W anneer jy 'n kind is, dink jy nie veel oor jou herkoms - of komvandaan - nie. Jou ma is jou ma, jou pa is jou pa, en jou broers is daar vir speel en jou siel uittrek. Jou enigste job is om skool te gaan. (én Sondagskool as jy in my gesin grootgeword het.)
Hier waar ek nou skryf, sit ek in 'n huis wat my oupa gebou het. Oupa Lalie was 'n weeskind uit die Groot-Karoo. So wees dat hy nooit skoolgegaan het nie, en nie kon lees of skryf nie.
Hy kon later jare darem sy naam skryf en handtekening maak, maar nie veel verder nie. Vandag wens ek ek het meer aandagtig na my ma se stories oor oupa Lalie geluister, want ek was maar ses maande oud toe hy oorlede is.
Oupa Lalie het 'n bouer geword. Daar op Victoria-Wes. Hy het met mamma Rita getrou (wat 'n oog oor die besigheid en geldsake gehou het) en vier dogters is gebore (die oudste het tragies 'n wiegiedood gesterf).
Later jare het Oupa 'n winkel oopgemaak waar my ma en haar twee susters in die middag ná skool moes gaan till slaan. Tuis moes hulle sorg dat daar altyd genoeg steenkool vir die kolestoof is sodat Ouma kon kook.
Daai jare het mense nog middagete by die huis kom eet. In die jare vyftig was daar nie 'n bruin hoërskool op die dorp nie, en die dogters moes in die Paarl skoolgaan, en op dieselle dorp vir onderwyskollege.
Oupa het steeds huise gebou en later Kaap toe getrek omdat hier meer werk was (Ouma was toe reeds oorlede). Die drie dogters en hulle gesinne het ook (ná ander draaie) in die Kaap kom bly en werk.
Ongeveer 60 jaar gelede was Kraaifontein maar kaal en plat. In 'n doodloopstraat koop Oupa drie erwe langs mekaar: Hy wou vir elkeen van sy dogters 'n huis bou. Hy het teen daai tyd op Langebaan gebly. Met sy afsterwe was twee huise al klaar (die derde een is later gebou). Aan die ander kant van ons straat is net 'n kerk en pastorie.
Die straat loop dood teen die N1 en my broer vertel my anderdag dat voordat die heinings aangebring is, het Oupa soms sommer so uit die jaart by die N1 aangesluit!
En só het ek grootgeword: In hierdie huis tussen my ooms en tannies en niggies en neefs (altesame tien kleinkinders). Tussen drie huise - 'n ondersteuningsnetwerk soos min. As jou ma nog by die skool besig is, kon jy gou langsaan 'n broodjie eet.
My ma se middelsuster was die soort tannie wat vir elke gas 'n skinkbord met 'n melkbekertjie en suikerpot reggepak het. In die winter het sy permanent 'n kan pannekoekdeeg in die yskas reggehou.
As julle nie geel gare in die huis het nie, kan jy gou by die ander tannie (oudste) leen. Sy was van daai anties wat absoluut alles (haakspelde in elke grootte, ou Huisgenote vir skoolprojekte) in haar huis en op sy spesifieke plek gehad het. Naalde: Dáái kas, tweede laai, regs.
Deur die jare was daar vreugdes (en kruise) in elkeen van die huise, en later hartseer soos die susters en hulle gades ouer en siek begin raak het. Weggeval het.
My pa is al meer as 20 jaar gelede oorlede; my ma in 2024. Albei het hulle laaste asem in hierdie huis uitgeblaas.
As volwassene besef ek nou eers hoe sonder anker 'n mens sonder ouers kan voel. Ontheemd. Maar jy is dankbaar vir wat hulle in jou laat groei het. En bowenal is jy dankbaar vir 'n leeftyd van liefde en ondersteuning.
En nou woon (en werk) ek in die huis wat my oupa Lalie gebou het. Ek wonder soms hoekom hy besluit het om die sitkamerkaggel in die hoek te bou, want my tannie langsaan s'n sit so lekker in die middel van die vertrek dat almal 'n plekkie voor die vuur kan kry.
Nes die kaggel my aan oupa Lalie laat dink, onthou ek my pa vir die boekrak wat hy vir elke slaapkamer gebou het, en die driehoekige televisiekas in wat my ouers se slaapkamer was.
By die eetkamertafel kan ek voor my geestesoog sien hoe my ma haar skoolkinders se kindertuinboeke oortrek by my ouma se eetkamertafel (wat my ma geërf en ek sedertdien laat restoureer het).
In elke vertrek van hierdie huis het ek leer mens word; dié adres is so goed as deel van my DNS.














