Twee jaar gelede het hulle hier aangekom. Uit die bloute neergedaal, letterlik.
Soos twee moeë engele het hulle in die voortuin neergestryk, tussen die gesiggies in. Eers met die een oog en toe met 'n ander vir mekaar gekyk.
Hulle vaal ou vlerke gedweë agter hulle rûe ingevou en oor die sekelsnawels om hulle rondgekyk - na die gesiggies en viooltjies uitbundig in die bedding en die tollende bondels bloureën wat oor die veranda by die voordeur rank.
Hul plat, plegtige gevrete was vol moeë meerwaardigheid vir al dié vals ligsinnigheid. Toe word daar skouers opgehaal en begin met werk.
Die lang, krom snawels wat eers delikaat, en dan met meer drif en selfs innige venyn die klam grond binneklief en begeesterd daar in die donker digtheid rondwroet. En klokslag pluk hulle die een of ander bleekverblufte ongewerwelde daar uit sy grot en sluk hom in.
Ek het in my kantoor gesit en toekyk, onbehaagd. Gaan weg, was my outomatiese reaksie, vervelige ou raasbekke. Ongeskikte tjortsers. Ek het opgestaan om hulle te gaan verwilder toe ek sien hoe die een ou skepsel met sy onbeholpe sekelsnoet oorleun en sy maat liefderik agter die oor streel.
Toe gaan sit ek weer, my hart skielik onseker. Dat so 'n algemeen verfoeide dier nou ook verlief kan wees …
En asof die gevoelige radar in hul snawels my eerdere vyandigheid kon lees, het hulle skielik opgevlieg en met 'n helse herrie die blou lug in verdwyn.
En nét daar het hulle my weer verloor. Met daardie afgryslike lawaai.
Vir wat sing hulle nie, soos dit behoorlike voëls betaam, het ek nukkerig gewonder?
Voëls, vertel Antoinette Pienaar, daardie über-liewe wysaard van die Groot Karoo, is die enigste diere wat singend wakker word. Buiten vir die hadida, wil ek aspris dan byvoeg. Dié gee so 'n primordiale gil wat teruggryp na die tydperk van die groot reptiele.
Ek sou ook nie feitelik verkeerd wees nie, want voëls is volgens die wetenskap mos lewende fossiele, enigste oorblywende familie van Tyrannosourus rex en ander vreeslike gebroedsels uit dié tyd.
Sindsdien het die meeste van hulle darem gekalmeer, hulself herskep in klein, sjarmante en melodieuse pierewaaiers. Buiten die hadidas dan, wat steeds soos satanskjenners jil.
Einste satanskjenners wat die volgende dag terug was tussen my gesiggies.
Met 'n onheilige lawaai kom sit, die vaalbruin vlerke godvrugtig agter die rug ingeskud en beginte werk.
Maar pleks van hamer in die sagte grond, sien ek die oukêrel maak stokkies en fyn grassies bymekaar. En tussendeur loop hy haar kort-kort by en liefkoos haar met sy onwennige ou snater. Sodra sy hopie groot genoeg is, vertrek hy, los haar daar om lekker rustig voort te wei.
Die nes, sien ek, is in die buurman se akkerboom, en dis nie lank nie, of die miesies sit pal daar en loer skugter oor haar onhebbelike drupneus af na die straat se kom en gaan.
Op 'n dag sien ek daar's drie van hulle tussen die gesiggies. Die twee ouers werk soos esels, stap soos kommandante heen en weer tussen die plante, hande agter die rug. Dit pik en gra' en boor van vroeg tot laat, soos outomate.
Die kleintjie drentel langpoot agterna. Hy bedel knaend, krr-krr, sy snaweltjie nog heeltemal te klein en onbekwaam vir wurms pluk. G'n wonder die ouerpaar lyk immer moeg nie.
Voor ek my kom kry, raas ek met die hond as sy vir hulle blaf. Snags, wanneer ek wakker lê, hoor ek as hulle met 'n uitroep wakker skrik. Sou dit 'n slegte droom wees, wie weet tog watse traumas hadidas beleef. Of is hulle maar gewoonweg slegte slapers, soos soveel ander onder ons.
Bedags weer is hulle tjoepstil skadu's wat die tuin bewerk en wanneer die son 'n vlerk vang, sien ek 'n skugter flikkering van pers- en koperbronse wat oor hul sye opstaan. Ek verkyk my aan die arrige ou snawels, ai mens, so lelik soos dit is, so teer en sagkens kan dit 'n ander troetel.
My nuutgevonde toegeneentheid vir die voëls verras my. Want so lank ek lewe, êrre ek my al aan dié luidrugtige voëls, vlieënde vuvuzelas wat hulle is. Tog, hulle is so eg Mzanzi soos boerewors en tjakalaka, taxi's en pantsula, deel van die klankbaan van ons land, die lelik-mooi van ons lewens hier.
En noudat ek hul stiller, sawwe kante ken, die lieftallige gekoer met nesmaaktyd, die skreeulelike kuikens wat so grootgetroetel word, die soentjies met die gebreklike ou bekke, verstaan ek dit. Ook waarom ek in hierdie land geanker bly. Elders sal ek die hadidas mis.


















