“Elke hond kry sy dag.” “Die wiel sal draai.” “Party mense dink mos hulle is te goed om te val.”
Hoekom is dit vir sommiges lekker om sulke dinge te sê as bekendes ondergaan? Is dit een of ander versteekte vorm van jaloesie? Laat dit hulle beter voel oor hulself?
Ek weet nie, maar dalk is dit ’n meer algemene menslike probleem as wat ons besef. Sommiges meen niemand mag dit maklik hê as hulle dit self moeilik gehad het nie. As dinge te maklik in ander se skoot beland, skep sommiges ’n behae in hul ondergang.
Hoe anders behoort dit nie te wees tussen ons navolgers van Christus nie. Ons uitgangspunt moet altyd andersom wees: Ek het dit moeilik gehad, daarom gaan jy dit makliker hê.
Hier help ek om jou laste te dra sodat jy makliker deur die lewe kan gaan. Hier is ek saam met jou bly as jy suksesvol is in alles wat jy aanpak. Hier help ek om jou wonde te verbind as jy die dag struikel en val. Hier bid ek gedurig vir jou. Hier dien ek jou om God se doel met jou lewe te bereik. Hier dank ek God graag vir jou.
Uit die Woord
Lag en vier fees saam met elkeen wat bly is. Huil saam met elkeen wat hartseer is. Leef in harmonie met mekaar. Moenie baklei nie. Moenie beter as ander mense probeer wees nie. Maak vriende met mense wat nie te veel van hulleself dink nie. Onthou: Julle beskik nie oor al die kennis en wysheid in die wêreld nie. Wees nederig. – Romeine 12:15-16 (Die Boodskap)





















