As 'n mens een woord moet kies om Jarik Engelbrecht (18) te beskryf, is dit beslis "veelsydig".
Hy het verlede jaar aan die Hoërskool Linden matriek geskryf en vyf onderskeidings behaal. Jarik is egter nie net 'n slimkop nie, maar het ook op talle ander gebiede uitgeblink. Hy is 'n kranige sportman wat sedert gr. 8 vir die skool se A-span hokkie speel, en is sedert gr. 10 in die eerste span.
"Ons het verlede jaar die D12-liga gewen en ook die Superreeks. Dit was ook die eerste keer dat ons kragte gemeet het met skole soos Jeppe op die hokkieveld."
Jarik is ook 'n 400 m-atleet wat aan verlede jaar se Interhoër deelgeneem het.
Dit is egter op kultuurgebied waar hy regtig diep spore getrap het. Dit is dus geen wonder dat hy verkies is tot onderhoofseun vir kultuur op die leerlingraad in sy matriekjaar nie.
Jarik was die kaptein van die Linden Battery, 'n sogenaamde drumline wat heerlik musiek gemaak het.
"Dit het in my gr. 8-jaar begin en in gr. 9 het ons vir die eerste keer voor die skool opgetree; dit was groot pret!"
Die Hoërskool Linden se Serenade-groep het ook uitgeblink. Jarik vertel hulle het tweede gekom in die nasionale kampioenskap en hy het buitengewone erekleure hiervoor ontvang. Hy was ook deel van die skool se heelskoolproduksie - 'n teaterproduksie waarby al die skool se leerlinge betrokke was.
"My grootste uitdaging verlede jaar was om 'n balans te handhaaf en alles te bestuur, van akademie en kultuur tot sport. My gunstelingvak was beslis siviele tegnologie - ons was 'n klein groepie in die klas en ek het die praktiese aspek baie geniet. Ons het alles van 'n beton-bankie tot blompotte in die klas gemaak."
Jarik se harde werk het nie ongesiens verbygegaan nie: "Tydens die matriekprysuitdeling is ek aangewys as die veelsydigste matriekseun, die kultuurpersoon vir gr. 12 en ek het ook die Nolene van der Merwe-trofee gewen waarvoor al 'n mens se kultuurprestasies van gr. 8 tot matriek in ag geneem word."
Jarik se rolmodel is sy ouer broer, Marig, wat in 2019 ook een van die uitstaan-matrieks van die jaar was. Marig studeer tans aan die Lincoln Memorial University in Tennessee in die VSA.
"Dit is vir my 'n inspirasie om te sien dat ten spyte van die uitdagings wat hy gehad het om in die VSA te gaan studeer, het hy positief gebly en dat hy nou daar in die vreemde floreer. Hy is 'n ongelooflike leier, hardwerkend en so gedissiplineerd."
Jarik hoop om vanjaar megatroniese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch te studeer.
"Hierdie kwalifikasie is 'n interessante kombinasie van meganiese en elektriese ingenieurswese en maak verskeie deure vir my oop."

















