Kampbestemming: Salig in die KZN Middelland

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Nyalazi. Foto: Leon Botha
Nyalazi. Foto: Leon Botha

Kampplekke in KwaZulu-Natal is oor die algemeen óf kus- óf bergoorde. Gautengers stroom in die somer soontoe, maar ook in die winter kry 'n mens nêrens in die land 'n heerliker klimaat as hier nie.

Dan is daar nog die Drakensberg se bekoring waar jy neffens die Lesotho-grens in van die mooiste landskappe in Suid-Afrika jou tentpenne kan inkap.

'n Mens kan nóg 'n groepie uitsonder: Die deel tussen die Middelland en die eSwatini-grens spog met 'n klompie kampplekke waar 'n mens behoorlik kan ontspan.

Ons het in die verlede by van dié oorde ingeloer en heerlik gekamp by plekke soos die warmbronne van Natalspa en Thangami.

Maar nou kyk ons effens wyer en gaan maak 'n draai by twee gawe kampplekke waar ons nog nie vantevore was nie.

Die kampplek by Bivanedam buite Vryheid, en Nyalazi, langs die Hluhluwe-iMfolozipark, is uiteenlopend wat betref karakter en atmosfeer.

Die een ding wat hulle egter in gemeen het, is die feit dat ons beslis sal terugkom om weer hier te kamp.

Die kampplek langs die water van die Bivanedam verdien lof vir sy geriewe, hoe sake vlot en die algehele toestand van die plek.

By Nyalazi word jy bederf met van die beste diens in die land terwyl jy boonop die Groot Vyf as bure het as jy jou wa hier afhaak.

BIVANEDAM

Die binnelandse see

Bivanedam. Foto: Leon Botha
Bivanedam. Foto: Leon Botha

'n Kampplek langs die water is omtrent sinoniem met hengel, en Bivanedam is geen uitsondering nie. Maar hier gaan dit nie nét oor visvang nie; die kampplek is goed ingerig en bied iets vir almal.

Bivanedam. Foto: Leon Botha
Bivanedam. Foto: Leon Botha

As jy nie opgewonde raak oor aas in die water nie, bring jou voëlboek en verkyker saam, of sit net agteroor in jou kampstoel langs die braaivuur óf nooi sommer net 'n klompie kampvriende saam vir 'n heerlike kuier.

Bivanedam. Foto: Leon Botha
Bivanedam. Foto: Leon Botha

Selfs al kamp jy met 'n gewone padwa, hoef jy jou nie te bekommer oor die stuk grondpad tot hier nie. (Toemaar, ek verstaan - ek hoor tot in die Kaap hoe brom my pa in Noordwes as hy grondpad sien met hulle Gypsey Royale op die haak. - Red.)

Water is van groot belang by Bivanedam se kampplek. Foto: Leon Botha
Water is van groot belang by Bivanedam se kampplek. Foto: Leon Botha

Net anderkant Vryheid klim jy van die teer af. Dis 'n goeie grondpad met hier en daar 'n klipperige deel, maar jy en jou wa sal heel anderkant uitkom.

Die volgende afdraai, 12,1km van die teer af, is by Bivanedam se hek. 'n Kennis­gewingbord maak dit duidelik geen dagbesoekers word toegelaat nie en toegang is slegs vir mense wat verblyf gereël het.

As jy wil weet hoe dit regtig by 'n kampplek lyk, maak buite seisoen 'n draai. Ons was diep in die winter by Bivanedam, en as 'n mens na die natuur om jou kyk, het die winter se byt reeds ingesink. Nietemin was die kampplek aan die kant en die bome vol blare. Foto: Leon Botha
As jy wil weet hoe dit regtig by 'n kampplek lyk, maak buite seisoen 'n draai. Ons was diep in die winter by Bivanedam, en as 'n mens na die natuur om jou kyk, het die winter se byt reeds ingesink. Nietemin was die kampplek aan die kant en die bome vol blare. Foto: Leon Botha

Bivanedam is in private besit, en boaan die vrywaringsvorm wat jy moet teken, staan die naam Impala-watergebruikersvereniging.

