Dit was 'n lang en angswekkende middag toe ek in 1983 as agtjarige gewag het dat die veiligheidspolisie my moet kom arresteer.
Dit was die dag toe Zane, my ouer broer, en my neef Glynn my uitgedaag het om vir die destydse eerste minister P.W. Botha oor die foon te vloek. Hulle het een van daai inligtingsnommers gedraai wat 'n mens gebel het om te hoor hoe laat dit is.
Ek moes dan "P.W. se m***!" oor ons ou swart telefoon sê. Ek is nie seker of ek hulle wou beïndruk en of ek op agt al verstaan het apartheid is 'n euwel nie, maar ek het die minister gevloek.
En tóé eers sê my broer dat soms kan die veiligheidspolisie 'n mens afluister en hy hoop maar hulle het my nie daai dag gehoor nie, andersins kan hulle my kom haal en toesluit...
Ek was daai hele middag bevrees dat die polisie my enige oomblik gaan kom wegvat.
Ek is vandag steeds 'n goedgelowige siel en klik soms nog op phishing emails wat ek goed weet verdag is.
My broer is sedert kinderdae 'n terggees met 'n galgehumor en dus was ek 'n perfekte slagoffer. Ek het álles geglo wat hy my wysgemaak het, net omdat hy 'n goeie ses jaar ouer is as ek.
Hy het my siel versondig - selfs geteister, as ek dramaties mag wees. Die wete dat Zane snags saam met die Smurfs in 'n rooi Ferrari rondrits wat bedags onder ons huis geparkeer word, het my vele nagte laat wakker lê.
Niks hiervan kon in die daglig gebeur nie, want niemand behalwe hy weet van die Smurfs nie, het Zane my laat glo. Niemand anders mag ook geweet het nie.
Hy het my wraggies laat glo dat as ek saans kan wakker bly, ek die Smurfs gaan ontmoet en saam in die Ferrari kan ry.
Nag ná nag het ek baie hard probeer om nié aan die slaap te raak nie...
En elke oggend was ek teleurgesteld in myself wanneer ek besef ek het wéér aan die slaap geraak en die wilde uitstappie met die blou mannetjies en die rooi kar misgeloop.
My broer sou dan net sê ek moet probeer om daai aand wéér wakker te bly...
In sub. B het ek vir juf. Richards, my klasonnie, geglo dat sy in ons oë kon sien as ons nie agtuur die vorige aand al geslaap het nie. Skoolgaande kinders moet glo vroeg gaan slaap sodat hulle beter kan leer.
Ek het elke aand vreeslik gestres as ek nog nie teen daai tyd in droomland was nie.
En op Maandagaande het ek altyd uit die gang skelm The A-Team gekyk, want ek was nog te jonk vir sekere TV-programme. Die reeks V veral het my nagmerries gegee, maar tog wou ek die aliens sien wat muise (of was dit witrotte?) sommer so heel insluk.
Dieselle juffrou het ons versoek om tuis ons Engels te oefen. Vir elke Afrikaanse woord wat jy gebruik, moet jy dan kwansuis 5c skool toe bring.
My pa het net gelag as ek vir die geld vra en gesê daai juffrou kan nie tot by ons huis sien nie.
Ek was 'n pligsgetroue leerder en het eenkeer my ouboet gevra om my met skoolwerk te help. Maar ek het gou besef hy het my doelbewus van die wal tot in die sloot gehelp deur aspris verkeerde antwoorde te gee.
én hy het baiekeer in die oggend wanneer ons ontbyt eet, moedswillig lank met my gesels dat ek soms te laat skool toe begin stap het. Ek het hom wel eenslag goed teruggekry.
Een aand het Zane gedink ek slaap reeds toe hy op sy maag tot in my kamer geseil het om my skrik te maak (dit was 'n gereelde truuk). Gelukkig was ek daai aand nog wakker en kon hom vir 'n verandering uitlag.
Ek het daai tyd baie drome oor slange en spoke gehad en ek wil nie eens weet hoe 'n droomkenner dit alles sal uitlê nie. En ek is nogal met die helm gebore, soos die oumense sê...
