Omgewing

Weerdiens sukkel, maar vorder ná kuberaanval

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens is stadig maar seker besig om sy dienste te herstel nadat 'n vernietigende kuberaanval sowat 'n maand gelede sy webtuiste en kommunikasiestelsels verlam het.

Die aanval het sy vermoë om noodsaaklike weer- en klimaatdienste te lewer, ernstig benadeel, het die weerdiens Sondag in 'n verklaring gesê.

Sy lugvaartwebblad kon Vrydag weer aanlyn gaan ná die ingryping van 'n span van kuberveiligheid-en-inligtingstegnologie-kundiges om die stelsels van die SAWD weer aanlyn te kry.

Ishaam Abader, uitvoerende hoof van die weerdiens, sê hulle is maar aan die begin van die herstelpad. Dit neem organisasies wat op dié vlak deur kuberkrakers aangeval word enigiets van weke tot etlike maande om hul dienste ten volle te herstel.

Die kuberaanval op die weerdiens is volgens Abader die jongste in 'n rits soortgelyke gevalle op openbare en private instellings die afgelope vyf jaar.

Die funksionaliteit van die weerdiens se produkte soos weerkaarte en inligting oor atmosferiese druk word nog getoets en sal so gou moontlik weer beskikbaar gestel word.

Sy hoofwebtuiste is weer aanlyn, maar weervoorspellings is nog nie beskikbaar nie. Ernstige weerwaarskuwings is wel reeds beskikbaar op die webblad.

Die weerdiens se internet- en e-pos-stelsel, wat afgeskakel is om die skade van die kuberaanval te beperk deur die verspreiding van die programmatuur wat die aanvaller geïnstalleer het in te perk, is ook weer herstel.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM