Ek wens dikwels ons het kameras oral in ons huis gehad sodat ek my gesigsuitdrukking kon sien die oomblik dat Lillie-Marie in trane uitbars.
Dit kom skielik. Asof van nêrens. Net soos baie mense al die oomblik voor 'n aardbewing of ander natuurramp ramp beskryf het. Niemand het dit sien kom nie. Niemand weet mooi wat gebeur het nie. Niemand het dit opsetlik veroorsaak nie. Dis net skielik daar. En enige persoon wat dit al eerstehands beleef het, kan jou presies vertel waar hulle op daardie oomblik was en wat deur hul gedagtes geflits het.
Ek was voor die koskas terwyl Lillie- Marie se vinger beduie na die peuselhappies wat ons daar bêre. Selfvoldaan haal ek die pakkie appelkooslekkers uit waarvoor sy so lief is en sien in my geestesoog hoe ek die lekkerny in twee gaan deel en vir haar een stuk in elke hand stop. Maar pleks van 'n dankbare glimlag kry ek 'n strak gesigsuitdrukking met ogies wat beskuldigend om die beurt na die appelkooslekkerny en dan my kyk. Die bruin kykertjies skiet skielik vol verwyt.
En toe tref die storm. Soos donderwolke van ver kom die dreunende stembande ál nader met desibelle wat jy op 'n weerkaart sal kan aandui. En ons kon dit alles vermy het as ek maar net haar gedagtes kon lees.
My vrou het my aangemoedig om 'n rits groepe op sosiale media te volg waar ouers, hoofsaaklik mammas, hul lot by mekaar bekla. Een gesprekspunt het my in die besonder geïnteresseer. 'n Mamma het gevra hoe ander mammas vandag daarin geslaag het om hulle baba se dag te bederf. Die antwoorde was tegelyk snaaks en tragies.
Een mamma het vertel dat sy bloot die verkeerde kleur drinkkoppie vir haar baba gegee en dat dit tot algehele totale histerie gelei het. 'n Ander het gedeel hoe sy haar arme baba in 'n tranedal gedompel het deur vir die kleinding 'n stuk piesang te gee pleks van 'n stuk appel - dit terwyl die betrokke baba in die eerste plek vir 'n stuk piesang gevra het. Nog 'n mamma het haar baba uit die bad getel toe die kleinding sy arms na haar uitsteek - net om te besef dat sy die gebaar óf verkeerd geïnterpreteer het, óf dat hy intussen van plan verander het. Daar was ook iemand wie se kind ontroosbaar was omdat sy nie die maan wou gaan haal nie, en 'n ander mamma het groot ongelukkigheid veroorsaak omdat sy nie die embleem op haar trui wou afhaal en vir haar kind gee nie.
Volgens my beskeie waarneming is die uitdaging met peuters tweeledig. Die eerste is dat hulle op dié ouderdom dikwels uitdruklik met hulle (gebrekkige) woordeskat en handgebare wys presies wat hulle wil hê, maar dat ons dit waarskynlik verkeerd interpreteer. Ek het al ervaar dat die woord "appel" ook kan verwys na 'n stuk pynappel, waatlemoen of skaaptjop.
'n Tweede uitdaging is dat hulle verskriklik vinnig van standpunt kan verander. Jy kan al die handgebare korrek interpreteer en die regte lekkerny uit die koskas haal, maar teen die tyd dat jy dit vir haar gee, het sy reeds iets ander gesien wat sy veel eerder wil hê. En dan die drama.
Ek wens dikwels ons het kameras oral in ons huis gehad sodat ek my gesigsuitdrukking kon sien die oomblik wanneer Lillie-Marie in trane uitbars. Ek vermoed ek lyk heeltemal oorbluf. Uit die veld geslaan. Ek is immers besig om aan my dogtertjie se behoeftes te voldoen na die beste van my vermoë en volgens haar opdragte. Haar teleurstelling, gevolg deur 'n algehele ineenstorting, kom dus van nêrens en daar is niks wat my daarop kan voorberei nie.
In die verlede het ek die aanloop tot die uitbarsting in diepte probeer ontleed - soortgelyk aan 'n dokter wat kyk wat verkeerdgeloop het tydens 'n prosedure, of 'n weermaggeneraal wat probeer vasstel waar 'n operasie misluk het.
Ek doen dit egter nie meer nie, want om 'n baba se emosies te probeer ontleed is baie meer kompleks as iets so eenvoudigs soos hartchirurgie of die inval van 'n buurland. Jy het nie te make met stelselmatige prosesse nie en dikwels ontbreek redelikheid ook.
Dus probeer ek nie meer verstaan wat tot die storm gelei het nie. Ek probeer dit wel tot die beste van my vermoë voorkom.
Terselfdertyd het ek al vrede gemaak met die feit dat dit weer gaan gebeur. Enige tyd. En soos met alle natuurrampe sal ek dit nie sien kom nie. Net onthou waar ek was die oomblik toe dit tref.

















