Gesoek: Een vette Amsterdammer

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Amsterdam wemel van die fietsryers, en dis nie die kleefbroek-en-kopdop-brigade nie. Minirompe en snyerspakke deug hier as fietsrydrag, skryf Zigi Ekron.

Amsterdam is 'n stad met honderde of dalk duisende koffiewinkels waar die geurige aroma van donker geroosterde koffiebone moet tweede viool speel vir die daggawalms wat dreig om enige verdwaalde verbyganger verder rigtingbeduiweld te maak.

Dit is ook 'n stad waar slaptjips (friet), stroopwafels, oliebolle en ander fyngebak van elke denkbare beskrywing skynbaar die grondslag lê vir die res van die voedselpiramide. Hoër op in dié hiërargie lê dinge soos pannekoek, broodjies met dik snye kaas en ook rou, gesoute haring. Alles word natuurlik afgesluk met liters en liters bier in elke denkbare skakering van goud en oker.

Haring is blykbaar 'n gesonde bron van proteïen en ook ryk aan noodsaaklike vitamiene en vetsure, maar die res is op die oog af 'n resep vir erge gesondheidskwale.

As 'n mens makaber wil wees, kan jy redeneer jy kan dag of nag op straat 'n hartaanval in die geur van jou keuse, met of sonder sjokoladesprinkels, bestel.

Tog, as jy eenkant gaan sit met jou olierige waspapiersakkie vol lekkerte, val een ding 'n mens op: Waar is al die vet mense dan?

Fietse en viets

Oorgewig, mollig, rond en gesond, geset, en dik is nie woorde wat van toepassing is op die deursnee-Amsterdammer nie. Lank en lenig is beslis eerder aan die orde van die dag. (Die Nederlanders het in die afgelope 200 jaar die langste nasie op aarde geword, maar dis 'n storie vir 'n ander dag.)

Nog woorde wat hier heel toepaslik is, is "fiets" en "viets" - "viets" in sy vorm as byvoeglike naamwoord om die lyflike te beskryf en "fiets" as selfstandige naamwoord as die rede vir daardie einste slankheid.

Die Georgies-Britse sangeres Katie Melua het ons in 2005 met haar trefferliedjie wysgemaak daar is "Nine Million Bicycles in Beijing", maar Amsterdam staan alom bekend as die fietshoofstad van die wêreld.

Die Urban Land Institute (ULI), 'n internasionale organisasie sonder winsbejag wat volhoubare, gesonde en veerkragtige gemeenskappe ten doel het, het bevind Amsterdam het inderwaarheid meer fietse as inwoners. Luidens 'n studie wat in 2017 gepubliseer is, was daar op daardie tydstip nagenoeg 881 000 fietse teenoor 835 000 mense.

Dit is weliswaar nie naastenby 9 miljoen nie, maar 'n mens hoef net een straatblok ver te stap om te besef Amsterdam behoort aan die fietsers. Hier is fietsry nie 'n naweektydverdryf nie, maar 'n flink en doeltreffende vervoermiddel vir ieder en elk. Trouens, luidens die einste studie van die ULI ry nagenoeg 58% van Amsterdammers daagliks fiets.

Oud en jonk, man en vrou snel op twee wiele verby. Ma's en pa's neem hul spruite skool toe en huis toe aan in pasgemaakte "bakfietse", wat herinner aan 'n hipermoderne kruiwa wat die voorwiel vervang. Afleweraars karwei alles van kos, pos en papawers tot boumateriaal in kratte van 'n soortgelyke fatsoen terwyl studente en sakelui met boeksakke en skootrekenaars op die rug verby woerts.

Trap hom, pappie! Foto: Zigi Ekron
Trap hom, pappie! Foto: Zigi Ekron

Dit is ook nie die kleefbroek-en-kopdop-brigade nie. Enigiets van minirompe tot snyerspakke deug hier as fietsrydrag, en van pletterpette is daar geen sprake nie.

Met spitstyd vloei strome fietsryers deur die stad se strate en skep selfs 'n "fietsverkeersknoop".

Die ongeduldige ge-tieng-tieng van 'n fietsklokkie is morsekode vir: "Gee pad voor, ploert, ek ry hier!" Vir 'n siniese Suid-Afrikaner is dit moeilik om nie onwillekeurig die vergelyking te tref met die endemiese wit taxi's van Mzansi nie.

Soos die storie oor die Hollandse seuntjie wat sy dorp van 'n vloed gered het toe hy sy vinger in die keerwal gedruk het, is Amsterdam dalk alleen verantwoordelik om die wêreld se fietsklokkiebedryf van ineenstorting te red. Foto's: Zigi Ekron
Soos die storie oor die Hollandse seuntjie wat sy dorp van 'n vloed gered het toe hy sy vinger in die keerwal gedruk het, is Amsterdam dalk alleen verantwoordelik om die wêreld se fietsklokkiebedryf van ineenstorting te red. Foto's: Zigi Ekron

Fietsryers is bepaald boaan die vervoerketting en geniet 'n mate van ongeskrewe ryvoorrang.

