Tegnuus

‘Aktiewe aanvalle’ op SharePoint, waarsku Microsoft

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Microsoft het aangekondig dat daar tans “aktiewe aanvalle” op van hul SharePoint-sagteware se bedieners is.  Foto: Getty
Microsoft het aangekondig dat daar tans “aktiewe aanvalle” op van hul SharePoint-sagteware se bedieners is. Foto: Getty

Die sagtewarereus Microsoft het Maandag 'n waarskuwing uitgereik oor "aktiewe aanvalle" op bedienersagteware wat deur regeringsdepartemente en ondernemings gebruik word om dokumente binne organisasies te deel.

Die maatskappy het 'n dringende beroep gedoen op dié verbruikers om sekuriteitsopdaterings onmiddellik toe te pas om sodoende dokumente te beveilig.

"Microsoft is bewus van aktiewe aanvalle wat op plaaslike SharePoint Server-kliënte gemik is deur skuiwergate uit te buit wat gedeeltelik deur die Julie-sekuriteitsopdatering toegemaak is," lui die verklaring.

"Hierdie kwesbaarhede is net op SharePoint-bedieners wat organisasies intern van gebruik maak. SharePoint Online in Microsoft 365 word nie geraak nie."

Luidens Reuters se beriggewing het die Amerikaanse federale speurdiens (FBI) Sondag reeds gesê dat hulle van die aanvalle bewus is en saam met hul federale vennote en vennote in die private sektor daaraan werk, maar geen verdere besonderhede verskaf nie.

'n Woordvoerder van Microsoft het ook aan Reuters gesê dat hulle saam met federale en ander belangrike kuberveiligheidsvennote oor die wêreld heen werk om die probleem op te los.

In sy waarskuwing sê Microsoft dat die skuiwergat " 'n gemagtigde aanvaller toelaat om spoofing oor 'n netwerk uit te voer".

In 'n spoofing-aanval kan kuberkrakers finansiële markte of agentskappe manipuleer deur hul eie identiteit weg te steek en voor te gee dat hulle 'n vertroude persoon, organisasie of webwerf is.

Kuberkrakers maak in dié "zero-day"-aanval van "spoofing" gebruik wat hulle toelaat om hulle as vertroude entiteite voor te doen. Foto: Getty
Kuberkrakers maak in dié "zero-day"-aanval van "spoofing" gebruik wat hulle toelaat om hulle as vertroude entiteite voor te doen. Foto: Getty

Volgens The Verge het navorsers op 18 Julie vir die eerste keer die kwesbaarheid geïdentifiseer wat die kuberkrakers in staat gestel het om toegang tot sekere weergawes van SharePoint te verkry.

Daar kon hulle "sleutels" steel wat hulle in staat kon stel om gebruikers of dienste na te boots, selfs nadat die bediener af- en weer aangeskakel of opgedateer is.

Dit beteken dat bedieners wat reeds aangeval is, steeds 'n risiko vir besighede kan inhou.

Microsoft werk ook reeds aan opdaterings vir die 2016- en 2019-weergawe van SharePoint. Hulle het intussen aanbeveel dat indien kliënte nie aanbevole beskermingsprogrammatuur kan aktiveer nie, hulle hul bedieners van die internet ontkoppel totdat 'n sekuriteitsopdatering beskikbaar is.

Die "zero-day"-aanval - so genoem omdat dit 'n voorheen onbekende kwesbaarheid geteiken het - is egter slegs die jongste verleentheid vir Microsoft.

Netwerk24 het oor die naweek berig dat Microsoft ook probleme met Windows-sagteware gehad het wat veroorsaak het dat verskeie gebruikers wêreldwyd, en ook in Suid-Afrika, op 19 Julie met blou skerms gekonfronteer is.

LEES OOK | Microsoft-probleem: Grootste onderbreking nog

Microsoft het oor die naweek ook probleme Windows-sagteware gehad wat veroorsaak dat mense se rekenaars blou skerms soos dié vertoon het. Foto: Getty
Microsoft het oor die naweek ook probleme Windows-sagteware gehad wat veroorsaak dat mense se rekenaars blou skerms soos dié vertoon het. Foto: Getty

Verskeie banke, lugdienste, treindienste, televisiekanale en ander sakeondernemings oor die wêreld heen het geskarrel om een van die grootste IT-onderbrekings te hanteer wat veroorsaak is deur 'n opdatering van 'n antivirusprogram deur die kubersekerheid-sagtewarefirma Crowdstrike.

Dié probleem is wel intussen opgelos.

- karla.vandermerwe@media24.com

• Karla van der Merwe is 'n Netwerk24-beursjoernalis.

Saamgestel deur Karla van der Merwe

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM