‘Tesourie het hulp van buite nodig’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Belanghebbendes in die sakesektor meen Enoch Godongwana, minister van finansies, en die tesourie benodig hulp om staatsbesteding te hersien.  Foto: Gallo Images
Belanghebbendes in die sakesektor meen Enoch Godongwana, minister van finansies, en die tesourie benodig hulp om staatsbesteding te hersien. Foto: Gallo Images

Verskeie rolspelers in die sakesektor het Donderdag die tesourie se besluit om die BTW-koers onveranderd te hou verwelkom, maar gesê beter leierskap was nodig.

Die omstrede begroting het grotendeels in 'n politieke speelbal ontaard, met bykans elke party wat by die proses betrokke was wat nou op sy eie snytjie erkenning aandring vir die druk wat hulle teen hoër BTW uitgeoefen het.

Juis daarom meen die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) 'n aansienlike mate van onsekerheid kon vermy geword het met minder politiekery.

Beter samewerking

Outa sê hy hoop die regering van nasionale eenheid (RNE) het nou sy les geleer en dat die vennote binne die RNE 'n "groter gees van samewerking sal toon wanneer dit by ernstige ekonomiese kwessies kom, voordat dit onnodige politieke verdeeldheid en onbestendigheid vir Suid-Afrika skep".

Daardie sentiment word deur die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid (SAKKN) beaam.

"Ons onderskat nie die gekompliseerde aard van die kwessie nie," sê Alan Mukoki, uitvoerende hoof.

"Maar daar word ook nou besef dat hierdie kwessie nie meer bloot oor politieke partye of die RNE handel nie. Dit is Suid-Afrika se probleem en dit beteken alle sleutelbelanghebbendes moet meer tyd bestee aan oplossings vind eerder as om verskille uit te lig wat nie in die belang van die land is nie."

BTW-oorwinning geen oplossing vir groter kwessies

Tog bied die "BTW-oorwinning" min hoop vir die strukturele uitdagings wat steeds Suid-Afrika se reeds powere ekonomiese groei kniehalter.

"Dit los nie die groter probleem van die staat se swak finansies op nie," sê Mukoki.

"Ons sukkel steeds om 'n manier te vind om inkomste te genereer wat sal help om die staat se skulddienskoste te betaal. Die huidige stand van sake is onvolhoubaar."

Staatsbesteding, veral in gebiede wat kritici meen nie noodsaaklik is nie, bly aansienlik en die SAKKN is nie oortuig die tesourie kan 'n hersieningsproses op sy eie behartig nie.

Tesourie benodig hulp van buite

"Buitepartye met die nodige hulpbronne moet betrek word. Die tesourie het aansienlike dag-tot-dag-verantwoordelikhede en daar kan nie van die departement verwag word om sy volle aandag aan so 'n proses te skenk nie.

"So 'n proses beteken elke vlak van die staat se besteding moet hersien word. Dit moet dringend van stapel gestuur word," sê Mukoki.

Outa het ietwat meer vertroue in die tesourie se vermoë om met 'n gebalanseerde fiskale raamwerk vorendag te kom, maar sê ook die breër regering het nog met min bewyse vorendag gekom dat dit onnodige besteding kan bekamp.

- heinz.schenk@24.com

SPELETJIES VANDAG

CTA