Vandeesweek se deelnemer aan die voorkomstransformasiereeks Glam Guru hoop om 'n voorkoms te kry wat by haar beroep pas.
Adri Zevenster (42) weet sy is 'n goeie verkoopspersoon, maar het gemeen haar voorkoms kon verbeter.

Sy het baie lank twee rolle vervul - dié van ma en student.
Hoewel sy al haar eksamens geslaag het om as finansiële adviseur te werk, het haar voorkoms haar selfvertroue negatief beïnvloed.
Nadat die Glam Guru-span haar onder hande gehad het, is dit egter nie meer die geval nie.
"Die vere maak die voël," sê Hannon Bothma, aanbieder, oor Zevenster se klerekas.
Zevenster se klerekas sal voortaan bestaan uit klere wat duursaam is, maar haar steeds toeganklik laat lyk vir haar kliënte.

"Jou haarstyl is die belangrikste aspek wat jou suksesvol of onervare kan laat lyk. Adri, jy het nie net 'n meer gesofistikeerde styl nodig nie, maar ook een wat jou sal laat lyk asof jy weet wat in moderne mense se finansiële sake aangaan," het Bothma oor Zevenster se hare gesê voordat dit in 'n korter kapsel met 'n meer moderne kleur omgeskep is.
Nadat Zevenster touwys gemaak is oor velsorg is die prentjie mooi ingekleur met 'n bloedrooi lipstiffie en grimering wat Zevenster se oë ophelder.
Nou is sy gereed om met selfvertroue transaksies te beklink.
• Kyk Glam Guru Donderdae om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144). Heruitsendings is Maandae om 11:30, Dinsdae om 16:30, Woensdae om 14:00 en Vrydae om 13:00.
Wen met Hannon en Beeld
Daar is nie hierdie week 'n wenner in Beeld se Glam Guru kompetisie nie, aangesien nie een van die deelnemers verlede week se vraag reg beantwoord het nie.
Die antwoord op die vraag is Hannon se Sun kissed blusher.
Jy kan volgende week se wenner van Hannon-skoonheidsprodukte van R1 000 wees as jy hierdie week se vraag reg beantwoord.
Die vraag is: Watter sjampoe vermeerder volume, maar verminder kroes by natuurlike krulhare wat sag en fyn is?
'n Voorbeeld van 'n inskrywing is: Hannon, pienk lipstiffie, Jane Doe, Koster, JaneDoe@yahoo.com.
Die weeklikse wenner word in 'n gelukkige trekking gekies en word in Beeld bekend gemaak.















