Bekgeveg oor BTW: Mashatile hou vol DA het ‘saamgestem’, DA sê hy jok

Adj.pres. Paul Mashatile Foto: GCIS
Adj.pres. Paul Mashatile Foto: GCIS

Adj.pres. Paul Mashatile hou vol die DA was ná die mislukte begrotingsdag in Februarie deel van 'n kabinetskomitee wat "saamgestem" het oor die plan om belasting op toegevoegde waarde (BTW) met 'n halwe persentasiepunt te verhoog.

Dit kom terwyl Suid-Afrika asem ophou oor die uitspraak van die hooggeregshof in Kaapstad eerskomende Dinsdag waarin die DA en die EFF die BTW-verhoging uitdaag.

Mashatile het Woensdag 'n toespraak by 'n bespreking oor die 2025-begroting gelewer wat deur die Finansiële en Fiskale Kommissie (FFK) in die Kaapse middestad aangebied is. Hy het die toespraak virtueel gelewer.

Enoch Godongwana, minister van finansies, se aanvanklike begrotingstoespraak is op 19 Februarie op die nippertjie gekanselleer toe partye in die regering van nasionale eenheid (RNE) heftig beswaar gemaak het teen 'n voorgestelde BTW-verhoging van twee persentasiepunte. Sy toespraak is - vir die eerste keer in die land se demokrasie - tot 12 Maart uitgestel.

Pres. Cyril Ramaphosa het volgens Mashatile ná die eerste kabinetsvergadering waarop besluit is om die begrotingsrede uit te stel in 'n daaropvolgende kabinetsvergadering 'n kabinetskomitee onder sy (Mashatile se) leiding aangestel. Ander lede in die komitee was Godongwana, John Steenhuisen, DA-leier en minister van landbou, Gwede Mantashe, minister van minerale en petroleumbronne, Siviwe Gwarube, minister van basiese onderwys, Barbara Creecy, minister van vervoer, en Angie Motshekga, minister van verdediging.

"Die taak van die komitee was om 'n oplossing vir die voorgestelde BTW-verhoging te vind. Die komitee het sy werk gedoen en oor die verlaagde 0,5-persentasiepunt-verhoging saamgestem."

Mashatile sê die voorwaarde was dat besteding gemonitor moes word "om verdere belastingverhogings te voorkom".

Willie Aucamp, nasionale DA-woordvoerder, sê "dit is bloot nie waar nie".

"Die DA het nooit in enige stadium die verhoging in BTW ondersteun nie. Steenhuisen het ook geensins tydens enige kabinetskomitee wat deur die adjunkpresident gelei is tot enige verhoging in BTW ingestem nie."

John Steenhuisen, DA-leier en minister van landbou, het nooit saamgestem dat BTW verhoog moet word nie, sê die DA. Foto: Gallo Images
John Steenhuisen, DA-leier en minister van landbou, het nooit saamgestem dat BTW verhoog moet word nie, sê die DA. Foto: Gallo Images

Belangrike lesse

Belangrike lesse is volgens Mashatile uit die 2025-begrotingsproses geleer, veral dat die besluitnemingsproses deursigtiger moet word.

"Ons het geleer dat die huidige begrotingsproses nie deursigtig en inklusief genoeg is nie, wat dit vir landsburgers moeilik maak om te verstaan hoe die regering die proses hanteer om sommige van die mees kritieke besluite te neem in die toewysing van hulpbronne, al is dit beperkte hulpbronne as gevolg van mededingende behoeftes."

Na sy mening is 'n deursigtige proses een wat openbare deelname, bestudering en ingeligte besluitneming toelaat, wat uiteindelik tot beter toekenning van hulpbronne en verbeterde dienslewering lei.

Mashatile sê vir die mediumtermynbegrotingsraamwerk van Oktober moet fiskale beplanning uit die staanspoor inklusief en in ooreenstemming met die regering se prioriteite wees. Hy glo die begrotingsproses moet as deel van fiskale beplanning fokus op hoe armoede, werkloosheid en ongelykheid aandag kry.

Die verhoging van BTW van 15% tot 15,5% op 1 Mei is nog onderhewig aan 'n hofspraak wat op die nippertjie verwag word. Foto: Bloomberg
Die verhoging van BTW van 15% tot 15,5% op 1 Mei is nog onderhewig aan 'n hofspraak wat op die nippertjie verwag word. Foto: Bloomberg

Koalisieregering ‘misluk weens begrotings'

As sameroeper van die nasionale dialoog oor koalisieregerings in 2023 is een van die kritieke lesse wat hy geleer het dat koalisieregerings hoofsaaklik skipbreuk ly weens meningsverskille oor begrotings óf dat dit in plek bly vanweë instemming oor die begroting.

"Ons was dus verbaas dat sommige partye in die RNE nie vir die voorgestelde 2025- fiskale raamwerk gestem het nie. Ons het dus geargumenteer dat jy nie in die regering kan wees waarin jy nie sy begroting ondersteun het nie, veral nie ná intense onderhandelinge nie," sê Mashatile.

"Wanneer ons by onderhandelinge betrokke raak, moet ons weet dit gaan daaroor om mekaar te vind, daarom soek ons 'n wen-wen-oplossing in die belang van ons land. Dit is die omgewing waarin ons funksioneer, vandaar ons huidige makro-ekonomiese en fiskale vooruitsig."

Volgens Mashatile is dit belangrik om te erken dat, in teenstelling met ander regerings in die wêreld wat weens fiskale dispute ineengestort het, Suid-Afrika die uitdagings na sy mening suksesvol bevaar het.

"Die hele begrotingsproses het onder meer beklemtoon dat ons 'n sterk demokrasie het wat doeltreffend funksioneer. Die regering bly daartoe verbind om ekonomiese groei uit te brei terwyl die lewensgehalte van alle landsburgers verbeter word."

- philda.essop@24.com

SPELETJIES VANDAG

CTA