RUBRIEK: Breekgoed is hougoed

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Partykeer verdwyn iets waar-aan jy oor jare lank gewoond geraak het ongesiens uit jou alledaagse bestaan.

Eers wanneer iets of iemand jou aandag daarop vestig, besef jy wat verander het, of wat weg is.

Ek is onlangs Krugerwildtuin toe. Die man agter die toonbank by die Krokodilbrughek het my Wild Card gevat en op sy rekenaar se sleutelbord begin tik.

Dié kaart is heldergroen met die woord "Wild" in 'n onpeilbare geel lettertipe daarop.

As dit nie was vir die silhoeëtte van twee kameelperde of die leeuspoor wat die kolletjie op die "i" verteenwoordig nie, sou 'n mens dink dis 'n toegangskaart vir 'n dansklub (of 'n kinderpartytjie!).

Dit was sekerlik die produk van eindelose vergaderings met duur konsultante wat aangestel is om 'n staatsdiensdepartement se beeld "cooler" te maak.

Op die man se epoulette, en op plakkate en kennisgewings teen die mure het SANParke se onmiskenbare koedoekop-embleem darem nog gerusstellend (dog oogloos) na my en my vrou gestaar.

Daardie koedoekop simboliseer alles wat ek van kleintyd af vereenselwig met vakansies op plekke soos Addo waar ek die eerste keer 'n olifant van naby beskou het, en Augrabies, waar ek my teleurstelling skaars kon wegsteek toe die waterval (in die droë seisoen) nie die bruisende watermassa was wat ek verwag het nie.

Dié keer was daar egter iets nuuts aan die koedoekop. Wát presies kon ek nie tussen inboek en Wild Card terugkry uitpluis nie.

Later sit ek op die dek van Onder-Sabie se restaurant om te kyk hoe 'n trop olifante in die rivier bad.

Terwyl ek 'n sluk vat van my Mugg & Bean-cappuccino tref dit my!

Wat het geword van Custos Naturae? Dit was destyds die leuse van dieparkeraad en my eerste kennismaking met Latyn. Dit beteken: "Bewaarders van die Natuur".

Sover ek kan vasstel, is dit steeds SANparke se leuse, maar 'n mens sien dit egter nêrens meer op die embleem of ander amptelike logo's nie.

In die verlede was dit deel van die embleem. Dit was op 'n lint onder die (ook ooglose) koedoekop met 'n skildvormige raampie.

Jy het dit oral gesien - van die besprekingsdokumente en die uniforms van die wildbewaarders (die wáre custos naturae) tot op die teëls in die ablusieblokke en op die papiertjies waarin die handsepies toegedraai was.

In die ruskampe se winkels kon die ooms groot porseleinbierbekers koop met die parkeraad se embleem daarop.

Dan het hulle dit by die huis tussen ander soortgelyke bekers, met die embleem van hulle weermageenheid of die dorp se sportklub daarop, uitgestal (nooit uit gedrink nie).

Custos Naturae het ook gepryk op die eetgerei en breekware in die ruskampe se restaurante.

Dit was in die tyd toe die parkeraad self sy eetplekke bedryf het en dit nie aan kettingrestaurante uitgekontrakteer het nie.

'n Mens het nie jou koffie uit dieselfde papierkoppies gedrink as wat jy by die Mugg & Bean in jou naaste inkopiesentrum sou kry nie.

Nee, die breekgoed was wit, swaar en op die oog af onbreekbaar.

Elke bord, koppie, piering, poedingbak en soutpotjie het 'n groen lyntjie om die kant gehad en net binne die rand of lip het die koedoe vir jou geloer.

Soms moes jy mooi kyk, want die embleem was al dof van herhaalde gebruik en keer op keer se skoonskrop daarna, maar custos naturae was alomteenwoordig.

Hierdie beheptheid met embleme op eetgerei was nie beperk tot die parkeraad nie.

Ek onthou die eerste en enigste keer wat ons met die slaaptrein van die Kaap af gery het om vir Oupa en Ouma op die plaas te gaan kuier.

Ek het lank deur die kompartement se venster gestaar, maar nie soseer na die eindelose Karoolandskap tussen De Aar en Noupoort nie.

My aandag was by die embleem van die destydse Suid-Afrikaanse Spoorweë wat op die ruit gegraveer was.

Dit was nogal 'n abstrakte affêre - 'n vloeiende pyl deur 'n sirkel - maar dit het tog op 'n manier die indruk geskep van 'n springbok wat deur 'n hoepel spring.

