Die miniatuurstad met die groot hart

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
By Madurodam kry ’n mens ’n ongewone uitsig op die huis waar Anne Frank saam met haar familie en kennisse weggekruip het tydens die Tweede Wêreldoorlog. Die geboue aan die regterkant is in werklikheid nou baie meer modern.Foto: Zigi Ekron
By Madurodam kry ’n mens ’n ongewone uitsig op die huis waar Anne Frank saam met haar familie en kennisse weggekruip het tydens die Tweede Wêreldoorlog. Die geboue aan die regterkant is in werklikheid nou baie meer modern.Foto: Zigi Ekron

In Madurodam kan jy nie net in 'n japtrap stap van die Koninklike Paleis op Amsterdam se Damplein tot by Rotterdam se hawe nie. Dit dien ook as 'n driedimensionele ensiklopedie van Nederlandse kultuur, geskiedenis en nasionale identiteit, skryf Zigi Ekron.

By die wêreldbekende Anne Frank-huis is dit ongewoon stil. Die gebruiklike samedromming van toeriste wat mekaar uit die pad skouer vir 'n foto langs die naamplaatjie op die donkergroen deur is afwesig.

Dit is 'n mooi sonskyndag en twee polisiemanne staan eenkant onder 'n boom en hou 'n wakende oog.

Net om die draai, op 'n brug oor een van die vele kanale, kniel 'n man om sy meisie te vra om met hom te trou. Die arme drommel het gister op presies dieselfde plek dieselfde gedoen met presies dieselfde meisie, maar stééds het hy geen antwoord gekry nie. Hy sal môre weer probeer.

Dis 17 minute oor drie op 'n Woensdagmiddag, maar die Domtoring se klokke beier, onophoudelik - eers die koor-gedeelte uit Beethoven se Negende Simfonie en dan 'n staccato-weergawe van "Old MacDonald".

Dis nie heeltemal so ongewoon soos dit dalk klink nie, want Malgosia Fiebig, die beiaardier (klokkespeler) van die Domtoring, is bekend daarvoor dat sy alles van Abba en Bach tot Queen en Van Halen op die 50 klokke van die eeue oue toring speel.

Om egter die toring se klokke te hoor by die huis langs die Prinsengracht waar Anne Frank en haar familie geskuil het, ís ongewoon. Trouens dis onmoontlik, want die Domtoring staan in Utrecht, ongeveer 36 km daarvandaan.

Dis ook nie Fiebig wat die klokke speel nie, maar 'n meisietjie en haar ouer susters wat die hefbome druk en trek om die laaste "E-I-E-I-O" oor die stad te laat weerklink.

Die mallemeule begin draai

Welkom in Madurodam.

Hier, in Den Haag, kan 'n mens in 'n japtrap stap van die koninklike paleis op Amsterdam se Damplein tot by Rotterdam se hawe, verby die radio-en-TV-toring in Hilversum. Van die land se kenmerkendste geboue is sorgvuldig in dié miniatuurdorp nageboots op 'n 1:25-skaal.

By die Rijksmuseum staan mense tou buite die ingangsdeur, en binne is 'n groep saamgedrom rondom Rembrandt se bekende Die Nagwag. Op die Ilse DeLange-plein staan dié Nederlandse sangeres op 'n klein podium en vermaak 'n groep aanhangers met haar kitaar. Hulle almal tel onder die 65 000 Madurodammertjies (die amptelike naam vir die klein replika-figuurtjies) wat die stad bewoon.

Die Rijksmuseum in Madurodam. Foto: Zigi Ekron
Die Rijksmuseum in Madurodam. Foto: Zigi Ekron

Wanneer jy 'n 20-sentstuk in 'n muntoutomaat gooi, kry die pretpark lewe. Die mallemeule begin draai, die stampkarretjies bots en die wipwaentjie begin stadig teen 'n steilte uit kruie voordat dit weer teen volle vaart aan die ander kant afgly. Vandag gaap 'n regte klein mensie van so drie voet hoog dit grootoog aan.

'n Miniatuurdorp in 'n agterplaas

Madurodam verskaf ongetwyfeld ure se pret vir kinders en grootmense, maar vermaak is nie die enigste dryfveer hier nie.

In die nasleep van die Tweede Wêreldoorlog, terwyl Nederland stadig weer besig was om op sy voete te kom, was Bep Boon-van der Starp, 'n welgestelde vrou van Den Haag, betrokke by 'n sanatorium vir studente met tuberkulose. Geld was skraps en sy het na maniere gesoek om die sanatorium se koffers vol te hou, vertel Robin Hanraets, Madurodam se handelsmerkbestuurder.

