Stephan Joubert: Is daar lewe anderkant rugby?

Bly stil
Trend artwork sketch image composite photo collage of young man stand keep balance arrow hand hold speech textbox cloud copybook page Bly stil (Deagreez/Illustrasie: Getty Images)

“Is rugby al wat saak maak?” vra ’n onbekende half ergerlik toe ek by hulle verbystap. Ek het nie die res van hierdie gesprek gehoor nie, maar ek het gedink dis ’n goeie vraag.

Nou ja, rugby is wat rugby is. Dis groot. Dis deel van Suid-Afrika. Dis hoekom ons orals in rugby-gesprekke vasloop. Wen die regte span, weerklink lofgesange. Verloor hulle, is die einde van die beskawing op hande. Dan is dit sinistere skeidsregters wat geheime agendas teen ons het. Of vrot spelers en afrigters se skuld.

Sulke ongeraffineerde reaksies is deesdae aan die orde van die dag oor alles in die lewe. Ons almal reageer soms oorhaastig op dinge wat rondom ons gebeur. Of ons dit wil weet of nie, ons almal is slagoffers van sosiale media en kunsmatige intelligensie. Dit is opgestel om goor emosies soos woede te gebruik as hefbome om ons tot vinnige emosionele reaksies te dwing.

Daarom is Spreuke se tydlose waarheid steeds in 2026 onontbeerlik. Ek praat van daardie waarheid dat ons moet leer om ons mond te hou. Wysheid is om partykeer (meestal?) stil te bly. Ons hoef regtig nie betrokke te raak in elke mondgeveg en gesprek wat rondom ons woed nie. Dit geld ook van die res van die lewe wat darem nog oorgebly het anderkant rugby.

Uit die Woord

Wyse mense loop nie te koop met hulle kennis nie; as ’n dwaas sy mond oopmaak, is sy ondergang naby.

Met baie praat bly die sonde nie uit nie; wie sy woorde tel, is verstandig. – Spreuke 10:14 en 19

SPELETJIES VANDAG

CTA