Vinnige feit Voedselneofobie is 'n vrees vir nuwe of vreemde kosse en dis eintlik heel normaal dat klein kindertjies daaraan ly.
Jy het deeglik navorsing gedoen en weet dat jou kind twee glase melk, vier eetlepels gaar vleis en vyf groente en vrugte per dag nodig het. Maar hoe gemaak as jou kind net droë ontbytkos eet, weier om aan vleis te raak en die een groente as meer "jig" as die ander beskryf?
Hoe kry jy die voedingstowwe in jou kind se lyfie as hulle sekere kosse nie wil eet nie? 'n Ma wat omgee, se instink is om met haar kinders te baklei of hulle te dwing om te eet, maar die uiteinde kan slegter wees as waarop jy gehoop het. Die oplossing vir hierdie groot probleem is gelukkig makliker as wat jy dink!
Penwortel of bangwortel
Die eerste stap is om te probeer agterkom hoekom jou kind sekere kosse nie wil eet nie. Jy moet die wortel van die kwaad opspoor en daaraan werk. Een van die algemeenste redes waarom kinders veral sekere groente en vrugte nie wil eet nie, is wat neofobie genoem word. Voedselneofobie is 'n vrees vir nuwe of vreemde kosse en dis eintlik heel normaal dat klein kindertjies daaraan ly. Dit kan egter ook wees dat jou kind vir die tekstuur gril.
As hulle nie hou van sand tussen hul tone of 'n harde geraas nie, het hulle dalkies sensoriese sensitiwiteite wat ook hul eetgewoontes kan beïnvloed. Of dalk hou jou kind net eenvoudig nie van die smaak nie, of kry dit nie gekou nie.
As nie een van dié redes jou kind se fiemies verklaar en hy dit self nie kan verduidelik nie, kan dit wees dat hy die kos iewers met iets negatiefs verbind het. Dalk kan hy nie sy lippe aan vis of melk sit nie omdat hy daarvoor allergies is. Wat die wortel ook al is, kan jy desondanks sorg dat hy steeds al die nodige voedingstowwe inkry.
Vis-toertjies
Vis is propvol proteïene en is ook die beste bron van die omega-3 vetsuur DHA (dokosaheksanoësuur). DHA is nodig vir kinders se brein- en oogontwikkeling en daarom is dit belangrik dat hulle vis eet. As jou kind nie van 'n heel stukkie vis hou nie, kan jy visvingers beproef.
'n Vistert, vissmeer of tuisgemaakte viskoekies (noem dit sommer Vaaldam-plaatkoekies) kan dalk ook werk. Probeer 'n blikkie tuna of 'n stokvisfilet by lekker geurige maalvleis of 'n hoenderpastei inwerk.
As jy steeds geen vis in jou kind se lyfie kan kry nie, gee ander bronne van proteïen en 'n visolie-aanvulling. Onthou dat kinders wat allergies is vir vis, ook nie visolie-aanvullings kan drink nie. Hulle moet dus maar op plantolies soos lynsaad- en kanola-olie staatmaak om hul omega 3's in te kry.
HET JY GEWEET?
Dit kan egter ook wees dat jou kind vir die tekstuur gril. As sy nie hou van sand tussen haar tone of 'n harde geraas nie, het sy dalk sensoriese sensitiwiteite wat ook haar eetgewoontes kan beïnvloed.
Vleis-kulkunsies
Die belangrikste voedingstowwe in vleis is proteïen, yster, sink en vitamien B12. Daar is geen ander kossoort wat ál hierdie voedingstowwe op een slag kan vervang nie. As jou kind nie gereeld vleis wil eet nie, beproef iets nuuts wat sag is en makliker geëet word: klein frikkadelletjies, maer spekvleis in pasta- of groentegeregte, of gekrummelde hoenderstukkies. Sny hoender van die been af en ryg dit aan 'n peuselstokkie of beproef klein stukkies wors.
As jy alles beproef het en jou kind steeds geen vleis wil eet nie, gee hom ander bronne van proteïen soos melk, eiers en sojaprodukte. Bone, lensies en neute is ook goeie bronne van proteïen, maar is nie volledige proteïene nie.
Om lyfies te bou, moet dit in dieselfde maaltyd saam met 'n graan geëet word. Dit beteken dat jy byvoorbeeld stampmielies en bone of lensies en rys saam moet voorsit. Nie een van hierdie vleisvervangers is egter goeie bronne van yster, sink en vitamien B12 nie.
As jou kleinding dus nie vleis eet nie, is 'n aanvulling 'n slim plan. Kies 'n goeie multivitamien en -mineraal en 'n aparte ysteraanvulling en gee dit op verskillende tye van die dag.
SLIM KIND
DHA is nodig vir kinders se brein- en oogontwikkeling en daarom is dit belangrik dat hulle vis eet
Vrugte-verswindelaar Net soos groente bevat vrugte ook 'n groot verskeidenheid vitamiene en minerale. As jou kind nie gretig is om vars, heel vrugte te eet nie, beproef opgesnyde blokkies vrugte soos vrugteslaai, stukkies vrugte aan 'n stokkie geryg, vrugte in jogurt of 'n gladdejantjie.
Voeg rosyne by hul ontbytkos of gee droëvrugte as peuselhappie. Jy kan ook vrugte verdoesel soos gerasperde appel in vleisgeregte, fyngemaakte perskes by hoenderpastei, of piesang, appel of droëvrugte in muffins.
As jou kind geen vrugte of groente eet nie, maak seker jy gee elke dag 'n goeie multivitamien en -mineraalaanvulling.
Fiemie-moets
- Laat jou kind saam met jou kos maak; veral dié kosse wat sy nie wil eet nie.
- Plant 'n groentetuin met gunstelinge asook 'n paar soorte groente wat sy nie eet nie.
- Probeer dit in 'n ander vorm voorsit. Pleks van fyn botterskorsie kan jy botterskorsiesop of oondgebakte botterskorsieskyfies prakseer.
- Sit die kos anders voor en gee dit snaakse name. Druk wortelslaai in 'n bakkie, keer dit uit op jou kind se bord en noem dit kasteelwortels, of sit twee frikkadelle op mekaar met 'n tamatiehoed en wortelserp en noem dit 'n moddersneeuman.
- Begin met wat hulle wel eet en probeer dit uitbrei na ander soortgelyke kosse. As jou kind net jogurt eet, maar nie melk drink nie, kan jy haar drinkjogurt gee en later gegeurde melk voor jy die melk oor haar pap begin gooi.
- As jy iets nuuts maak, noem dit 'n verrassing. Dit skep onmiddellik 'n positiewe afwagting by jou kind.
- Ryg dit aan 'n stokkie. Kinders hou van stokkies! ¦ Hou dit interessant; kinders kan maklik verveeld raak.






