Die sekerheidswag by die hek gee vir jou 'n strokie waarmee jy by die kantoor moet aanmeld, en wanneer jy vertrek, handig jy weer 'n strokie in wat jy by die kantoor gekry het. (Die hek is die enigste toegang tot die kampplek en oop van 06:00 tot 18:00.)

Dis nie net hengelplek nie; hier  is ook swembaddens waarin jy kan ronddryf. Die diep een is langs die dam en die vlakker een vir die jonges op die voorstoep van die kantoor. Foto: Leon Botha
Dis nie net hengelplek nie; hier is ook swembaddens waarin jy kan ronddryf. Die diep een is langs die dam en die vlakker een vir die jonges op die voorstoep van die kantoor. Foto: Leon Botha

Van hier af is dit nog 6,9km grondpad, een wat in 'n selfs beter toestand is as die een tot by die hek. Jy vorder oor die rante met die mooiste landskap om jou, totdat jy uiteindelik afsak tot by die dam.

Jy weet jy is naby wanneer jy 'n dubbele waarskuwingsteken links van die pad sien.

Foto: Leon Botha
Foto: Leon Botha

Dit wys vragmotors moet oorskakel na die laagste rat en ligte voertuie moet regmaak vir 'n steil afdraande.

Bivanedam. Foto: Leon Botha
Bivanedam. Foto: Leon Botha

Die kampplek is teen die dam uitgelê. Regs van jou loop die water tot by die damwal en links om die draai is die kantoor.

By die vurk in die pad is 'n bronsplaat agter glas, as't ware die dam se hoeksteen met die vier lede van die "Damkomitee" daarop afgeëts. Die dam is in 2001 voltooi ná bouwerk van vyf jaar.

Om by die kantoor uit te kom moet jy net verby die vurk skerp links hou. Jy sien die gebou omtrent dadelik, maar moenie met jou sleepkombinasie intrek nie, want dis 'n doodloopsteeg.

Trek eerder regs af, voor die skerp draai, om by die kantoormense te hoor waar jy kan opslaan - 'n staanplek word aan jou toegeken wanneer jy bespreek.

Die gebou lyk soos 'n spoggerige klubhuis by 'n gholfbaan.

Bivanedam. Foto: Leon Botha
Bivanedam. Foto: Leon Botha

Die eerste deel langs jou het 'n skansmuur met 'n klipafwerking waarop vier stortkoppe gemonteer is. Hier kan 'n mens vinnig kom afspoel. Die ingang na die badkamers is agter dit.

Die onderste deel van die hoofgebou is soos 'n oop stoep met die kantoor links, die winkel regs en 'n netjiese sitkamer met 'n TV agter 'n latteskans voor jou.

Die boonste verdieping is 'n speletjieskamer met 'n tafeltennisblad en pool-tafel - en 'n uitsig oor die kampplek en die water. Jy betaal 'n R200-deposito by die winkel vir pool en R50 vir die tafeltennis.

Bivanedam. Foto: Leon Botha
Bivanedam. Foto: Leon Botha

Die badkamers kan jy deur 'n ring trek. Die versonke wasbakke is al teen die muur af soos jy inloop met genoeg neersitplek langsaan.

Jy sal nie by elke wasbak kan staan en skeer nie, want daar is net een spieël en hy is voor die laaste twee wasbakke. As jy jou tande by die middelste wasbakke staan en borsel, kyk jy deur die vensters uit oor die kampplek.

Die storthokkies het 'n handdoekreling en 'n bankie met 'n stortgordyn. Die stortkop is teen die kant van die hokkie, wat beteken die water spuit nie teen die stort­gordyn nie.

Die opwasplek is op die verste punt van die kantoor af en hier staan ook 'n wasmasjien en tuimeldroër.

