As 'n mens se plan A nie dadelik in plek val nie, moet 'n mens gereed wees met 'n plan B, vertel Chrizelle du Plessis (18) van die Hoërskool Linden in Johannesburg. Chrizelle het sewe onderskeidings in verlede jaar se matriekeksamen gekry wat haar nader bring aan haar droom om eendag 'n traumadokter te wees.
"Toe ek nie dadelik keuring kry om medies te studeer nie, was dit tyd vir plan B, en gelukkig hou ek van planne maak!" Dié plan was om BSc (biologie) by die Universiteit van Pretoria te studeer. Maar aan die begin van vanjaar het sy die goeie tyding gekry dat sy gekeur is om medies aan die Universiteit van die Witwatersrand te studeer.

Chrizelle wil spesifiek in die trauma-afdeling werk, want sy hou van die adrenalien wat daarmee gepaardgaan.
"Ek funksioneer goed onder druk. Ek het al 'n bietjie shadow-werk by die Netcare Olivedale-hospitaal in die trauma-afdeling gedoen en ek hou van die uitdagings wat dit bied. Dit is mense wat nóú jou hulp nodig het, en 'n mens is daar in die middel van die aksie."
Sy het reeds 'n goeie fondasie gelê deur kursusse te doen waar sy geleer het om steke en 'n binneaarse drup in te sit en het haar vlak drie in noodhulp voltooi.
" 'n Mens besluit nie oornag dat jy medies wil studeer nie en dis beslis nie vir almal nie."
Chrizelle het egter nie net medies op die brein nie, maar was in haar matriekjaar die onderhoofmeisie vir maatskaplike sorg en het ook uitgeblink in haar ander vakke. Sy vertel haar grootste prestasie van haar matriekjaar was om op die matriekprysuitdeling die trofee te ontvang as die kreatiefste leerling in Afrikaans.
"Skryfwerk is ook vir my 'n groot passie, en as ek moet kies, was Afrikaans seker my gunstelingvak. Ek het ook die trofee ontvang vir beste prestasie in Afrikaans huistaal. Dit was vir my baie spesiaal!"
Chrizelle sê haar matriekjaar het haar geleer hoe om goeie tydsbestuur toe te pas en hoe om te beplan - vaardighede wat haar in die toekoms as dokter baie goed te pas sal kom.
"Ek het geleer hoe om behoorlik te beplan, en ook dat ek werklik my krag in my geloof kry. Ek is daarin geanker en dit het my deurgedra, asook die ondersteuning van veral my ma en die res van my familie."

















