Die Toevlugsoord vir Afrika-pikkewyne en Seevoëls rehabiliteer dié voëls. Maretta Bellingan het Mona, 'n bekkige seemeeu, en Sandy, 'n blinde Afrika-pikkewyn, van nader leer ken.
Dis 'n paar minute voor drie in die middag en by die ingang na die "eetsaal" staan Biltong en Bob reeds geduldig en wag. Hulle het dalk nie horlosies nie, maar weet presies wanneer dit tyd is vir hul daaglikse voeding van spekvet sardientjies.
Biltong was nog 'n jong pikkewyn toe sy met 'n erge kopbesering en gebreekte kakebeen in 2016, kort ná die opening van die Toevlugsoord vir Afrika-pikkewyne en Seevoëls (APSS), gered is.
Die algemeenste besering is rob- en haaibyte, en sommige raak in seerommel verstrengel. Pikkewyne is tough diertjies. Ons het al baie lelike beserings gehad en hulle herstel merkwaardig goed.
Bob is reeds sedert 2015 'n inwoner en is deur 'n hond aan die kop gebyt. Sy't ook nie 'n web tussen twee van die tone aan haar regterpoot nie. Biltong en Bob is albei permanente inwoners van APSS.
Die rede vir die twee dames se ongewone name, verduidelik dr. Annamarie Robberts, 'n veearts wat elke oggend kom "saalrondes" doen voordat sy na haar praktyk in Gansbaai gaan, is omdat dit op die oog af baie moeilik is om 'n pikkewyn se geslag te bepaal.
"Die algemeenste besering is rob- en haaibyte, en sommige raak in seerommel verstrengel. Pikkewyne is tough diertjies. Ons het al baie lelike beserings gehad en hulle herstel merkwaardig goed."
Sy waarsku wel dat hierdie skattige diertjies in hul swart-en-wit manelpakkies beslis nie cute en cuddly is nie.
"Hulle is eintlik menssku en jy kan nie hul koppies krap nie. Hulle slaan jou met hul vlerke, byt jou of krap jou met die toonnaels.
"Die hele doelstelling natuurlik is om hulle weer vry te laat. In Februarie vanjaar is sewe vrygelaat, maar dit hang maar net af van hoeveel ons inkry en behandel," sê dr. Robberts. Sy is al 'n paar maande betrokke by APSS, wat in 2015 deur Wilfred Chivell, voorsitter van Dyer-eiland se bewaringstrust, gestig is.

Passievol oor bewaring
"Wilfred is ongelooflik passievol oor die bewaring van die algemene seelewe langs die Overbergse kuslyn, veral dié van pikkewyne en haaie," sê Robberts, wat bevestig dat daar tans 14 pikkewyne en vier seemeeue gehuisves word.
Die seemeeue Anton en Antoinette het albei 'n deel van 'n vlerk verloor.
Budgie het korter beentjies as 'n gewone seemeeu en is met die hand grootgemaak, terwyl Mona 'n regte klakous is, vertel dr. Robberts al laggende.
"Sy praat non-stop en kom pik sommer aan jou skoen. Sy's regtig voor op die wa en ons vermoed sy't emosionele probleme, want sy verkies om hier te bly, al is sy andersins gesond."
Die pikkewyne en seemeeue word gehuisves in 'n groot vertrek met 'n dam in die middel waar hulle na hartelus kan swem en in die son sit en bak. Saans kruip hulle in hul wit huisies, 'n kunsmatige nes wat ontwerp en gebou is op grond van die mikroklimaat-omstandighede volgens hul behoeftes.
Tydens etenstyd ontmoet ek nog 'n paar inwoners, soos Andrew, ook 'n wyfie, wat deur 'n rob aan die skouer gebyt is en nie haar regtervlerk kan gebruik nie. Stella is op haar beurt wees gelaat as kuiken toe haar ouers nie teruggekeer het om haar te voer nie.
"Dis ongelukkig 'n algemene verskynsel," sê Xolani Lawu, 'n senior voëlrehabiliteerder by die oord en 'n boorling van Oos-Londen wat aanvanklik gedink het hy gaan eendag 'n elektrisiën word voordat die noodlot hom in die wêreld van pikkewyne gedompel het.
Hoekom Afrika-pikkewyne bedreig word
Xolani verduidelik hoekom die Afrika-pikkewyn deesdae 'n bedreigde spesie is.
"Oor die laaste 30 jaar het die Suid-Afrikaanse broeipaarbevolking met ongeveer 77% - van 70 000 broeipare in 1979, 36 000 broeipare in 1993 en 8 750 broeipare in 2023 - gekrimp.
"Die aanslag op die Afrika-pikkewynbevolking het reeds in die 1800's begin toe veral die Europeërs tonne guano verwyder het. Pikkewyne - die oorgrote meerderheid op Dyer-eiland doen dit - gebruik guano om hul nes in te maak. Dit het die pikkewyne aan die intense Afrika-hitte en af en toe oorstromings blootgestel."
Hy vertel verder in die laat 19de eeu het Afrika-pikkewyneiers 'n gewilde dis onder die rykes en beroemdes geword.
Pikkewyneiers is op die Titanic voorgesit en elke Woensdag was dit op die Suid-Afrikaanse parlement se ontbytspyskaart.
Daar word geraam dat tussen die 1920's en middel-1950's amper die helfte van die Afrika-pikkewyneiers vir menslike gebruik gevat is. Op Dasseneiland is nagenoeg 600 000 eiers in een jaar verwyder. Die uitwerking op die pikkewynbevolking was katastrofies.
