Op die grondvloer van Media24 se gebou in Randburg tref jy vir Leonie Klootwyk aan, die bibliotekaresse wat op haar stil manier help bou aan 'n onskatbare nalatenskap. Johanna van Eeden het by haar ingeloer.
Daar is baie mense wat onsigbaar agter die skerms werk om te sorg dat lesers die volgende dag 'n koerant in hul hande kan vashou. Dit is mense wie se name - bylines - soos selfs in die Afrikaanse mediabedryf daarna verwys word - nooit by 'n berig of 'n foto verskyn nie. Hulle het onvervangbare institusionele geheue. En dis hulle wat die olie is wat die ratte van 'n koerantmasjien soos Beeld glad laat loop.

Leonie Klootwyk is so 'n mens.
Ons gesels die oggend ná die aand toe die Blitsbokke Frankryk met 26-14 afgeransel het in die eindstryd van die Kaapstad-sewestoernooi. Seker daarom dat die spotprent van die vasberade Springbokkie en die beneukte hoenderhaan die oog vang. Maar dan tref die datum en die naam van die spotprentkunstenaar jou: 27 Oktober 1968. T.O. Honiball.
Nuus, vertel Klootwyk, volg siklusse. "Ons kla vandag steeds oor goed wat mense jare terug oor gekla het. Rentekoerse en kragprobleme. En ek het anderdag uit die veertigs, vyftigs gelees oor genadedood."
Klootwyk (52) is Beeld se bibliotekaresse - 'n eenvrou-kragtoer wat in die biblioteek op die grondverdieping van Media24 se gebou in Randburg elke dag se koerant argiveer, altyd byderhand is om kollegas by te staan met inligting en tussendeur lede van die publiek en instansies met navrae help. Soms is dit oor 'n foto wat verlede week verskyn het, ander keer oor 'n berig wat donkiejare gelede gepubliseer is.
Haar werksetiek is onberispelik. Pols jy haar daaroor, kom die antwoord dadelik: "Dit kom van my ouers af. Ons almal is so."
Synde sy en haar twee susters, Nicolien en Maryke. Pa Pieter Arrie was 'n ketelmaker en ma Magda 'n huisvrou. Dis hulle wat haar geleer het "jy doen jou werk tot die beste van jou vermoë".
'n Mens sou seker ook kon aanvoer dat 'n goeie skeut Nederlandsheid iets daarmee te doene het. Want haar pa was nog op laerskool toe hy ná die Tweede Wêreldoorlog saam met oupa Leenert en ouma Dirkje van Nederland na Suid-Afrika gekom het.
Soos 'n eend uit die water
Klootwyk het in Bellville in die Kaap grootgeword en was in die Laerskool Bellville en die Tygerberg Handelskool. Ná skool het sy by Die Burger se advertensieafdeling begin werk as 'n kopiehoudster. Dis 'n pos wat vandag nie meer bestaan nie. Maar verandering, kom jy vinnig agter, is nie iets wat Klootwyk afskrik nie.
'n Kopiehoudster, vertel sy, was iemand wat seker gemaak het die taalgebruik in advertensies was reg. Toe dié afdeling in 1992-'93 herstruktureer, stel iemand voor sy doen om 'n pos by Die Burger se biblioteek aansoek. Daar het sy in November 1993 ingeval.

