OVK kry meer as 80 klagte en besware

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Sy MamaboloFoto: Deaan Vivier
Sy MamaboloFoto: Deaan Vivier

Meer as 80 amptelike klagte en besware is oor Maandag se plaaslike verkiesings ontvang.

Mosotho Moepya, kommissaris van die Verkiesingskommissie (OVK), het dit Woensdagaand op 'n nuuskonferensie in die nasionale uitslagsentrum in Pretoria bevestig.

Sy Mamabolo, OVK-hoofkiesbeampte, het op die nuuskonferensie net ná 20:00 ook gesê 89,8% van die stemme van Maandag se verkiesings was teen daardie tyd al getel.

Sowat 177 van die 257 munisipaliteite oor die land heen se verkiesingsuitslae was toe ook al voltooi.

In afwagting op die vraag oor wanneer presies alles afgehandel sal word, het Mamabolo gesê: "Ons sal nie gaan slaap voordat alle munisipaliteite se uitslae verklaar is nie."

Meer as 80 klagte

Moepya het in reaksie op die vraag oor hoeveel klagte en besware die OVK in totaal oor die verkiesings ontvang het, gesê meer as 80 klagte en besware oor stemdag is op nasionale vlak per e-pos en per hand ontvang. "Ons het begin om daarna te kyk en sal dit oplos."

Volgens hom verskil die manier hoe klagte en besware van plaaslike verkiesings hanteer word van dié van nasionale verkiesings. "In nasionale en provinsiale verkiesings moet ons al die besware en klagte oplos voordat die resultate verklaar word.

"In plaaslike verkiesings word daardie vereiste effens verslap. Ons kan dit later oplos en selfs die kieshof nader om die verkiesingsuitslag tersyde te stel."

Belangrike lesse

Oor die belangrikste lesse wat uit vanjaar se plaaslike verkiesings geleer is, het Mamabolo gesê: "Die belangrikste een is dat daar nooit weer probeer moet word om 'n verkiesing van dié omvang in 42 dae te organiseer nie.

"As ons enige ander verkiesingsbestuurliggaam in die wêreld kan adviseer, sal dit ons blywende advies wees om dít nooit te doen nie. Dit is gevaarlik en kan tot dispute lei wat baie moeilik kan wees om te los."

Volgens hom sal die OVK ná die verkiesings sy ontledings doen en lesse daaruit neem wat toekomstige wetgewende en beleidswysigings kan rig.

En dan was daar die kiesersbestuurtoestelle . . .

Mamabolo het die omstrede kiesersbestuurtoestelle - wat tot baie klagtes gelei het weens lang vertragings en rye by talle stemlokale - as "steunpilaar-toerusting van die verkiesings" beskryf.

"Dit het ons vermoëns gegee wat ons nie voorheen gehad het nie, soos om te kan bepaal of iemand reeds by een stemlokaal gestem het voordat hy of sy by 'n ander een opgedaag het om weer te stem. Dit het ons 'n baie fundamentele wig en teenwig, asook beheermeganisme in die verkiesingsproses, gegee.

"Dié soort toestelle is die toekoms. Ons moet net die probleme oplos, opleiding verskerp en programme op die masjien opdateer. Ons kan nie teruggaan nie. Ons moet vorentoe beweeg en verseker dat ons die doeltreffendheid van die gebruik daarvan, asook ander operasioneel-verwante kwessies, verbeter. Dit was 'n baie belangrike nasionale belegging om beheermaatreëls rondom die verkiesingsproses te versterk."

SPELETJIES VANDAG

CTA