Kragkoste veel skerper as Eskom-gemiddelde op Homeflex

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Eskom se hoofkantoor by Megawatt Park in Sandton, Gauteng. Foto: William Horne
Eskom se hoofkantoor by Megawatt Park in Sandton, Gauteng. Foto: William Horne

'n Nadere vergelyking van die Homeflex-tarief waarheen Eskom sy regstreekse huishoudelike kliënte wil skuif wat hul eie sonkrag het, kan tog tot voordeel van verbruikers wees afhangend van wanneer en hoe hulle elektrisiteit gebruik.

Maar andersins is hul kragtariefstygings veel meer as die gemiddelde van 12,74% wat Eskom beweer sy tariewe mee gaan styg van 1 April.

Selfs vir huishoudings op Homeflex wat dit kan regkry om al hul krag slegs in die standaardtariefgleuf te gebruik, kan dit neerkom op 'n verhoging in totale kragkoste van 28,3% pleks van die gemiddelde tariefverhoging van 12,74%.

Huishoudings met sonkrag kan wel aansoek doen om oortollige elektrisiteit aan die netwerk terug te verkoop, en Eskom sal hul kragrekeninge dan wat die energietarief-deel betref verminder teen dieselfde tarief as waarteen hulle krag van Eskom koop. Maar ook net totdat die energietarief-deel van die rekening tot nul verminder is. Die vastekoste- en ander netwerk- en administrasietariewe moet steeds betaal word ongeag hoeveel oortollige krag aan Eskom terugverkoop word.

As deel van sy poging om die koste vir die instandhouding van sy kragnetwerk meer billik te versprei tussen gebruikers met en sonder hul eie alternatiewe kragbronne, het Eskom 'n nuwe tariefstruktuur by die nasionale energiereguleerder goedgekeur gekry.

Die nuwe struktuur tree op 1April in werking tesame met die gemiddelde verhoging van 12,7% in kragtariewe vir mense wat Eskom-rekeninge ontvang. Dit is dus nie van toepassing op mense wat hul kragrekeninge van munisipaliteite ontvang nie. Munisipaliteite se tariefverhogings en moontlike tariefplanveranderings tree eers op 1 Julie in werking.

Wat is Homeflex?

Die Homeflex-tarief is 'n stedelike tarief vir huishoudings wat regstreeks deur Eskom bedien word. Dit is gewoonlik middelklas- tot hoërklas-woongebiede wat op die Homeflex-tarief is, anders as die Homepower-tarief wat grootliks vir armer huishoudings geld.

Eskom wil sy huishoudelike kliënte wat hul eie sonkrag het wat aan sy netwerk gekoppel is, na die Homeflex-tarief oorskuif indien hulle nog nie daarop is nie.

In die nuwe Homeflex-tarief het Eskom bykomende vaste en netwerkverwante tariewe gevoeg, maar dit is 'n kombinasie van tariewe wat per dag teen 'n vaste bedrag gehef word, en tariewe wat gehef word op grond van die hoeveelheid energie-eenhede (kilowatt-uur) wat in 'n maand verbruik word.

Die Homeflex-tarief wat tans geld, het 'n daaglikse netwerkkapasiteitstarief van R7,39, asook 'n saamgebondelde tarief van R145,35 vir 'n netwerkvraagtarief, 'n aanvullende-dienste-tarief en 'n kleinhandeltarief. (Verskillende Eskom-dokumente het egter verwarrende en teenstrydige inligting hieroor, want sekere meld die bedrag as 145,35 sent per kWh aan pleks van R145,35 per maand. Navrae hieroor is aan Eskom gestuur en reaksie word nog ingewag.) As dit 'n bedrag in rand per maand is, kom die totale vastekostetarief per maand (30 dae) tans neer op 'n bedrag van R367,05. In die nuwe Homeflex-tarief wat van 1April geld, word die daaglikse netwerkkapasiteitstarief tot R9,60 per dag verhoog. Daarby kom 'n opwekkingkapasiteitstarief van 54c per dag en 'n diens- en administrasietarief van R3,76 per dag. Al die bedrae sluit BTW in.

Dan het Eskom die netwerktariewe wat in sent-per-kWh gehef word, verdeel in 'n aanvullende-dienste-tarief van 0,47c, 'n erfenistarief van 26,2c en 'n netwerkvraagtarief van 30,33c. Vir 'n huishouding wat 500eenhede per maand gebruik, sal dit neerkom op R702 per maand, wat dus 91% meer is as die R367,05.

Met energietariewe wat skerp styg, kan die totale gemiddelde kragkoste per maand oor die loop van 'n jaar met 28,3% styg. Dit is in die hipotetiese geval waar huishoudings al hul elektrisiteit in die standaardtariefgleuwe gebruik. Dit is in die wintermaande van 08:00 tot 17:00 en weer van 20:00 tot 22:00, en in die res van die jaar tussen 06:00 en 07:00, van 09:00 tot 18:00 en weer tussen 21:00 en 22:00.

Uitdagings vir sonkrag

Die uitdaging vir Eskom-kliënte met hul eie sonkrag is dat hul eie kragopwekking uiteraard bedags plaasvind in die standaardtariefgleuf. Teen spitstyd saans sal hulle op batterykrag moet steun om die duurder spitstydtariewe te ontduik. Hulle kan dan snags ná 22:00 die batterye herlaai met die laer buitespitstyd-tariewe van Eskom, of wag tot die son opkom. Afhangend van hoeveel krag op watter tye gebruik word, die verstellings van die wisselrigters, batterykapasiteit en hoe mense se sonkragstelsels presteer, spoor Eskom se veranderde tariefstruktuur mense in effek aan om in groter batterykapasiteit te investeer sodat dit hulle verby die duur gebruikstye kan dra.

Verandering in spitstydgleuwe

In die bestaande tariefstruktuur het Eskom drie uur soggens wat in die spitstydtariefgleuf is en twee uur saans. In die nuwe tariefstruktuur is daar drie spitstyd-ure saans en twee spitstyd-ure soggens. Anders as tans waar die hele Sondag in die tariefgleuf vir buite-spitstye val - die laagste tarief - is Sondagaande voortaan van 18:00 tot 20:00 ook standaardtariefgleuwe waar elektrisiteit duurder is as in buite-spitstye.

Skerp verskille

Die energie-ontleder Chris Yelland het in 'n ontleding vir die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) bevind van die ander tariewe van Eskom toon ook wye verskille. Yelland se bevindings is deur Daily Maverick gepubliseer. Met die Homelight-tarief styg kragkoste met 18,3% vir mense wat 600kWh of minder per maand gebruik, terwyl dié wat meer as 600kWh gebruik 'n daling van 30,4% in tariewe sal ervaar. Met die Homepower-tarief wissel die energiekoste van 'n styging van 9,5% vir dié wat 600kWh of minder gebruik, tot 'n daling van 31,9% vir dié wat meer as 600kWh gebruik. Die vaste komponent by Homepower styg met 88% tot R362,70 per maand, volgens Yelland se ontleding.

• Die syfers wat in Netwerk24 se grafika en in die berig gebruik is, is bereken op grond van syfers in dokumente wat op Eskom se webblad gepubliseer is, insluitend sy jongste skedule van standaardpryse vir 2025-'26. Die berekenings is vir 'n huishouding op die Homeflex-4-tarief. Dis vir 'n enkelfase-16kVA-konneksie van 80 ampere per fase, en vir 'n huishouding wat 500 kWh per maand op die standaardtyd-tarief sou gebruik.

- francois.williams@24.com

SPELETJIES VANDAG

CTA