"Die Burger het 'n ongelooflike argief gehad. Ek onthou hoe skrikkerig ek aan die begin was, soos 'n eend wat uit die water is. Maar ek het wonderlike mense gehad wat my geleer het."
Onder die bibliotekarisse in die Kaap was iemand wat vir Beeld verantwoordelik was. Dié kry toe ander werk, en Klootwyk word gevra "om Beeld te doen".
Wat beteken dit?
"Ons het elke artikel wat in Beeld verskyn het, op 'n elektroniese stelsel geargiveer. Maar net die teks, nie foto's daarby nie. Dis die teksweergawe van die argief," verduidelik sy. Foto's is eers van ongeveer 1999 elektronies geargiveer.
Rondom 2003 is Klootwyk gevra of sy by die biblioteek in Johannesburg wil aansluit. By haar aankoms in die Goudstad was daar vyf ander bibliotekarisse - een vir City Press en vier vir Rapport. Van die ses van hulle is net sy vandag oor. Maar dit was so amper-amper of sy het vanjaar ook in die slag gebly.
"Dit wás amper. Ek het 'n 189 gekry," vertel sy, met verwysing na die artikel in die arbeidswet wat ingespan word in 'n herstruktureringsproses.
"Dit was senutergend . . . daar is baie gekonsulteer."
Maar dis metadata waarmee Klootwyk haar nie nou bemoei nie. Sy kyk vorentoe.
"Henriëtte het gesê die biblioteek is belángrik," benadruk sy, met verwysing na Henriëtte Loubser, hoofredakteur van Netwerk24.
‘Ek begin op bladsy een'
Klootwyk sit op 'n houtstoeltjie, een van daardie wat ook as trapleertjie in 'n biblioteek kan dien. In die lug hang die onmiskenbare reuk van koerantpapier.
"Alles hier het waarde," beduie sy met haar hand. Hier is eksemplare uit die 1950's van een van Rapport se voorlopers, Die Landstem. Hier is knipsels, mikrofilm, foto-negatiewe, spotprente, 'n kaartkatalogus en rak ná rak vol eksemplare van Beeld in dieprooi gebind.
"Ons hou letterlik alles," vertel sy. "Ek is juis nou besig om iemand te help met navorsing oor bomontploffings uit die tagtigs. Van die goed is nie elektronies beskikbaar nie."
Die grootste verandering wat sy oor die jare in haar werkomgewing gesien het, was die oorgang na die elektroniese argief en die oorskakeling na Eidos, die bedryfstelsel wat Media24 se koerantegebruik. Dis met die hulp van dié stelsel dat sy Beeld daagliks elektronies argiveer en City Press en Rapport weekliks.

Hoe doen sy dit met Beeld?
"Ek begin op bladsy een."
Elke berig wat in die koerant verskyn het, gaan soek sy op Eidos, en dan werk sy die metadata by met kernwoorde en soekwoorde "om dit so maklik as moontlik vir enigiemand te maak om iets op die argief te vind".
Dis ook vir haar wonderlik dat dit deesdae moontlik is om "binne sekondes" vir iemand 'n .pdf-weergawe van 'n koerantbladsy te kan stuur. Dis soveel makliker as om dit in te skandeer, hoewel sy steeds baie van die ouer inligting uit koerante skandeer en aanstuur.
En, verklap sy, net soos enige koerantleser is daar ook dele in Beeld waarvan sy meer hou as ander. "My gunsteling is die SMS'e! Veral as mense mekaar aanvat oor sport, die Bokke en Trump. Mense kan hulself so opwerk."
Sy hou van Joe Kleynhans se maandelikse opsomming van onderwerpe waaroor lesers in die briewe en SMS'e geskryf het. En sy lees graag Deon Bekker se SMS'e.
"En ek hou van sport, so ek hou daarvan om die sportblaaie te lees."
‘My pa was 'n moordenaar'
Benewens joernaliste wat aanklop om hulp, soek TV-produksiemaatskappye dikwels ou knipsels wat hulle in programme gebruik. "Hulle wil weet hoe dit op die bladsy gelyk het," verduidelik sy.
Sy help navorsers met inligting, soek onderwerpe vir skooltake en debatskompetisies op en help skrywers met hul boeke. Sy is juis sedert die begin van die jaar besig om iemand in Portugal by te staan wat 'n boek oor rugby skryf en inligting vanaf 1928 soek.
"Soms is daar 'n navraag van 'n gewone leser wat self in die koerant was en nou die knipsel soek. Onlangs was daar iemand wat in 1988 'n kogleêre inplanting gehad het wat gevra het vir 'n afskrif van die berig en foto wat daaroor verskyn het."
Soms kom daar vreemde versoeke oor haar tafel, soos: "My pa was 'n moordenaar. Kan ek alles kry wat oor hom geskryf is?"
Klootwyk meen mense soek dié soort inligting "omdat families dinge terughou . . . en mense wil vir hulself uitwerk wat is die waarheid".
Elke dag hou iets anders in. Iemand wat aan 'n tesis werk oor kerkliedere het onlangs inligting gesoek.
Die vreemdste versoek nog?

