ActionSA se voorstel dat die nasionale begroting mét die verhoging in belasting op toegevoegde waarde (BTW) aanvaar word, maar dat dit dan binne 30 dae gewysig word, het Dinsdag heftige teenkanting gekry.
Die DA, EFF en MKP het die voorstel in 'n gesamentlike sitting van die staande komitee oor finansies en die gekose komitee oor finansies skerp gekritiseer.
Die komitees vergader oor hul verslag oor die kern van die begroting: die fiskale raamwerk en inkomstevoorstelle. Dié verslag - en dus effektiewelik die begroting van Enoch Godongwana, minister van finansies - moet volgens skedule Woensdag in die Nasionale Vergadering gedebatteer word. Daarna moet LP's daaroor stem.
Die aanvaarding van die begroting hang aan 'n draadjie weens die gebrek aan eenstemmigheid daaroor in die regering van nasionale eenheid (RNE).
Onderhandelinge tussen die ANC en die DA daaroor het Maandagnag 'n dooiepunt bereik.
Die DA en verskeie ander partye in die RNE, maar ook partye buite die RNE soos die EFF en MKP, is nie ten gunste van 'n verhoging van 'n halwe persentasiepunt in BTW (tot 15,5%) vanjaar en weer volgende jaar (tot 16%) nie.
Res van proses in die weegskaal
As die komitees wysigings aan die fiskale raamwerk voorstel, sal die Nasionale Vergadering nié Woensdag soos geskeduleer die begroting kan debatteer en daaroor kan stem nie.
Die ANC kan die begroting nie alleen deurdruk nie, maar as Action SA, die IVP en al die kleiner partye in die parlement saamstaan, is dit wel moontlik. Die IVP het voorheen gesê hy sal die begroting steun indien die BTW-verhoging net tydelik is.
LEES OOK | DA verwerp BTW: Swaard hang stééds oor begroting
Alan Beesly, ActionSA-LP, het voorgestel dat die fiskale raamwerk in sy huidige formaat, mét die styging, deur die komitee goedgekeur word. Ingevolge die party se voorstel moet die komitee die BTW-verhoging aanvaar, maar die nasionale tesourie 30 dae gee om met alternatiewe voorstelle vorendag te kom.
Dr. Mark Burke, DA-LP, het dié party se wysiging ter tafel gelê, wat die verwerping van die BTW-styging vir albei boekjare verwerp. Hy sien "geen sin" daarin dat "die ANC" nog 30 dae gegee word nie.
Des van Rooyen van die MKP sê die party steun nie die BTW-verhoging nie. "Dit is regressief en 'n verdere las op mense wat werkloos is en swem in 'n poel van armoede."
Voorstel onwettig
Die EFF voer aan ActionSA se voorstel is "ooglopend onwettig".
Sinawo Thambo, EFF-LP, sê die wet maak slegs voorsiening dat die fiskale raamwerk aanvaar word óf gewysig word.
"Wat Beesly voorstel, is nie 'n wysiging nie, dit is 'n aanvaarding met voorwaardes dat ons oor die volgende 30 dae alternatiewe voorstelle gaan kry. Ek het nie die geloof daarin dat die minister of nasionale tesourie oor 30 dae met 'n alternatiewe inkomstevoorstel vorendag gaan kom nie."
Omphile Maotwe, EFF-LP, sê die EFF se voorstel is dat die fiskale raamwerk en inkomstevoorstelle gewysig word. Dit sal die komitee die geleentheid gee om BTW te wysig, waarmee die meerderheid nie saamstem nie.
Bheki Radebe, ANC-LP, meen egter Beesly se opsie is belangrik.
Wat van BTW?
Wouter Wessels, VF-Plus-LP, sê die probleem met Beesly se voorstel is dat BTW op 1 Mei kan styg. Daar moet binne die voorskrifte van die wetgewing gebly word.
"Ons kan 'n sekere tyd aan die nasionale tesourie gee om die begroting aan te pas as die BTW-voorstel van die tafel is, want ons weet daardie beramings en voorgestelde inkomste sal 'n invloed op al die ander prosesse hê wat uit BTW vloei.
"Die feit van die saak is, as die komitee vandag 'n verslag aanvaar en die fiskale raamwerk aanvaar of wysig, moet dit duidelikheid gee oor wat op 1 Mei gebeur."

Mathapelo Siwisa, EFF-LP, vra met watter wonderwerk Action SA reken die minister binne 30 dae vorendag kan kom.
"Hulle kon nie met 'n wonderwerk vorendag kom toe die begroting die eerste keer uitgestel is nie. Die hoofrede was toe die BTW-kwessie en hulle kon nie 'n alternatiewe maatreël vind nie.
"As daar 'n alternatief was, sou hulle dit voorgestel het. Daar is geen wonderwerk wat gaan gebeur nie, tensy ons sê ons wag vir Jesus Christus om te kom."
Dis 'n verwysing daarna dat die begroting van 19 Februarie, wat 'n verhoging van twee persentasiepunte in BTW voorgestel het, tot 12 Maart uitgestel is en 'n BTW-verhoging toe steeds voorgestel is, hoewel met net 'n halwe persentasiepunt.
Die debat duur voort.
- philda.essop@24.com



















