Bybelse opskrifte word graag deur vertalers ingevoeg om tekste makliker leesbaar te maak. Partykeer het opskrifte egter die teenoorgestelde effek.
Een voorbeeld hiervan kom in die Afrikaanse Bybelvertaling van 1953 voor waar een opskrif veroorsaak het dat "onderdanigheid" slegs aan vroue toegeskryf is en nie aan mans ook nie. 'n Opskrif is hier foutiewelik tussen Efesiërs 5:21 en vers 22 ingevoeg.
Efesiërs 5:21 praat van wedersydse diensbaarheid aan mekaar, terwyl vers 22 slegs vroue daartoe oproep. Die werkwoord wat hier met onderdanigheid of nederige diensbaarheid vertaal word, word slegs in vers 21 gebruik, en nie in vers 22 nie (volgens ons betroubaarste Griekse manuskripte). Vers 21 se wedersydse onderdanigheid wys dus vooruit na die onderlinge verhouding tussen man en vrou wat verder in vers 22-33 verduidelik word. Anders gesê, Paulus roep dus in vers 21 ook mans tot onderdanigheid op.
Foutiewe idees oor manlike baasskap en vroulike onderdanigheid word geskoei op foutiewe lesings van Bybeltekste en selfs op misplaaste opskrifte. Want God het nooit bedoel dat ons mekaar moet oorheers of domineer in die huwelik of in enige ander verhouding nie.
Uit die Woord
Want deur die geloof is julle almal kinders van God in Christus Jesus, want julle wat in Christus gedoop is, het Christus soos 'n kleed aangetrek. Daar is nou nie meer Jood of Griek, nie meer slaaf of vryman, nie meer manlik en vroulik nie; want julle almal is één in Christus Jesus! - Galasiërs 3:26-28





