Iemand moes sweerlik 'n prys daarvoor gewen het by een of ander instituut vir grafiese ontwerp.

Die spoorweë se embleem was op alles wat aan hom behoort het: van die treinwaens tot die beddegoed.

Soms is dit vergesel deur die letters S.A.S. en S.A.R. bo en onder. In die eetwa was dit ook op die borde en messegoed, net soos by die stasiekafee in Kaapstad.

Iewers moes daar 'n Continental-erdewarefabriek gewees het wat jaarliks 'n groot deel van sy produksietyd aan 'n stewige staatskontrak bestee het.

Voor my geestesoog sien ek 'n raserige fabriek waar derduisende koppies, pierings, borde, melkbekers en poedingbakkies in 'n streep op 'n vervoerband verbywikkel.

Ek weet nie juis hoe dit gedoen word nie, maar iewers sal daar 'n proses of 'n masjien wees wat die wit erdeware een kant insluk en aan die ander kant uitspoeg waar dit dan sou pryk met 'n embleem en afkortings soos K.P.A./C.P.A. (Kaapse Provinsiale Administrasie), SBW/SFW (Stellenbosch Boerewynmakery) en dies meer daarop - meestal in een kleur soosgroen, maroen of blou (soms met 'n tikkie goud daarby).

Selfs in die ou Jurgens-woonwaens het die vlerkie-embleem op erdeware gepryk, voor die era van melamienborde.

Asbakke was nóg 'n gewilde item vir 'n embleem. In die dae toe niemand nog gedink het dit is ongesond om in openbare ruimtes soos treine, winkelsentrums of selfs banke te rook nie, was die teenwoordigheid van imposante asbakke amper 'nsoort maatstaf van sukses.

Enige maatskappy of instelling wat sy eie stempel op 'n porseleinasbak kon laat aanbring, het as't ware sy metaforiese stempel op die wêreld afgedruk.

Die reuk van ou sigaretrook wat aan alles gekleef het, het ek as kind vereenselwig met belangrike plekke soos die bank en die poskantoor - dit was 'namptelike reuk.

Daar was natuurlik ook die motorbandasbakke wat jy by onderdelewinkels en mechanics soos oom Ali Vorster gekry het.

Dié asbakkies was klein, ronde affêretjies van dik glas met 'n klein motorband rondom - Dunlop SP99, Goodyear of "'dem Stones".

Die porseleinasbakke was óf rond óf vierkantig met die bank, bouvereniging of motoronderdelevervaardiger se embleem in die middel, en drie of vier vlak slootjies om die kant waarin 'n brandende sigaret kon rus terwyl hy nie gerook word nie.

Soms was die embleem op 'n verhewe eilandjie in die middel sodat dit altyd sigbaar is, en nie verswelg word deur as nie.

Oom Johan, ons buurman, was bankbestuurder by Barclays Bank en het 'n vierkantige asbak, met die Barclays-arend in die middel, in sy TV-kamer gehad.

Die veelvuldige slootjies was waarskynlik bedoel sodat daar altyd minstens een binne maklike bereik kon wees of sodat drie of vier ooms gesellig saam kon sit en 'n dampie maak terwyl hulle huislenings en rentekoerse bespreek.

Selfs die universiteit waar my ma gewerk het, het sulke asbakke gehad.

Nie dat sy ooit gerook het nie, maar met teetyd het sy en haar kollegas saam gaan sit in 'n vertrek met daardie einste "amptelike reuk" en dan het hulle koffie of tee gedrink uit die einste swaar Continental-breekware met die universiteit se maroen embleem teen die kant. In die middel van die koffietafel het 'n asbak gestaan.

Dinge het weldra verander. Teekamers het plek gemaak vir personeelkombuise waar elkeen vir hom- of haarself in hulle eie beker kan gaan koffie maak wanneer hulle lus het, en die rokers is na buite verban.

Die S.A.S. het in Transnet verander (hoe minder ons oor SAL sê, hoe beter) endie Parkeraad het SANParke geword - mét die koedoekop-embleem nog steedsteenwoordig.

En, al sluk 'n mens nou jou koffie uit 'n papierkoppie, kom bad die olifante steeds in die rivier voor Onder-Sabie se uitkykdek, en die visarende roep nog net so hoendervleismooi soos altyd.

Ook die wildbewaarders - die ware Custos Naturae - bewaar en beskerm hierdie park met net soveel passie soos destyds, al is die lintjie met die leuse onder die koedoekop nou weg.

Oor één ding wonder ek egter steeds: Wat het van al daai breekgoed geword?

SPELETJIES VANDAG

CTA