Iemand vertel my van 'n kerkleier in Amerika wie se stem nie meer so sterk is nie. Daarom is sy stem met behulp van kunsmatige intelligensie in nuwe video-opnames opgetower om soos 25 jaar gelede te klink.
Toe ek dit vir een van ons kerk se spanlede vertel, wys sy vir my hoe 'n mens deesdae binne vyf minute enige vorm van aanbiddingsmusiek oor enige tema en in enige musiekstyl kan skep.
Te midde van al hoe meer KI-aangedrewe preke, blogs en boeke aan die kerklike front het KI in vele mense se nuwe Bybelse naslaanbron verander. Dis mense se nuwe religieuse gespreksgenoot.
Nou ja, KI vat ons vorentoe... mits ons dit reg gebruik. KI is 'n supervinnige verwerker van alle denkbare vorme van inligting. KI mag egter nooit ons verantwoordelikheid oorneem om selfstandig oor God na te dink en om ons geloof self te verwoord nie. Dit mag nooit ons eie kreatiewe insette rondom preke, Bybelstudies en pastorale gesprekke goedsmoeds vervang nie.
Anders as KI se blitsvinnige, netjies afgeronde antwoorde, is geloof aan ons menslike kant van die draad soms moeilik, onafgerond en nog in wording. Kom ons bly eg en kom ons gebruik KI reg.
Uit die Woord
Gelukkig is mense wie se lewenspad onberispelik is en wat die wet van die Here volg!
Gelukkig is hulle wat hou by sy bepalings, wat Hom met hul hele hart soek; wat ook nie onreg pleeg nie, maar net sy paaie volg! - Psalm 119:1-2





















