Daar is nie net een soort ekseem nie. Medici onderskei tussen hoofsaaklik sewe soorte velontsteltenisse waarvan atopiese ekseem (of atopiese dermatitis) die algemeenste is. Dié oorerflike toestand (die woord atopies verwys na 'n persoonlike of familiegeneigdheid om ekseem, hooikoors of asma te kry) verswak die skansfunksie van die vel en laat allergene toe om die vel binne te dring. Dit veroorsaak dan ontsteking, rooiheid en 'n gejeuk, verduidelik dr. Dagmar Whitaker, 'n dermatoloog van Kaapstad.
"Met atopiese ekseem ontbreek 'n proteïen genaamd filaggrin, wat normaalweg deel uitmaak van die vel se samestelling. Dit is een van die redes waarom die vel nie bestand is teen allergene (stowwe wat 'n allergiese reaksie veroorsaak) nie," sê sy.
Ander soorte ekseem sluit in kontak- ekseem, waar mense 'n uitslag ontwikkel as gevolg van byvoorbeeld chroom in juweliersware; en seboreïese ekseem, wat onder meer die wenkbroue en kopvel aantas en tipies by babas voorkom as babaskilfers. Dié vorm word dikwels vererger deur hormone wat van die ma af kom en ver-dwyn ná nege tot 12 maande. "Dié ekseem verskil ook van atopiese ekseem deurdat die onaangetaste dele van die vel normaal is en nie droog lyk nie," sê Dagmar.
Babas met kwaai atopiese ekseem is knieserige kinders wat sleg slaap
So lyk atopiese ekseem
Atopiese dermatitis is meer as net 'n droë vel. Dit is ook 'n uitslag wat die vel dikwels laat verdik of swel en 'n growwe voorkoms gee. 'n Ander onderskeidende kenmerk is dat hierdie droë, growwe en verdikte voorkoms nie sommer verdwyn nie. 'n Tipiese ekseem-uitslag het ook klein rooi knoppies wat soms blasies vorm en kan bars as dit gedurig gekrap word. As dit nie behandel word nie, kan die vel 'n waterige, etterige stof afskei.
So voel atopiese ekseem
Een van die vernaamste kenmerke van atopiese ekseem is die gedurige gejeuk van die vel, wat veral vir kleintjies ondraaglik kan raak. Babas met kwaai atopiese dermatitis is knieserige kinders wat sleg slaap.
Wanneer begin dit en hoe lank bly dit?
Atopiese ekseem kan al in die eerste weke van 'n kind se lewe begin. Die graad daarvan en hoe goed dit beheer word, bepaal hoe lank die kind ekseem sal hê. Dagmar sê die kans is skraal dat 'n kind hewige ekseem sal ontgroei wat nie goed gemonitor word nie. Kinders met minder ernstige ekseem se vel lyk weer baie beter teen die tyd dat hulle puberteit bereik. Hulle sal egter altyd 'n sogenaamde sensitiewe vel hê.
Watter liggaamsdele kry die swaarste?
Ekseem verkies die sagste dele van vel soos by die voue van die elmboog en die waai van been, asook die gesig, veral op die voorkop en wange. Atopiese ekseem kan egter versprei na enige plek op die arms of bene, en na die borsie.
Hoe gemaak met ekseem?
Ekseem moet so gou moontlik behandel word. Jy kan jul klinieksuster, huisdokter of pediater raadpleeg, maar as julle 'n familiegeskiedenis van veral atopiese ekseem het, is dit wys om 'n afspraak by 'n dermatoloog te maak, selfs al is jou baba nog baie klein. Vroeë en die regte behandeling is besonder belangrik, sê Dagmar. 'n Streng bevogtigingsroetine wat verkieslik deur 'n dermatoloog voorgeskryf is, is die eerste treetjie na verligting en genesing. Dit behels onder meer dat jy twee tot drie keer per dag 'n voorgeskrewe vogroom aansmeer. Dis byna ewe belangrik om enigiets wat 'n velallergie kan veroorsaak, te vermy of te beperk. Daaronder val alle onnodige chemikalieë in velprodukte soos geurmiddels, of enigiets wat deur die sweetkliere afgeskei word. Hou dus maar by kleur- en geurlose seep en waspoeier. Die seepvervanger Epizone E is 'n goeie keuse. Vermy ook badskuim.