Die gebruik van die wasmasjien is gratis, maar vir die tuimeldroër moet jy by die winkel ruilmunte ter waarde van R35 koop.

Die winkel verkoop basiese dinge soos seep, insekweerder, skottelgoedwasseep, mayon­naise, rys en tamatiesous, en natuurlik ook hout en houtskool. Hulle het ook bevrore braaipakke en wit- en bruinbrood - en jy kan met 'n kaart betaal.

Bivanedam. Foto: Leon Botha
Bivanedam. Foto: Leon Botha

Die beste staanplekke is die agt wat aan die water grens, maar niks skort met die paar staanplekke in die middel tussen die kantoor en die water nie.

Van die kantoor af is daar 'n effense helling, maar die oppervlak is meestal gelyk en jy kry die meeste van die tyd jou staan op gras.

Jy kan beslis reken op koelte, ongeag die seisoen. Ons het in die winter 'n draai gemaak en het geen kaal bome gesien nie. Op al die staanplekke kan jy dus staatmaak op beskutting teen die son.

Elke staanplek het 'n klipbraaiplek met 'n rooster en 'n kraan met gruisklippies onder om 'n modderspul te voorkom. Jou kragpunt is by 'n klipmuurtjie waar die vullisdrom staan en gebruik 'n blou woonwaprop.

Die speelparkie is regoor die kantoor en het 'n klouterraam, swaaie, 'n glyplank en wipplank plus 'n swembad langsaan vir die kleintjies.

Bivanedam. Foto: Leon Botha
Bivanedam. Foto: Leon Botha

Die groter swembad is anderkant die voorste staanplekke en grens aan die dam. Hier is afdakkies op 'n terras wat van die swembad af tot verby die voorste staanplekke strek.

Bivanedam. Foto: Leon Botha
Bivanedam. Foto: Leon Botha

Dit gee jou toegang tot die vasmeerplek vir bote en 'n eiland met 'n groot en netjiese grasperk wat jy met 'n bruggie van sowat 15m bereik.

Hoe nader, hoe kwater. Jy ry nie net in by die hek en sien eensklaps die kampplek nie. Jy sien so bietjies-bietjies meer van die kamp soos jy nader ry oor die laaste rantjies. Foto: Leon Botha
Hoe nader, hoe kwater. Jy ry nie net in by die hek en sien eensklaps die kampplek nie. Jy sien so bietjies-bietjies meer van die kamp soos jy nader ry oor die laaste rantjies. Foto: Leon Botha

'n Hoogtepunt is die uitkykpunt op die rantjie regs waar jy die kampplek binnery. Dis 'n lekker uitstappie van 20 minute en jy kan laatmiddag gaan kyk hoe die son oor die water sak.

Bivanedam. Foto: Leon Botha
Bivanedam. Foto: Leon Botha

Die uitkykpunt is oorkant die damwal waar die water in die kloof afstort en koers kies see toe. Terloops, die water word hoofsaaklik gebruik vir die besproeiing van suikerriet. Hier by die uitkykplek is ook 'n paar afdakkies met tafel-en-bankies, braaiplek en toilette.

Bivanedam. Foto: Leon Botha
Bivanedam. Foto: Leon Botha

Voor jy vanaand in die kampplek jou vuurtjie aansteek, kyk of jy iets aan die hoek kan kry. Hier is 'n hele klomp vis­spesies wat jy kan vang, maar as jy 'n geelvis of baars kry, moet hy terug water toe.

Bivanedam. Foto: Leon Botha
Bivanedam. Foto: Leon Botha

Hier is twee boskampe - die afdraai soontoe is 3km terug op jou spoor - en vir die een kant sal jy deur kniediep water moet ry. Jy kamp selfversorgend, 'n donkie sorg vir warm water en by een van die twee is daar puttoilette.

Kortliks | Bivanedam

Bivanedam. Foto: Leon Botha
Bivanedam. Foto: Leon Botha

Kampplek 16 ruim staanplekke meestal op gras en met hope koelte - 8 daarvan is in gelid by die oewer - plus 2 boskampe.

