ActionSA en die IVP het met die ANC kragte saamgesnoer om die verslag oor die fiskale raamwerk en inkomstevoorstelle te aanvaar.
Die stap beteken die begroting gaan waarskynlik Woensdag in die Nasionale Vergadering goedgekeur word.
Die verslag oor Enoch Godongwana, minister van finansies, se begroting is Dinsdagaand ná 'n marathonsitting van agt ure deur die gesamentlike sitting van die staande komitee oor finansies en die gekose komitee oor finansies aanvaar. Die komitee is gekenmerk deur prosesse wat by tye onduidelik was en verwarring by LP's geskep het oor die prosedure.
Die komitee het Dinsdag vergader om die komiteeverslag oor die fiskale raamwerk en inkomstevoorstelle te oorweeg.
Alan Beesley, ActionSA-LP, het voorgestel dat die fiskale raamwerk in sy huidige formaat, waar belasting op toegevoegde waarde (BTW) met 'n halwe persentasiepunt verhoog word, deur die komitee goedgekeur word.
Ingevolge die party se voorstel moet die komitee die BTW-verhoging aanvaar en die nasionale tesourie 30 dae gee om met alternatiewe voorstelle vir BTW vorendag te kom.
Die DA, wat deel is van die RNE, asook die EFF en MK, het die voorstel heftig teengestaan.
Die ANC met sy vier lede, en ActionSA en die IVP met een LP elk het die komiteeverslag aanvaar.
Dit is geskeduleer om Woensdag in die Nasionale Vergadering gedebatteer en oor gestem te word.
- philda.essop@24.com
* Volg Netwerk24 vir meer oor die storie.



















