Die DA verwerp die verhoging van 'n halwe persentasiepunt van belasting op toegevoegde waarde (BTW) tot 15,5% wat in die begroting van 12 Maart voorgestel is.
Dit beteken effektiewelik die begroting word deur die party verwerp.
Die party het op X aangekondig hy het 'n wysiging in die parlement se gesamentlike komitees oor finansies voorgelê om "die ANC se BTW-begroting" te verwerp. "Ons verbintenis om BTW-verhogings te stuit, is nou amptelik voor die finanskomitee. Suid-Afrika benodig ekonomiese groei en werkskepping, nóú; dis tyd om die vermorsing te besnoei!"
Die DA beskryf dit as 'n "belangrike stap in die stryd om arm Suid-Afrikaners te beskerm deur ekonomiese groei en werkskepping te prioritiseer".
Die komitees bespreek die begroting vir die laaste keer voordat dit Woensdag aan die hele parlement vir stemming voorgelê word. Sonder die DA se steun het die ANC ander partye buite die regering van nasionale eenheid nodig om die begroting goed te keur.
Onderhandelinge is Dinsdag tussen John Steenhuisen, DA-leier, en pres. Cyril Ramaphosa, ANC-leier, gevoer.
Maandag was daar nog hoop dat 'n ooreenkoms bereik sou word. Die DA was glo bereid om die BTW-verhoging in ruil vir ander toegewings te steun.
Die komiteesitting duur nog voort.



















