Een van die vreemdste dinge wat ek onlangs moes doen, was om in die Sederberge saam met 'n groep vreemdelinge na 'n rosyntjie te probeer luister. En dit in absolute stilte.
Maar hier sit ek op 'n betaalde stilteverblyf (oftewel retraite) diép in die berge, rigting Tankwa-Karoo, en ek doen maar skaapagtig mee.
Dis vier dae van volslae stilte, ver buite foon-, Wi-Fi- of selfs posduifbereik. Alle afleidingsmateriaal soos boeke, fone of breiwerk moet jy ingee. En jy praat nie, selfs nie met 'n handgebaar of wenkbrouwikkel nie.
Jy sonder jou af, ook binne die groep. Jou mond op slot. Soos nou, met die rosyn.
Ons sit aan die etenstafel en wag op ons eerste maaltyd saam. Elkeen kry 'n rosyn wat jy deeglik moet bekyk en beruik en tussen jou vingers moet rol en fyn beluister.
Daarna byt jy 'n stukkie af wat jy stadig toe-oog kou tot jy, van songedroogde soet deurspoel, uiteindelik sluk.
Aanvanklik voel dit vreemd en ongemaklik en herinner dit my aan 4'33", 'n beroemde komposisie deur die Amerikaanse komponis John Cage.
Dit bestaan uit vier minute en drie-en-dertig sekondes stilte. Gehore reageer meestal ongemaklik. Mense kug en vroetel en kyk rond en sug dankbaar as dit oplaas verby is en die volgende item kan begin.
Hier op ons retraite moet ons juis leer om tuis te raak binne die ongemak van die vakuum. Ons eet in afgemete stilte, sit rond en drink ons tee heel stadig en ons mediteer.
En dan weer gaan ons in stille gang op kilometer lange wandeltogte, nóg dieper die berge in. Soms koes ons by 'n grot in waar delikate Boesmantekeninge in die binneskemer glim en ons blik soos 'n gewyde seëngebed groet, 'n stil benediksie vanuit die mistieke oertyd.
Saans is die naghemel helder soos kristal waardeur die Melkweg glansend duisel. Ons kyk deur reuse-teleskope boontoe, sien supernovas en rooi dwerge, die Metusalem-ster, oud soos die heelal self.
En ek voel stomgeslaan en klein hier onder die tollende ewigheid.
Namate die stilte inbloei in die tyd blom my sintuie oop vir alles wat om en binne-in my aangaan. Ek hoor die geruis van vlermuis-vlerke in die donker, beleef my eie hart se klop.
Ons groepie stiltesoekers is uiteenlopend - van 'n oorwerkte jong bankier uit Nederland tot 'n afgematte staatsamptenaar uit Pretoria. En ek, 'n skrywer wat na nuwe horisonne soek.
Ons "juffrou" is 'n neuroloog iewers uit die Nordiese lande met so 'n liewe skuinslê-aksent. Sy praat oor stilte en neurogenese - die vorming van nuwe breinselle in die hippokampus, waar ons geheue en ander kognitiewe leerfunksies woon.
Drie dae van stilte, vertel sy liefderik, bou nuwe senuweebane in jou brein vir beter helderheid en fokus, meer vlugheid van begrip. En bring emosionele rus.
Ons lewe in die era van die masjien, van oorstimulasie en lawaai van by die 80 desibel sterk (iewers tussen 'n grassnyer en 'n wasmasjien). Of dit nou verkeer, jou oorfone of jou koffie-winkelkantoor is, jou wêreld raas.
Maar evolusionêr is ons gehoor eintlik op oorlewing ingestem (die veraf tromgeroffel van 'n vyand of 'n dier se grom), op veg of vlug.
Tog vrees ons die stilte, het ons dit verleer.
'n Stil huis, bieg 'n vriendin, dít maak haar doodsbenoud en die Groot-Karoo se rondomstilte besorg haar angsaanvalle.
Ek begryp haar so 'n bietjie, hier in die weidse bergwildernis waar ek self maar skrikkerig wil wegdeins voor die niks. Wil opspring en weghardloop, soos uit 'n 4'33"-konsert.
Tog bly ek sit. Want die stilte doen sy ding. Dit draai die spieël om en ek kyk na binne toe. En duik onder die harde karapakse van my uiterlikhede in tot waar die sawwe weekdier van my kern skuil.
Ek vergeet van simpel goed soos politiek of die dak wat lek, want van binne-uit loop ek weer vol van die dinge wat my blymaak - my kosbaarste herinneringe, my naby mense, dit wat my ryker maak, betekenis gee.
Wanneer ek oplaas die tweespoorpaadjie terugvat huis toe, voel ek 'n effens ander mens. Meer vredig, dalk, my harde doppe bietjie sagter.
Iewers in 'n hempsak krap ek 'n halfgeëete rosyntjie uit wat ek plesierig in my mond steek en dan rustig kou. Vier minute lank. En drie-en-dertig luierende sekondes by - tot ek opnuut deurspoel word van 'n soet versadiging.
