Terry Pratchett, Britse skrywer van fantasieverhale, het dit só verwoord: "My ervaring in Amsterdam is dat fietsryers ry waar de hel hulle wil en in 'n toestand van woede op alle voetgangers afstuur terwyl hulle hul klokkie hard lui. Die gedagte om mense te vermy is vir hulle volksvreemd."

'n Keerpunt

Dit beteken egter nie dis 'n lukrake of ongereguleerde spulletjie nie en Amsterdam se voorliefde vir fietse is nie toevallig nie. In die middel van die 20ste eeu het Amsterdam ook toenemend motorverkeer en die gepaardgaande opeenhopings, besoedeling, en verkeersongelukke beleef. Die keerpunt het in die 1970's gekom met drukgroepe soos "Stop de Kindermoord", wat betoog het teen die toenemende getal kinders wat in verkeersongelukke gesterf het.

Dit, tesame met die oliekrisis van 1973 wat brandstofpryse skerp laat styg het, het die regering laat herbesin oor stedelike beplanning. Fietsry en openbare vervoer is vooropgestel en toegang vir private motors tot die stadskern is beperk om meer ruimte te skep vir infrastruktuur vir fietse. Die stad se relatief plat topografie en kompakte grootte het hierdie oorgang verder vergemaklik.

Keizersgracht buite Zuid-Afrikahuis is geen uitsondering op die nimmereindigende fietsverkeer in Amsterdam nie. Foto: Zigi Ekron
Keizersgracht buite Zuid-Afrikahuis is geen uitsondering op die nimmereindigende fietsverkeer in Amsterdam nie. Foto: Zigi Ekron

Strate is herontwerp met afsonderlike fietsbane, maatreëls is ingestel om verkeersdruk te verlig, en parkeergeriewe vir fietse is uitgebrei. Vandag kan Amsterdam hom roem op 767 km (477 myl) se toegewyde fietspaaie en fietsbane wat fietsryers in staat stel om veilig en doeltreffend deur die hele stad te reis. Oral in die stad staan ook sowat 200 000 fietsrakke, waarvan nagenoeg 10 000 net rondom die sentrale stasie, volgens die ULI.

Eet jou slaptjips

Die fietsryery is egter meer as net 'n verkeersoplossing. Drie navorsers aan die Universiteit van Utrecht se departement menslike geografie en ruimtelike beplanning het in 2015 'n studie gedoen om die gesondheidsvoordele daarvan te kwantifiseer. In die voortspruitende artikel, wat in die American Journal of Public Health gepubliseer is, het hulle bevind Nederlandse volwassenes tussen die ouderdom van 20 en 90 jaar ry gemiddeld 74 minute per week fiets. (In die studie is ook bevind Nederlanders tussen 65 en 70 jaar ry ná aftrede gemiddeld 94 minute per week fiets, meer as enige ander ouderdomsgroep.)

Waar anders sal polisiebeamptes op fietse motoriste kan voorkeer en boetes uitskryf? Ja, die stad is vol van soortgelyke koddige klein tweesitplek- elektriese motortjies wat ook die padwette moet gehoorsaam. Foto: Zigi Ekron
Waar anders sal polisiebeamptes op fietse motoriste kan voorkeer en boetes uitskryf? Ja, die stad is vol van soortgelyke koddige klein tweesitplek- elektriese motortjies wat ook die padwette moet gehoorsaam. Foto: Zigi Ekron

'n Maatstaf van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) raam 'n persoon se sterfterisiko verminder met 10% as hy of sy 100 minute per week fietsry (of stap). Dieselfde meganisme ken ook 'n monetêre waarde van R57,5 miljoen (€2,8 miljoen) toe aan 'n statistiese sterfte wat verhoed word.

Utrecht se navorsers het verder bereken die fietsrygewoonte red meer as 6 500 Nederlandse lewens per jaar. 'n Boeresom bring die totale ekonomiese gesondheidsvoordele van fietsry te staan op R390,5 miljard (€19 miljard) per jaar. Dit is vergelykbaar met sowat 3% van die land se bruto binnelandse produk.

Om die fietsrykultuur van Nederland as oplossing voor te hou vir alles wat fout is met die vervoerstelsels van Suid-Afrika se stede, en Kaapstad in besonder, is moeilik en waarskynlik onregverdig, maar dit gee wel goeie stof tot nadenke oor wat gedoen kan word, solank die wil en wilskrag daar is.

Soos oom Chris Blignaut gesing het: "Wanneer jou rydae verby is, gaan jou ou lyf lekker rus..." Hierdie fiets is nou sommer straatkuns. Foto: Zigi Ekron
Soos oom Chris Blignaut gesing het: "Wanneer jou rydae verby is, gaan jou ou lyf lekker rus..." Hierdie fiets is nou sommer straatkuns. Foto: Zigi Ekron

Dit gee ook hoop dat 'n mens maar nog slaptjips en krokette kan bestel, mits jy jou soos 'n Amsterdammer gedra.

• Ekron is Netwerk24 se nuusredakteur in Kaapstad en is tans die inwonende joernalis by Zuid-Afrikahuis in Amsterdam.

SPELETJIES VANDAG

CTA