"Sy is begeester deur 'n kleinerige miniatuurdorp [Bekonscot] wat 'n vriend van haar in Engeland in sy agterplaas gehad het," sê hy.

Boon-van der Starp het gereken so iets sou die ideale lopende inkomstebron vir die sanatorium wees, maar kon nie die insetkoste alleen baasraak nie. Daar het sy toe by die familie van die Nederlandse oorlogsheld George Maduro aangeklop.

Die waagmoed van 'n offisier

Maduro was 'n Joodse regstudent wat hom by die Nederlandse kavallerie aangesluit het vir sy verpligte militêre opleiding in die reserwemag in die aanloop tot die Tweede Wêreldoorlog.

Gedurende die Nazi-inval in Nederland in Mei 1940 het Maduro as jong offisier uitsonderlike waagmoed aan die dag gelê toe hy 'n teenaanval gelei het om die Villa Leeuwenbergh in Den Haag terug te neem wat deur Duitse valskermsoldate beset is.

Soos die prentjie op 'n bakpoeierblikkie is Madurodam se skaalmodel van die replika van die VOC-skip 'Amsterdam', wat by die skeepvaartmuseum in Amsterdam voor anker lê. Die 'Amsterdam' is soortgelyk aan die 'Reiger', 'Drommedaris' en 'Goede Hoop' waarmee Jan van Riebeeck in die Kaap aangekom het.  Foto: Zigi Ekron
Soos die prentjie op 'n bakpoeierblikkie is Madurodam se skaalmodel van die replika van die VOC-skip 'Amsterdam', wat by die skeepvaartmuseum in Amsterdam voor anker lê. Die 'Amsterdam' is soortgelyk aan die 'Reiger', 'Drommedaris' en 'Goede Hoop' waarmee Jan van Riebeeck in die Kaap aangekom het. Foto: Zigi Ekron

Ná Nederland se oorgawe het Maduro hom by die versetbeweging aangesluit en die Geallieerde magte gehelp met inligting en ontsnaproetes vir vlieëniers. In 1943 het die Nazi's hom egter gevang en na die Dachau-konsentrasiekamp gedeporteer, waar hy in Februarie 1945 aan tuberkulose gesterf het, enkele maande voor die kamp se bevryding.

Sy treurende ouers het 'n betekenisvolle manier gesoek om hul seun se nagedagtenis te eer, en het toe 85 000 gulde geskenk om Madurodam te vestig. Koningin Juliana het die park op 2 Julie 1952 amptelik geopen.

Die Rijksmuseum en sy inbreker

Sedertdien het die park gegroei en nuwe, moderner geboue bygekry, soos die Schiphol-lughawe, waar vliegtuie van KLM en Korean Air kort-kort op die aanloopbaan "taxi" terwyl hulle gereedmaak vir 'n volgende vlug.

'n 1:25-skaalmodel van die Koninklike Paleis op Damplein, Amsterdam, in Madurodam. Op die agtergrond is die Nieuwe Kerk, net soos in die werklikheid.  Foto: Zigi Ekron
'n 1:25-skaalmodel van die Koninklike Paleis op Damplein, Amsterdam, in Madurodam. Op die agtergrond is die Nieuwe Kerk, net soos in die werklikheid. Foto: Zigi Ekron

Daar is 'n klein komitee wat moet besluit oor die toevoeging van 'n nuwe gebou of aktiwiteit, sê Hanraets. "Die belangrikste oorweging is of dit iets ikonies aan Nederland is. Is dit 'n stukkie van ons geskiedenis of ons kultuur? Is dit iets waarop ons trots is en wat ervaar of vertel moet word?"

Die daaglikse bedrywighede van Madurodam vereis noukeurige aandag aan die fynste besonderhede. 'n Span vakmanne onderhou en werk voortdurend die miniatuur-geboue by om historiese akkuraatheid te verseker en te sorg dat niks letterlik of figuurlik ontspoor nie, sê Hanraets.

'n Outydse trem rammel verby een van die geboue in Madurodam.  Foto: Zigi Ekron
'n Outydse trem rammel verby een van die geboue in Madurodam. Foto: Zigi Ekron

Die modelle word ook nie in 'n ommesientjie gebou nie. Om die indrukwekkende model van die Rijksmuseum te voltooi, kompleet met 'n inbrekertjie wat aan die buitekant klouter om van die kunsskatte te steel, het ongeveer 4 100 uur geneem. Sommige modelle bevat ook bewegende dele, beligting en klankeffekte. Daarom het die park 'n groep gespesialiseerde modelmakers in diens wat heeljaar in toegewyde werkswinkels werk.