Maar my pa het die een keer wat ek hom in die nag geroep het om met die spook in my slaapkamer te kom help, net uit hulle kamer geskree: "Die laaste spook wat ek gesien het, se kopvel hang in my kas! Jy moet slaap!"
Die seerste leuen wat Zane my laat glo het, is dat ek aangeneem is. Ek was sowat 11 jaar oud toe hy my eendag eenkant roep en sê hy dink dis tyd dat ek die waarheid weet.
Ons ouers is lief vir my, maar hy dink nie ons ma-hulle is van plan om my die waarheid te vertel nie. En ek het die reg om te weet.
Iemand het my glo eendag op 'n baie triestige winterdag op die stoep in 'n mandjie gelos. Aangesien die gesin nie 'n dogter gehad het nie, het hulle besluit om my te hou.
Ek het 'n week lank my kussing sopnat gehuil en myself bejammer voordat ek my ma hieroor gevra het.
Ek kan nie al die drama onthou nie, maar ek is vertroos en verseker dat ek hulle bloedkind is en my broer was uitgetrap. Vandag lag almal net oor my week lange gewroeg as 'n Moses-kind.
Oor die jare heen het ek al vele artikels gelees oor 'n "middelkind" (ek het ook 'n jonger broer, Francois). Sielkundiges het ingewikkelde uitlegte oor dié kind wat glo nie 'n gemaklike plek in 'n gesin het nie.
'n Studie het al bevind dat middelkinders meer geneig is om depressief te raak wanneer hulle volwasse is.
Maar ek het nooit gevoel my ouers het my nie lief nie, ek het ook nie misken gevoel nie (buiten dalk daai week wat ek "aangeneem" was). Dalk omdat ek die enigste meisiekind is, het dit my unieke plek verseker.
Maar daar was wel die kwessie van 'n fiets. Of dan die gebrek daaraan.
My pa, Ernest, is op Kersdag 2005 oorlede en in sy siekmaande vooraf het ons baie gesels.
Ek weet nie hoe ons op die onderwerp gekom het nie, maar ek het gebieg: Ek is/was hartseer dat ek nóóit 'n fiets gekry het nie. My twee broers het wel. Nie ek of my pa kon dit verklaar nie, want ek was 'n kind wat sou vra as ek iets wou hê.
En as daar geld vir die seuns was, moes daar vir my ook gewees het. Dalk het my ouers gedink 'n meisiekind stel nie belang in fietsry nie?
Maar ek was nie 'n popspeelkind nie. Ek het touchies en straattennis gespeel. Ek weet nie eens hoe en wanneer ek geleer het om fiets te ry nie, maar dit moes op een van my broers se fietse gebeur het.
Waarskynlik in gesteelde fietsrytyd.
My broers het van tyd tot tyd nuwe wiele gekry. Eenkeer het Zane se goue Raleigh weke lank splinternuut in die motorhuis gestaan nadat hy sy arm gebreek het en nie kon ry nie.
Francois sou my soms toelaat om op sy rooi BMX te ry, maar nog nie eens twee huise ver nie en dan sê hy dis genoeg.
Ek onthou ook hoe ek eendag van daai einste BMX af geval en die stukkende pedaal my dy oopgevlek het tot daar waar 'n mens vet kan sien uitpeul. Die litteken sit vandag nog.
'n Ander keer het my pa Francois se nuwe dikwielfiets agter my oorlede ouma se hoë spieëltafel in mý kamer weggesteek tot sy verjaardag!
Ek kan nie sê dat ek innig afgeskeep gevoel het oor ek nooit 'n fiets gekry het nie, maar my pa het bittersleg gevoel toe ek hom uiteindelik daarvan vertel het.
Amper asof hy my gefaal het.
Dit was vir ons albei 'n raaisel hoekom ek nooit my eie wiele gekry het nie. Tot vandag het ek nog nie self vir my 'n fiets gekoop nie.
Dalk is dit nou tyd.














