Kuberaanvalle wat groot hoeveelhede data, waaronder miljoene wagwoorde en e-posadresse, blootstel, wek al hoe meer kommer.
Mense kan op dienste soos Have I Been Pwned kyk of hul persoonlike inligting blootgestel is, sê Richard Ford, tegnologiehoof van die kuberveiligheidspesialis Integrity360.
Indien wel, moet wagwoorde onmiddellik verander, multifaktor-verifkasie geaktiveer en ongewone aktiwiteite op rekeninge gemonitor word.
"Dis nie produktief om paniekbevange te wees nie, maar selfvoldaanheid is gevaarlik," het Ford aan Netwerk24 gesê.
"As jy wagwoorde hergebruik het of sekuriteitswaarskuwings geïgnoreer het, is dit nou die tyd om op te tree. Proaktiewe stappe vandag kan veel ernstiger gevolge in die toekoms voorkom."
Netwerk24 het by Ford gaan kers opsteek oor wenke om jou wagwoorde te beveilig en nie vir uitvissings-e-posse te val nie.
1. Wat maak 'n wagwoord sterk en veilig?
'n Sterk wagwoord moet minstens 12 karakters lank, uniek en kompleks wees, maar nie so kompleks dat 'n mens dit aanhou vergeet nie.
Die wagwoord moet 'n mengsel van letters, syfers en simbole wees.
Die gebruik van persoonlike inligting of algemene patrone moet vermy word, aangesien 'n kuberkraker sulke wagwoorde binne sekondes met die regte gereedskap kan uitwerk.
Ford raai aan dat mense 'n betroubare wagwoordbestuurder gebruik om komplekse wagwoorde te genereer en te stoor, aangesien hulle ontwerp is menslike foute aansienlik te verminder.
2. Hoe gereeld moet wagwoorde verander word?
Wagwoorde moet slegs verander word wanneer daar 'n geldige rede is, soos as dit vermoedelik gekompromitteer is.
"Verlede jaar het die NIST (National Institute of Standards and Technology) aangeraai dat die ou reël om wagwoorde elke 90 dae te verander verouderd is en tot swakker sekuriteit kan lei as gevolg van voorspelbare patrone.
"Fokus eerder op die gebruik van sterk, unieke wagwoorde gekombineer met multifaktor-verifikasie."
3. Is dit veilig om wagwoorde oor verskeie rekeninge te hergebruik?
Nee.
Die hergebruik van wagwoorde is een van die vinnigste maniere om slagoffer te word van 'n "stuffing"-aanval, waar kuberkrakers lyste van gekompromitteerde data, wat gewoonlik uit e-posse en wagwoorde bestaan, kan gebruik om by verskeie databasisse in te kom.
"As een diens aangeval word, sal aanvallers dieselfde wagwoord op ander platforms probeer. Elke rekening moet 'n duidelike, sterk wagwoord hê wat ideaal gesproke deur 'n wagwoordbestuurder bestuur word."

4. Is tweefaktor-verifikasie so belangrik?
Dit voeg 'n kritieke verdedigingslaag by wat dit aansienlik moeiliker maak vir aanvallers om toegang te verkry, selfs al is 'n mens se wagwoord in gevaar.
"Dit is een van die eenvoudigste en doeltreffendste sekuriteitsmaatreëls wat individue en organisasies kan gebruik."
5. Hoe kan 'n mens identifiseer of 'n e-pos 'n uitvissingsaanval is?
Uitvissings-e-posse probeer dikwels óf 'n gevoel van dringendheid skep óf probeer om vertroude organisasies na te boots.
Wees op die uitkyk vir die volgende:
• Onverwagte versoeke vir persoonlike inligting;
• Onbekende e-posadresse of foute of klein veranderinge in e-posadresse;
• Dringende versoeke;
• Generiese groete;
• Verdagte skakels of hegstukke; en
• Swak spelling en/of taalgebruik.
Maak ook seker die webwerf of die naam van die maatskappy is reg gespel voordat jy op die skakel klik of op die e-pos reageer.
Ford sê mense moet uiters versigtig wees as hulle gevra word om aan te meld, wagwoorde in te voer, of iets onverwags af te laai.
"As iets ‘af' voel, is dit waarskynlik."
6. Wat is die beste manier om die egtheid van 'n e-pos te verifieer?
Moet eenvoudig nooit 'n e-pos blindelings vertrou nie.
"Gaan na die volledige e-posadres, nie net die vertoonnaam nie.
"As dit beweer dat dit van 'n organisasie is waarmee jy sake doen, kontak hulle regstreeks deur hul amptelike webwerf of kanale en nie deur enige skakels of kontakbesonderhede in die e-pos self nie."
7. Watter stappe moet jy doen as jy op 'n kwaadwillige skakel in 'n e-pos geklik het?
Sodra jy besef jy dit gedoen, moet jy jou toestel onmiddellik van die internet ontkoppel en jou IT- of sekuriteitspan in kennis stel.
"Hoe vinniger jy reageer, hoe makliker is dit om die risiko te beperk. In baie gevalle kan vroeë ingryping verdere skade voorkom."
8. Is daar apps om vals e-posse doeltreffend te filtreer?
Benewens die ingeboude uitvissings- en strooiposfilters wat reeds in die meeste e-posdienste is, kan 'n mens bykomende apps aflaai vir verdere veerkragtigheid teen e-posbedreigings.
Ford sê kunsmatige-intelligensie-gedrewe filtrering soos DMARC, SPF en DKIM is goeie opsies.





















