
Graanboerdery bly 'n belangrike pilaar van die Wes-Kaap se landbousektor en produsente moet voordurend aanpas by nuwe uitdagings en geleenthede.
Met eksterne faktore soos klimaatsomstandighede, stygende insetkostes en wisselende kommoditeitspryse moet produsente fyn beplan om volhoubaar te wees. Goeie en akkurate inligting speel 'n kardinale rol vir 'n produsent se beplanning.
Graan SA-streekvergaderings
Soos in verlede maand se Graan Jou Wel-artikel, het ek genoem dat die Graan SA se jaarlikse streekvergaderings binnekort plaasvind. Die algemene jaarvergaderings het vanjaar plaasgevind vanaf 28 tot 30 Januarie in die drie streke van die Wes-Kaap, naamlik die Swartland, Overberg en Suid-Kaap.
Tydens die drie dae was daar 286 bywoners om uit te vind wat die nuutste terugvoering is, waarmee Graan SA besig is en op fokus.
Punte wat uitgestaan het tydens die vergaderings was die volhoubaarheid en winsgewendheid van die wintergraanprodusente.
Die gemiddelde koringopbrengs vir die Wes-Kaap-provinsie is 2,88 ton/ha oor die afgelope vyf jaar. Teen 2,88 ton/ha breek 'n produsent net-net gelyk, wat nie volhoubaar is nie.
Dit is kommerwekkend dat 'n bo-gemiddelde jaar in terme van die seisoen en opbrengs benodig word vir 'n produsent om net gelyk te breek.
Dus ontstaan die vraag, wat staan produsente te doen wanneer dit net 'n gemiddelde jaar is, of erger wat van 'n onder-gemiddelde jaar? Daar moet ook in ag geneem word dat daar produsente is wat graan produseer in dele van die Wes-Kaap waar hul spesifieke vyf jaar gemiddelde opbrengs onder 2,8 ton/ha is.
Skoutyd in die Wes-Kaap
Februariemaand spog jaarliks met skouseisoen in die Suid-Kaap.
Heleen Viljoen, ekonoom by Graan SA, het as spreker tydens die Heidelberg-skou oor die winsmarges in die graanbedryf gesels. Tydens die Riversdal-skou verlede naweek het G.P. van Rheede van Oudtshoorn ons lekker laat lag en met ons meegedeel hoe om beter te kommunikeer. Die sprekers by die Swellendam-skou was JP Landman wat oor die politieke en ekonomiese landskap in 2025 gesels het, en dr. Johan van Deventer oor die bestuur vir sukses in landbou.
Graan SA-kongres
Binnekort is dit ook weer tyd vir die jaarlikse Graan SA-kongres. Dit vind vanaf 13 tot 14 Maart op Nampo Park in Bothaville plaas.
Daar sal ongeveer 40 produsente as afgevaardigdes vanuit die drie streke in die Wes-Kaap na die noorde gaan om die kongres by te woon.
Een van die hoogtepunte waarna ons Wes-Kaapse produsente altyd uitsien, is die wintergraan-wegbreeksessies. Ek bid en vertrou dat vanjaar se toer op pad na die kongres sonder enige slang-insidente sal verloop, soos verlede jaar toe die rinkhals tussen 'n produsent se bene gelê het tydens middagete.
Insetkoste
Stadig maar seker beweeg ons ook al nader aan plantseisoen in die Wes-Kaap, dit raak al hoe later lig en vroeër donker.
Aan die insetkant wys Februariemaand die volgende tendense: Ureum-, ammoniumsulfaat- en ammoniumnitraatpryse is aan die toeneem, terwyl ammoniak stabiliseer. Fosfaat bly duur weens lae beskikbaarheid.
Brandstofpryse toon gemengde tendense. Daar is effense verligting in dieselpryse met 'n daling in prystendens. Aan die chemie-kant sien ons dat China die hoofprodusent van glifosaat bly, maar langtermynuitdagings staar die onkruiddoderbedryf in die gesig.
CMV kan 'n veiliger alternatief vir paraquat wees, maar benodig verdere evaluering vir gebruik in Suid-Afrika.
Ten slotte
'n Produsent kan nie geïsoleerd op sy plaas boer nie, want hy as produsent is tog deel van die groter prentjie van landbou.
'n Produsent kan sekere faktore op sy plaas bestuur, maar as 'n individu kan hy nie veel buite sy plaashek beïnvloed nie.
Alle produsente moet deel wees van georganiseerde landbou, want dit is hul stem, en moet betrokke wees by hul landbouverenigings om saam deel te vorm van die groter (en mooie) prentjie van landbou.
Ek groet julle, en ons kuier weer 'n volgende keer saam.




















