Makarios is 'n bekende Griekse woord. Ons kan dit vertaal met verskillende terme soos geseënd, bevoorreg, gelukkig of salig. In Matteus 5 tref ons nege saligsprekinge van Jesus aan wat telkens met makarios begin.
Wanneer Jesus mense tot makarios of geseënd in God se oë verklaar, verwys Hy nie na rykes, gesondes, sosiaal bevoorregtes, vernames of suksesvolles nie. Volgens Jesus is mense wat makarios of geseënd is diegene wat volledig van God afhanklik is, asook treurendes, sagmoediges, vredemakers, vervolgdes, diegene wat goed doen, diegene wat honger en dors na wat reg is, diegene met rein harte en diegene wat oorloop van medelye.
Jesus maak God se seën nooit afhanklik van mense se uiterlike suksesse of prestasies nie. Hy beskou diegene wat dikwels deur die wêreld misgekyk word as gelukkig en bevoorreg. God sien graag mense raak met 'n hart wat liefde in alle rigtings uitlek. Sulke mense moet ons rolmodelle wees. Net soos in hul binneste, moet Jesus se hart van omgee in ons binneste klop, daardie hart wat Hom al die pad na Golgota toe laat stap het. Dan beskou Hy ons as bevoorreg en gelukkig in God se oë.
Uit die Woord
Wees almal eensgesind, medelydend, liefdevol, goedhartig, nederig. Moenie kwaad met kwaad vergeld of belediging met belediging nie. Inteendeel, antwoord met 'n seënwens, want daartoe is julle geroep, sodat julle die seën van God kan verkry. - 1 Petrus 3:8-9





