Dié snellers is dikwels die sondaars
Omdat ekseem meestal 'n reaksie op 'n allergeen is, help dit baie om te weet wat die snellers is wat die toestand kan laat posvat. Dit kan wissel van badseep tot temperatuurwisselings. Algemene snellers sluit in:
- Huisstof-myte
- Hare, pels en speeksel van diere
- Stuifmeel
- Klere wat hard is, baie kleur- of ander stowwe bevat om byvoorbeeld die materiaal styf te maak, asook sekere wol- en leersoorte.
Is kortisoonrome die enigste kuur?
In die akute stadium van ekseem is room wat kortisoon bevat dikwels die enigste vorm van behandeling, sê Dagmar.
"Op die gesig verkies dermatoloë dit egter om tacrolimus-salf voor te skryf. Dis 'n anti-inflammatoriese room, maar dit bevat geen kortisoon nie en het dus baie minder newe-effekte as die rome wat wel kortisoon bevat."
Die gebruik van 'n antihistamien is ook baie belangrik en word saam met kortisoon- en ander rome gebruik om veral die gejeuk wat met ekseem gepaardgaan, te help bedaar.
Verskeie bronne verwys ook na badwater wat met bleikmiddel verdun is as 'n doeltreffende manier om ekseem te verlig. Lees meer daaroor in die kassie regs.
Trek ook vir jou kind klere aan wat van natuurlike stowwe soos sagte katoen gemaak is. En maak seker dat die klere nie te styf sit nie.
Sorg laastens dat jou kind gesond eet - vermy veral kos met preserveermiddels en kunsmatige versoeters en suiker.
Ons fantastiese vel
Jou vel is die hoofgrens tussen kieme en jou liggaam. Dink daaraan as die kleefplastiek wat jy om 'n toebroodjie draai om dit vars te hou en teen vlieë en ander nare goggas te beskerm. Die dun buitenste lagie van die vel doen dieselfde werk.
Jou vel het ook twee ander lae: 'n taamlike soepel middelste laag en 'n vetterige laag op die diepste vlak. Elkeen van hierdie lae bevat 'n kombinasie van velselle, water en vette wat die vel gesond moet hou.
Op die Britse webtuiste eczema.org word die voorbeeld van 'n baksteenmuur gebruik om die werking van die vel te verduidelik: Die buitenste velselle is die stene terwyl die vette en olies die sement is wat die stene bymekaarhou en die muur teen vogverlies seël.
Wanneer jy ekseem het, produseer jou vel nie so baie vette en olies soos ander mense s'n nie. Die vog wat binne moet bly, syfer dan deur klein openinge in die baksteenmuur en so kom die goggas in wat jou vel irriteer. Dinge soos gewone seep, veral skottelgoedwasseep en badskuim, drink die olies op almal se vel in, maar as jy ekseem het, rig dit soveel meer skade aan: Die vel raak geïrriteerd, vorm klein barsies en kan ook ontsteek.
Behandel die badwater
Navorsers het 'n klompie jare gelede bevind dat 'n bad met verdunde bleikmiddel wondere verrig vir kinders wat met ekseem sukkel. Só 'n bad maak die ekseem minder erg en voorkom opwellings deur die bakterieë op die vel wat die infeksie veroorsaak, dood te maak.
Die navorsers het bykans 'n halwe koppie bleikmiddel in 'n taamlike vol standaardgrootte bad gegooi en die kinders met ekseem twee keer per week minstens 10 minute lank daarin laat week.





