Ná die terugslae van die guano, asook die verlies aan eiers, het die pikkewyne se slegte geluk 'n nuwe laagtepunt bereik met die skip Treasure, wat in 2000 by Robbeneiland anker gegooi het. Sowat 20 000 pikkewyne is deur die oliebesoedeling geraak.
"En natuurlik is die grootste probleem waarmee die Afrika-pikkewyn tans te kampe het dat hulle weens oormatige visvang van veral sardientjies en ansjovis nou ekstra ver moet swem om te gaan kos haal. En dikwels nie betyds kan terugkeer om die kuikens te voer nie.
"Ons werk saam met Cape Nature om hierdie kuikens in die kolonie op Dyereiland te identifiseer. Ons help dié wat verwerp, siek of beseer is en bied vir hulle 'n tuiste totdat ons hulle weer kan vrylaat," sê Xolani, wat bevestig dat APSS die afgelope nege jaar 1 142 pikkewyne gerehabiliteer het.
Die Afrika-pikkewyn is aan die uitsterf
"Daar word voorspel dat die Afrika-pikkewyn binne die volgende tien jaar kan uitsterf, sou daar nie drasties opgetree word nie.
"Ons doen ons bes deur middel van opvoeding en bewusmakingsprogramme en bly hoopvol, maar die vooruitsig is nie goed nie."
Xolani is versot op sy werk en erken hy is mal oor 'n pikkewyn, wat hy as 'n baie slim dier beskryf.
"Hulle het beslis verskillende persoonlikhede," sê hy en beduie na 'n pikkewyn wat ver weg van die res doodstil in 'n hoekie sit.
"Dis Sandy. Sy's blind en verkies om op haar eie te wees. Biltong is ook 'n baie rustige pikkewyn en heel liefdevol, maar sy't twee van Sandy se kêrels afgevry," vertel hy al laggende. "Hulle kan nogal ergerlik raak, veral tydens etenstyd of wanneer een op 'n klip sit waar die ander een wil sit."
Dat van sy kollegas na hom as 'n "pikkewynfluisteraar" verwys, laat hom glimlag. "Dis maar net jare se ervaring en dis belangrik dat jy hulle moet respekteer," meen Xolani, wat vertel van die dag op Dyer-eiland toe 'n kuiken hom aan die lip gebyt het.
"Ek het met die kuiken in my hande gestap toe my foon lui. In die gesukkel om die foon uit my sak uit te haal, struikel en val ek in 'n poel water. Die kuiken het geskrik en my gebyt, daar was net bloed oral.
"Ek bel toe my vrou terug en sê vir haar dit was haar skuld," skerts die pa van twee seuns.
In Februarie vanjaar is sewe pikkewyne op Dyer-eiland vrygelaat, elkeen met 'n mikroskyfie. Volgens dr. Robberts is een van hulle onlangs baie kilometers verder op die Boulders-strand in Simonstad opgemerk.
"Dis net ondenkbaar dat ons kinders se kinders eendag dalk nie die voorreg sal hê om hierdie astrante en pragtige diertjie in sy natuurlike habitat te sien nie.
"Die mens was vir lank hul grootste vyand; ons is dit aan hulle verskuldig om vir hul voortbestaan te baklei."
Pikkewyn-feite
- Die Afrika-pikkewyn staan ook bekend as die brilpikkewyn of die jackass-pikkewyn.
- Pikkewyne lê twee keer per jaar eiers, lê net twee eiers op 'n keer en paar altyd met dieselfde maat.
- Die ouers maak beurte om die eiers oor 'n tydperk van ongeveer 40 dae uit te broei. Pikkewynkuikens kan eers op drie maande na hulself begin omsien.
- Pikkewyne duik meestal sowat 30m diep vir kos, maar hulle kan tot 130m diep duik.
- 'n Pikkewyn kan tot 20km/h swem en tussen 20 en 40km per dag aflê.¦Die pikkewyn het nege inwendige lugsakke wat met suurstof gevul word sodat hulle tussen twee en vyf minute onder die water kan bly.
- Hulle het 'n ontsoutingsklier in die kop sodat hulle seewater kan drink. Die sout word uitgenies.
- Verhoogde bloedtoevoer na die pienk kliere bo hul oë help hulle om in warm weer af te koel.
- 'n Pikkewyn lê op sy sy en slaap, nie wanneer hy regop sit nie.
- Daar is 18 pikkewynspesies wêreldwyd, maar net een soort wat aan die kus van Afrika woon.
- Elke Afrika-pikkewyn het 'n unieke patroon swart kolletjies op sy wit bors wat hom van 'n ander onderskei.
- 'n Afrika-pikkewyn word in sy natuurlike habitat om en by 10 jaar oud. Die oudste Afrika-pikkewyn het 43 jaar oud geword.
Hoe kom ek daar?
- Besoek die Toevlugsoord vir Afrika-pikkewyne en Seevoëls.
- Die pikkewynhawe is net buite Gansbaai geleë en is daagliks oop van 09:00 tot 16:00. Die pikkewyne word om 15:00 gevoer. Geniet 'n koffie en 'n stukkie koek terwyl jy die pikkewyne deur groot glasvensters dophou en loer vir 'n pikkewynaandenking in die geskenkwinkel.
- Vir enige navrae of skenkings, kontak Christine Wessels per e-pos by projects@ dict.org.za.















