Nostalgie is eie aan menswees. Nostalgie is om met heimwee aan die goeie ou dae terug te dink.
Volgens Gerben Westerhof, ’n Nederlandse navorser, gryp ouer mense graag terug na die verlede. Hier aan die begin van die nuwe jaar doen jonger mense dit ook. Om dit reg te doen is om nie in die verlede leef nie, maar wel daaruit. Dan is die verlede ’n goeie anker vir hier en nou.
Op geloofsgebied is sulke ankers wat ons met God se handelinge in die geskiedenis verbind baie nodig. Dis juis wat Samuel in 1 Samuel 7 doen wanneer hy ’n gedenkklip oprig ná ’n oorwinning oor die Filistyne. Hy noem hierdie klip Ebenhaeser. Dit beteken letterlik “Klip van Hulp”. Samuel verduidelik die betekenis van hierdie naam met die volgende woorde: “Tot op hierdie punt het die Here ons gehelp.”
Ebenhaeser herinner ons om terug te kyk na die Here se dag-tot-dag-nabyheid in die verlede. Tot hier toe was God getrou. Tot nou toe was Hy altyd op sy pos. Dit sal môre en oormôre ook die geval wees. God is altyd dieselfde. Sy karakter verander nooit nie. Hy is wie Hy is. Gister, vandag en tot in ewigheid is Hy die Here.
Daarom kan ons as gelowiges 2026 met geloofsmoed binnestap omdat ons bely: “Tot hiertoe het die Here ons gehelp.”
Uit die Woord
En mag ons Here Jesus Christus self, en God, ons Vader, wat ons liefhet en uit genade aan ons blywende bemoediging en goeie hoop gee, julle harte bemoedig, en vir elke goeie daad en woord versterk. – 2 Thessalonisense 2:16-17





