Ablusiegeriewe Gemeenskaplike badkamers. Dis superskoon en langs die kantoor.

Prys Afhangend van die seisoen R260-R620p.n. per staanplek vir die eerste 4 mense, daarna R50-R100p.p.p.n. Tot 7 mense per staanplek word toegelaat en jy moet vir minstens 2 nagte bespreek.

Aankoms- en vertrektyd Die hektye is 06:00-18:00 - as jou staanplek voor 14:00 beskikbaar is, mag jy vroeër as dit intrek.

Kontak 078 802 3329 of 083 283 8291 | admin@bivanedam.co.za | bivanedam.co.za

Naaste dorp? Vryheid 52km.

Hoe lyk die pad? Die laaste 19km is 'n ordentlike grondpad: 12,1km tot by die hek en 6,9km op die terrein.

GPS S27.519885 E31.052039

Bivanedam. Foto: Leon Botha
Bivanedam. Foto: Leon Botha

Ry & Sleep sê Sedert ons besoek is 'n avontuurminigholfbaan met nege putjies aangebring. Jy betaal 'n deposito van R40 en kry R20 terug wanneer jy die stok en bal inhandig.

NYALAZI

Langpad om

Nyalazi. Foto: Leon Botha
Nyalazi. Foto: Leon Botha

Kampplekke in 'n nasionale park is gewoonlik gesog - dink maar aan Mokala, Mapungubwe, die Kgalagadi, Addo en die tienplus van die Krugerwildtuin. Jy hoor selde klagtes en by sommige moet jy behoorlik spring om plek te kry.

Dis spesiaal om in die omgewing van wilde diere te kamp. Foto: Leon Botha
Dis spesiaal om in die omgewing van wilde diere te kamp. Foto: Leon Botha

Dit is dus vreemd dat die Hluhluwe- iMfolozipark geen kampplek het nie - dit is die enigste staatsbeheerde Groot Vyf-park in KwaZulu-Natal waar jy boonop hope ander wild kan sien.

Dit is ook die oudste geproklameerde reservaat in Suid-Afrika én in Afrika (1895).

Teen byna 1000km² is dit 'n wye stuk aarde wat een geword het toe die destydse Hluhluwe- en iMfolozi-reservaat in 1989 saam­gesmelt het.

Nyalazi. Foto: Leon Botha
Nyalazi. Foto: Leon Botha

In die jare vyftig het algehele uitwissing die witrenoster in die gesig gestaar en daar was net 'n handjie vol oor in die natuur - hoeka in die Umfolozi-streek.

Nadat die parkbewaarder Ian Player, broer van die gholflegende Gary Player, Operasie Renoster begin het, het dinge verander en 'n mens sien vandag nog witrenosters hier én elders in die natuur.

Nyalazi is die suidelike hek van die park. Net buite die park, omtrent teen die grensdraad, is 'n nuwe kampplek met dieselfde naam.

Nyalazi. Foto: Leon Botha
Nyalazi. Foto: Leon Botha

'n Mens kan jou hoed afhaal vir die eienaar, Nunu Jobe, wat 'n geleent­heid hier raakgesien het.

As Tsendze in die Kruger jou idee van hemels is, kan jy solank bespreek, want Nyalazi is soortgelyk. Bespreek vroegtydig, want die 7 staanplekke is baie gewild. 'n Mens het 'n keuse van twee hoof­roetes om hier uit te kom. Die maklikste is met die N2 van Mtubatuba af (Nyalazi se kant).

Dit is 90km verder as die ander roete van Bivandedam af, maar die spoedwalle en jou frustrasies is veel minder. (Moenie jou steur aan Google Maps wat reken jy spaar 20 minute op die Nongomapad nie.)

