha het planne om te help dat julle nie in die proses die dag se belangrikste maaltyd verwaarloos nie.

  • As tyd 'n probleem is: Maak jou kinders ten minste 10 minute vroeër wakker.
  • Dek die ontbyttafel al die vorige aand.
  • Doen soveel moontlik die vorige aand, soos om blokkies ham op te sny of kaas te rasper.
  • Maak 'n muffin-bêremengsel wat jy vir minstens 'n paar dae in die yskas kan hou.
Getty Images
Getty Images

Haastige ontbyt

'n Gryp-en-hardloop-ontbyt is ook in die haak, sê Maretha. Hier's idees:

  • Volgraanontbytpap met melk
  • Gebakte bone in tamatiesous op roosterbrood
  • Kitshawermout wat met kookmelk pleks van water aangemaak is
  • Jogurt, muesli en vars vrugte in 'n glas (Pak al die vorige aand lagies van elkeen van dié bestanddele in 'n glas en laat oornag staan.)
  • Voorafgebakte muffins en 'n skyfie kaas met 'n vrugtesappie
  • Ontbytstafie en melk
  • Drinkjogurt en 'n vrug
  • Milo-drankie en 'n piesang En as jou kinders regtig nie in die oggend kan of wil eet nie? Pak hul ontbyt in, sê Jeske. " 'n Mens kan nie verwag dat kinders moet eet die oomblik wanneer hulle hul oë oopmaak nie." Padkos-ontbyt werk ook vir ouers wat vroeg moet roer. Beproef gerus vars vrugte en neute of 'n grondboontjiebotter-en-piesangbroodjie vir dié doel.

Oor ontbytgraan

Ontbytgraan is min moeite en kinders hou meestal baie daarvan, maar die meeste ontbytgrane bevat nie naastenby genoeg vesel nie (al sê die pak dis veselryk) en is propvol suiker.

Selfs as jou kind dié wat wel genoeg vesel bevat saam met melk eet, is dit dikwels nie 'n goed gebalanseerde gereg nie, want kinders los baie van die melk in hul papbakkies oor. Soek 'n heelgraanpap en vergelyk bestanddele tot jy die gesondste opsie gevind het. "Gee 'n bykomende porsie suiwel en vrugte as 'n bykomende bron van vesel. Jy kan ook ontbytgrane met mekaar meng," sê die dieetkundige Jeske Wellmann.

SPELETJIES VANDAG

CTA