Sedert die sukkelende tydperk wat kanola in die 1990's deurgemaak het, het hierdie gewas homself as 'n belangrike deel van ons landboubedryf gevestig.
Volgens die kanolaverwerkingsmaatskappy Southern Oil (Soill) is daar verlede jaar 288 181 ton kanola in Suid-Afrika geproduseer - selfs meer as die rekordoes van 2023 toe 240 000 ton kanolasaad opgelewer is. Dit is ook die tweede hoogste nasionale opbrengs nog.
Die oes was ook baie goed met die opbrengs van 1,94 ton/ha. In die Wes-Kaap het die Suid-Kaap en Overberg 'n baie goeie oes beleef, maar die oes was minder goed in die Swartland.
Verbetering in syfers
Soill sê dat produsente meer as twee dekades gelede veral met opbrengste gesukkel het, want in daardie jare het hulle nie eens 1,5 ton/ha gekry nie - boonop was daar baie minder hektaar kanola as nou.
In 2012 het daar 'n skuif gekom toe die opbrengste na 1,8 ton/ha gestyg het en saam met dit het die hoeveelheid kanola in Suid-Afrika van 44 000 ha na 70 000 ha gestyg.
Die opbrengste het in 2020 na 2,22 ton/ha verhoog en in 2021 het die hoeveelheid na 104 000 ha kanola in totaal geklim.
Volgens Soill kan die styging in aanplantings van kanola toegeskryf word aan onder meer die verbetering van die kanolakultivars wat beter opbrengste bied en meer bestand is teen droogtes en siektes.
Daar het ook beter boerderypraktyke plaasgevind en teen 2020 was kanola die mees winsgewende gewas van baie produsente.
Waarom boere kanola kies
Soill sê dat daar verskeie voordele daarin is om kanola aan te plant:
- Dit het goeie siektebeheer en kan meebring dat siekte verminder in die graangewasse wat daarop volg;
- Dit kan help om grasonkruide te beheer;
- Kanola se penwortels kan digte grond opbreek wat op sy beurt die grondgesondheid en waterbeweging verbeter;
- Dit kan die opbrengste verhoog van gewasse wat ná dit geplant word (soos bv. koring); en
- Die mark van kanola is onafhanklik van ander grane, soos koring of gars, en gee vir produsente 'n ander vorm van diversifikasie.
As dit kom by die winsgewendheid van kanola, is dit vinnig besig om die voortou in die resies te neem. Volgens Soill is die prys per ton vir kanola meer as dié van kanola, alhoewel die opbrengste laer is.
Toekoms van die gewas
Nes in enige ander boerderyvertakking, is boere ook al ver gevorderd met tegnologie en om die nuutste tendense te omarm.
Soill sê dat oesverliese onder meer tot 'n minimum beperk word weens die gebruik van presisieboerdery.
Verder word daar ook al hoe meer fokus geplaas daarop om die beste moontlik kultivars van kanola te teel.
Van die kenmerke waarna gekyk word, is om kultivars te teel wat 'n hoër opbrengs bied, meer droogtebestand is, 'n vinniger groeiseisoen het, verbeterde peulvastheid en meer siekteweerstandigheid bied.
Daar is volgens Soill reeds produsente wat sukses met hierdie nuwe kultivars behaal.
Hulle raai produsente aan om hierdie nuwe saad te plant, want as hulle dit terughou, kan dit hierdie hibriede eienskappe verloor.
Het jy geweet?
Die meeste kanola word in die Swartland, Overberg en Suid-Kaap in die Wes-Kaap verbou. Die rede waarom kanola so gewild in die Wes-Kaap is, is oor dit goed inpas by die bestaande kleingrane en goed werk in rotasie saam met onder meer gars en koring.



