Nyalazi. Foto: Leon Botha
Nyalazi. Foto: Leon Botha

Die Hluhluwe-iMfolozipark het nóg 'n unieke eienskap: Die pad uit die noordweste en ooste is in der waarheid dieselfde openbare pad en loop deur die reservaat. (Dis die R618 wat Nongoma met Mtubatuba verbind.)

Nyalazi. Foto: Leon Botha
Nyalazi. Foto: Leon Botha

Die 17km sny die park omtrent in twee, en al is jy nie ontslae van die spoedwalle nie, sien jy langs die pad mooi natuur­skoon eerder as mensebedrywighede.

Op albei kante ry jy deur 'n motorhek, maar nêrens is 'n toegangshek waar jy moet betaal nie.

Vir Jan Publiek is hierdie pad dus soos 'n gratis kanaal op TV, want terwyl jy deur die park ry, kyk jy wild - in ander parke moet jy geld betaal vir dié voorreg.

Ons het 'n hele paar bokke en net voor die kampplek selfs 'n olifant gesien.

Nyalazi. Foto: Leon Botha
Nyalazi. Foto: Leon Botha

Die eintlike Nyalazihek is 2,2km van die oostelike motorhek af, en as jy dieper die bos in wil ry om diere te soek, moet jy 500m van die grootpad af afdraai en betaal.

Foto: Leon Botha
Foto: Leon Botha

In die kantoor staan 'n lewensgroot draadrenoster wat met duisende bont krale verfraai is. Dit is heel gepas, want op die embleem van Ezemvelo KZN pryk ook 'n renoster.Die afdraai na die kampplek is 350m anderkant die motorhek - dus net voor die hek van Mtubatuba se kant af.

Nyalazi. Foto: Leon Botha
Nyalazi. Foto: Leon Botha

Die toegang is 'n kort stukkie grondpad met 'n onverwagse byt: Die tweespoorpad loop 350m langs die heining af voor dit skerp regs draai, op teen 'n skuinste. Dan swaai dit omtrent dadelik links en die hek is 150m van die skerp draai af.

'n Bordjie regs van die hek verbied enige geraas, iets wat 'n mens in 'n kampplek soos hierdie verwag.

Nog 'n bordjie in die middel van die hek het twee selfoonnommers op met 'n kennisgewing dat die hek oop is. Dit is dus nie 'n elektriese skuifhek nie; jy moet uitklim en self die hek wegskuif, net soos by Tsendze.

Die smal paadjie tot hier is nie regtig bedoel vir padwoonwaens nie, maar dit het nie 'n Penta-eienaar gekeer nie.

Die kampplek is taamlik klein - ongeveer 100m teen die lang kant en 60m op die ander.

'n Paar staanplekke is direk links en die ander regs. Die inrypad verdeel eintlik die kampplek in twee met die badkamers voor jou in die middel van die kampterrein.

Stap saam met die persoon wat jou ontvang en gaan kyk waar jou staanplek is, anders kan jy jou teen moeilikheid vasry.

Ons kry staanplek nr. 1 - dis van die hek af reguit voor jou tot teen die oorkantse grens van die kamp, dan dadelik regs.

Foto: Leon Botha
Foto: Leon Botha

Terug in die kar sou 'n mens dink jy kan met 'n effense lang kombinasie om die laaste draai kom, maar dinge werk nie uit nie, en nou moet jy jou beste terugstootvernuf toon. In dié geval is dit beter om direk regs te hou ná die hek waar 'n mens nie so skerp hoef te draai nie.

Die hele kampplek is teen 'n effense skuinste van 'n koppie, en van hier af kyk 'n mens uit oor die park langsaan.

'n Mens word vinnig herinner wie is baas en wie is klaas wanneer 'n olifant die pad voor jou volstaan. Nyalazi. Foto: Leon Botha
'n Mens word vinnig herinner wie is baas en wie is klaas wanneer 'n olifant die pad voor jou volstaan. Nyalazi. Foto: Leon Botha

Hier is drie staanplekke links van die inrypad en vier regs op teen die koppie. Drie van die laasgenoemdes is 'n breë skoongemaakte terras wat gelyk is met bome wat dit in die lengte lekker privaat maak.