"Anderdag het iemand gevra hulle soek 'n artikel oor 'n koedoe wat deur 'n huis gehardloop het. Dit klink soos 'n grap, maar dit het régtig gebeur. In Pretoria."
Klootwyk het 'n leeueaandeel in die navorsing wat gedoen is vir die gedenkboek Beeld 50: Om 'n groot storie hard te slaan. "Dit was baie lekker. Dit was my tweede of derde boek. Ek het ook al gewerk aan boeke vir City Press en Rapport. Maar ek voel baie deel van hierdie boek, omdat Erika (de Beer, die samesteller) my so baie betrek het."
In die proses om terug te loop op Beeld se spore het sy berigte uit Die Burger ontdek wat op mikrofilm bewaar word waarin daar omvattend geskryf is oor die ontstaan en beplanning van die nuwe koerant in die noorde.
‘Ons is nog hier'
Wanneer Beeld op 20 Desember vir die laaste keer in papierformaat verskyn, sal sy soos ander lesers nie meer soggens deur die koerant kan blaai nie. Maar dit beteken net die fokus van haar werk skuif nóg meer digitaal. Alles op Netwerk24 moet steeds geargiveer word.
Eintlik droom sy van één elektroniese argief waar al Media24 se inhoud op jou vingerpunte beskikbaar is. "Alles op één plek," sê sy. En herhaal daarmee die slagspreuk van Netwerk24, waar Beeld voortaan digitaal gaan leef.
Ondanks die verandering bly haar benadering tot haar werk dieselfde - om inhoud so goed moontlik deur soekwoorde te argiveer sodat dit so maklik en vinnig as moontlik beskikbaar is.
En, benadruk sy, die publiek moet weet die biblioteek is steeds tot hul beskikking. "Hulle kan ons kontak met navrae of 'n afspraak maak en hierheen kom." Of dit nou vir navorsing vir jou doktorsgraad is, "of al is dit oor iets wat net vir jou persoonlike betekenis het . . . Ons het hierdie ongelóóflike argief . . . Ons is nog hier."
Voor ons groet, vra ek of daar iets is wat mense moet weet wat ek nie gevra het nie.
"Sê dankie aan al die ander mense voor my wat die biblioteek oor die jare opgebou het."
'n Hoekie wat jou beter laat voel
Die biblioteek is 'n ruim vertrek met groot vensters en staalkabinette vol kosbare skatte. Buite druis Randburg se verkeer. Binne speel Klootwyk musiek, maar so sag dat jy dit skaars hoor.

In 'n donker stoorkamer, weg van die sonlig wat dit kan beskadig, word die kosbaarste van kosbaarhede bewaar. In 'n hoek is 'n werkstasie vir besoekers ingerig waar mense hul navorsing kan doen.
Skuins agter Klootwyk se lessenaar is 'n paar knipsels teen 'n muur vasgeplak. Nie koerantberigte nie - slagspreuke of sêgoed wat jou eintlik alles vertel van hierdie vrou.
"Dis my feel good corner," lag sy. "I am in charge of how I feel and today I choose happiness," lui een.
"Falling down is part of life. Getting back up is living," lui 'n ander.
En onder 'n opskrif in hoofletters wat lui KARMA: "Think good thoughts, say nice things, do good for others. Everything comes back".
Dis 'n altaartjie wat jou perspektief gee in 'n gebou wat nou al ses maande lank kort-kort opwel met hartseer oor die afskeid wat kom.
Gunstelinge
Fliek: "As ek wil ontspan, kyk ek graag na aksieflieks."
Boek: "Ek hou van Patricia Cornwell se Kay Scarpetta-reeks, wat handel oor 'n vrou wat in 'n lykshuis werk en dan die FBI help om moorde op te los."
Stokperdjie: "Ek hou daarvan om te gaan stap en ek ry bergfiets. Solank ek iets kan doen wat in die buitelug is, is ek gelukkig."
Kos: "Niks is so lekker soos skaapboud, gebraaide aartappels en groente nie. En 'n lekker malvapoeding daarby!"
Drankie: Seattle Café se latte.
Motto: "Elke nuwe uitdaging bied 'n nuwe geleentheid. Ek dink dit is nogal van pas met waar ons onsself op die oomblik bevind."
• Van Eeden is Netwerk24 se Stemme-redakteur.


