"Baie van die bouers en vakmanne is al donkiejare hier. Hulle werk bykans hul ganse lewe al hier. Dis wonderlik om te sien. Hierdie mense is van die beste . . . durf ek sê . . . in die wêreld. Daar kom gereeld mense van ander parke hierheen om te kyk hoe dit gedoen word," sê Hanraets.

'n Opvoedkundige ritueel

"Die park vorder tot vandag toe nog geld in vir jong mense," sê hy. "Aangesien tuberkulose nou al dekades lank nie meer algemeen [in Europa] voorkom nie, het dit verander in die Madurodam-kinderfonds."

Om die geld hiervoor te laat inrol, moes Madurodam oor die jare sy aanbod uitbrei om besoekers te trakteer op meer as net skaalmodelle, en ook interaktiewe ervarings skep om besoekers meer van Nederland se geskiedenis te leer.

"Dis bittersoet," vertel Hanraets, "want ons het gevind mense is nie meer so gretig om net na die modelle te kom kyk nie. Dit betower hulle steeds wanneer hulle hier is, maar dit trek nie meer die groot skares soos wat 'n mens sou wou hoop nie."

'n Groter blik op Madurodam.  Foto: Zigi Ekron
'n Groter blik op Madurodam. Foto: Zigi Ekron

Vir geslagte Nederlanders is 'n besoek aan Madurodam ook 'n opvoedkundige ritueel van hul kinderdae. Dit bied 'n tasbare oorsig van hul land se geografie, argitektuur en infrastruktuur.

"Ek sou reken 90% van Nederlanders ken die park. As jy hulle egter vra wat kan jy daar sien en wanneer laas hulle daar was, is die antwoorde meestal: ‘Dis die plek met die klein geboutjies waarheen ek as kind gegaan het,' " sê Hanraets.

'n Driedimensionele ensiklopedie

Madurodam gee ook 'n blik op veranderende Nederlandse waardes. Onlangse toevoegings tot die park beklemtoon omgewingsvolhoubaarheid, tegnologiese innovasie en multikulturele invloede - wat die evolusie van die Nederlandse samelewing self weerspieël. Die park handhaaf 'n delikate balans tussen nostalgie vir tradisionele elemente van Nederlandse kultuur en hedendaagse uitdagings en werklikhede.

Die Gulliver-kunswerk van die Nederlandse beeldhoudster Louk van Meurs-Mauser is heel gepas buite Madurodam, want hier voel 'n mens inderdaad soos die reisiger in Lilliput.  Foto: Zigi Ekron
Die Gulliver-kunswerk van die Nederlandse beeldhoudster Louk van Meurs-Mauser is heel gepas buite Madurodam, want hier voel 'n mens inderdaad soos die reisiger in Lilliput. Foto: Zigi Ekron

Die park se kulturele waarde strek ver verby sy rol as 'n toeristeaantreklikheid. Dit dien as 'n driedimensionele ensiklopedie van Nederlandse kultuur, geskiedenis en nasionale identiteit. Daarbenewens speel Madurodam 'n belangrike rol om jong mense bloot te stel aan die konsepte van burgerskap en nasionale identiteit, sê Hanraets.

Vermaak, opvoeding en diensbaarheid

Die mees voor die hand liggende voorbeeld hiervan is die "burgemeester en stadsraad".

Hanraets meen Madurodam is immers 'n miniatuurstad en elke stad het mos 'n burgemeester nodig. Daarom is daar 'n leiergroep met nege of 10 leerlinge wat uit verskillende skole in Den Haag gekies word om 'n jaar as die burgemeester en raadslede van Madurodam te dien. "Hulle ontvang nie vergoeding nie, maar dit is 'n groot eer met redelike aansien. Ons sit hulle ook regtig aan die werk," sê Hanraets.

"Ons vra hulle om aan uitdagings te dink wat hulle kan aanpak. Dit moet alles op die kinderfonds gemik wees, met ander woorde om altyd kinders en jong mense te help; om hulle te leer hoe om te groei, om hulle te leer hoe om goeie burgers te word."

Oor van die Amsterdamse geboue hier wapper die stad se kenmerkende swart-rooi-en-wit vlag met die drie X'e in die middel wat heldhaftigheid, vasberadenheid en barmhartigheid verteenwoordig. Dit is eienskappe wat 'n mens aan Bep Boon-van der Starp en George Maduro ook kan toedig, maar in Madurodam kan dit net sowel simbolies wees van vermaak, opvoeding en diensbaarheid.

Hoe dit ook mag wees, 'n mens sal ver moet soek vir 'n joliger oorlogsmonument as Madurodam.

• Ekron is Netwerk24 se nuusredakteur in Kaapstad en tans die inwonende joernalis by Zuid-Afrikahuis in Amsterdam. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

SPELETJIES VANDAG

CTA