Die vierde staanplek - die verste van die hek af aan diékant - is effens meer beknop. Met ons besoek het die kampeerders daar twee koepeltente onder die bome opgeslaan.

Die drie aan die ander kant is ook skoongemaakte kolle, en dis opvallend hoe netjies die staanplekke gehou word.

Kampeerders gee duisende uit aan hulle kampgoed, maar is ewe tuis met die mees basiese geriewe. Foto: Leon Botha
Kampeerders gee duisende uit aan hulle kampgoed, maar is ewe tuis met die mees basiese geriewe. Foto: Leon Botha

By ons aankoms was dit netjies gehark, en toe ons terugkeer nadat ons vir die dag gaan ry het, was dit weer netjies gemaak - selfs die skottelgoed in ons wa se buitekombuis was skoon.

Nyalazi. Foto: Leon Botha
Nyalazi. Foto: Leon Botha

Laastens word jou vuurput nie net skoongemaak ná gisteraand se braai nie, maar ordentlik skoongespoel met water. Die paar stompies wat nog lewe het, is netjies langsaan gestapel.

Nyalazi. Foto: Leon Botha
Nyalazi. Foto: Leon Botha

Die stille held hier is Niki Mchunu wat 'n kampgasvrou duisend is.

Sy het selfs die vorige aand kom vra of ons die verkleurmannetjie in die boom agter ons staanplek gesien het. Sy het 'n skerp oog. Niki sluit die hek later die aand as al die gaste terug is in die kampplek en sluit ook douvoordag oop as jy saam met die son in die park wil aankom.

Die badkamers is baie eenvoudig, maar dit is presies wat 'n mens verwag in 'n kampplek soos dié. Die geboutjie het 'n aparte kant vir mans en vroue en daar's 'n wasbak vir skottelgoed voor elke kant se deur.

Foto: Leon Botha
Foto: Leon Botha

Aan die manskant is twee toilette en oorkant dit twee storte. Net die stort­gordyn skei jou en die algemene ruimte en hier is nie regtig plek om jou goed neer te sit nie.

Hier is ook net een wasbak en spieël, en dis duidelik die plek gaan beknop raak as jy en jou buurman saam instap.

Dit is nietemin uiters netjies en in die paar dae wat ons hier was, het die verkeer in die badkamers ons laat voel of ons alleen kamp. Dit is dus heeltemal voldoende, selfs al is die plek volbespreek, maar jy gaan moet vrede maak met 'n temperamentele gasgeiser.

Kortliks | Nyalazi

Kampplek 7 meestal ruim staanplekke in die bos met 'n gelykgemaakte oppervlak. Jy het 'n kraan en kragpunt op jou staanplek, maar bring jou eie rooster.

Ablusiegeriewe Klein, netjiese badkamers in die middel van die kampplek met opwasplek.

Prys R180p.p.p.n. (R90 vir kinders van 4-12 jaar; gratis vir die kleintjies).

Aankoms- en vertrektyd 14:00 en 10:00.

Kontak 076 229 5101 | res@nyalazicamp.com | nyalazicamp.com

Naaste dorp Mtubatuba 27km.

Hoe lyk die pad? 'n Halwe kilometer smal tweespoorgrondpad.

GPS S28.256653 E32.012185

Dis nogal ironies om by die Groot Vyf-park uit te ry en dadelik 'n waarskuwingbord van 'n bees langs die pad te sien. Foto: Leon Botha
Dis nogal ironies om by die Groot Vyf-park uit te ry en dadelik 'n waarskuwingbord van 'n bees langs die pad te sien. Foto: Leon Botha

Ry & Sleep sê By Nyalazi is 'n mens effens ver van die winkels af, maar jy kan hout en ys in die kampplek koop - en met 'n kaart daarvoor betaal.

SPELETJIES VANDAG

CTA