Ek het 'n swak vir rommelwinkels en loop baie moeilik verby. Al my lewe lank.
Soms sal ek ure vertoef, iets optel en neersit en wonder. Iets soos 'n skewe ou geelkoper-blompotjie
wat ek op 'n stowwerige rak tussen ou ketels en stukkende broodroosters raakloop, sien ek klaar met 'n lief bossie sewejaartjies daarin op 'n sonnige vensterbank iewers in my huis.
Ek koop nie altyd nie, dis nie waaroor dit gaan nie.
Dis die ontdekkingstog, die bietjie rondskoffel sonder doel, maar met die vae opwinding van 'n onverwagse skat in my agterkop. Of sommer net die raaksien van 'n goetertjie wat my aan my jeug herinner, of iets oervreemds wat my laat lag (onlangs 'n reuseborduurwerk van Nicholas Cage se gesig).
Dikwels is dit iets wat my verbeelding op loop sit. Soos 'n effens voos ou skip in 'n bottel, die seile pap en toue gebreek.
En ek wonder oor die ou wat dit aanvanklik gebou het, die afgeknypte ure in sy garage onder 'n buislig terwyl hy na Elvis op sy draaitafel luister. Die sorgvuldige meet en pas en sny en plak en verf. Die toewyding, konsentrasie, die trots.
Nou sit dit eerloos hier, op 'n rak tussen porseleinhondjies uit China.
Van jongs af het ek dikwels so in pandjieswinkels en liefdadigheidswinkels rondgestaan. En soms iets "kosbaars" gekoop - daardie Franse ontwerpersjas met 'n pelshals uit die vroeë jare vyftig vir twintig rand.
Die jas was eens geliefd, want hy's goed opgepas en ek dra hom vandag nog.
Toe ek onlangs deur 'n kusdorpie is, het ek by 'n winkel met die mooi naam Baai-gones stilgehou. En onverwags op 'n klein tafeltjie afgekom - net-net kniehoogte en met interessante pootjies.
Die idee was om hom 'n lawwe kleur te verf vir die uitstal van 'n moderne beeldhouwerk.
Maar toe ek mooi kyk, sien ek dis nie sommerso se tafel nie.
Dis 'n stamboomtafel. Antiek. Hy hoort eintlik nie hier tussen die rommel nie.
Ja, verduidelik die winkeleienaar, die tafeltjie wás op pad stortingsterrein toe. Hy was deel van 'n oorlede tante se huiskaboedel en die familie wou dit haastig uitruim en die huis verkoop. Maar iemand het darem die tafeltjie gered.
En nou staan hy by my. Want hy is fraai. En geliefd. En hy herinner my aan iemand uit my verre kindertyd wat nét so 'n tafeltjie gehad het.
Eintlik geen gewone tafel nie, maar 'n "musical jewellery box" op pootjies. Pragtig versier met delikate inlegwerk. En as jy die blad oplig, speel hy 'n deuntjie.
Ek was baie klein, destyds, en onthou baie min, buiten dat die ou dame Joods was. En bitter arm. En eensaam, vandaar my ma se gereelde besoeke. Die tafeltjie was haar trots. Vir my het sy altyd 'n koekie as verrassing daarin gehou.
Sê nou maar dit is dieselfde tafeltjie, wonder ek. Sê nou maar daar is 'n onsigbare sirkel uit my jeug wat my teruglei na hierdie tafeltjie, wat my toelaat om die liewe koekiegebaar te herhaal.
Wie weet waar dit begin het? Dalk toe die tante self klein was, met 'n Joodse ouma iewers in Europa, voor die oorlog?
Nou staan hy hier. En kan ék weer 'n koekie in hom sit om 'n kinnertjie mee te verras, nuwe sirkels bou. En as ék dan nou moet ashoop toe … wie weet? Dalk het die tafeltjie weer 'n volgende lewe by iemand anders.
En juis daarin lê die bekoring van rommelwinkels vir my.
Dis nie net die potensiële vondste en winskopies wat my soort persoonlikheid aantrek nie, dis die interessante goeters met hulle stories daar - van gifgasmaskers deur tot by pornografiese teeblikke.
Daardie Franse jas behoort nie aan my nie. Nog minder die tafeltjie. Ek behoort tydelik aan hom. Ek is beperk, word stof. Hy vergaar dit, hoogstens. Maar gaan dalk weer aan, vergeet my naam.
Dis 'n driedimensionele tafereel van tegelyk die sublieme en sotlike waarmee die mens vorendag kan kom.
'n Soort stoflike ensiklopedie van ons drama en ellende. Vat nou maar die oorlogsmedaljes waarby ek soms lank stilstaan - die bloed en vrees en verskrikking wat die medalje voorafgegaan het, die vergetelheid wat dit hier laat beland het.
En dan besef ek opnuut dat ek dikwels verkeerdom dink oor die lewe.
Daardie Franse jas behoort nie aan my nie. Nog minder die tafeltjie. Ek behoort tydelik aan hom. Ek is beperk, word stof. Hy vergaar dit, hoogstens. Maar gaan dalk weer aan, vergeet my naam.
En dis oukei, want ek kan droom. Namens my en hom. En so betekenis vind. En gee.
Want dís waaroor dit eintlik gaan, dan nie? In die groter geheel van dinge.

















