Ben Hecht (1894-1964) was ’n skrywer en Hollywood-regisseur. In sy outobiografie vertel hy dit was ’n groot ontnugtering om te besef baie bekendes skoei hul sukses op die feit dat hulle nooit hulself was nie.
“They had borrowed identity from the world and not out of their own souls.”
Om ’n lewe te bou op kunsmatige dinge soos tydelike sukses, ’n sosialemediaprofiel of bekendheid is sielsdodend. Ware grootheid is om in die lewe van ander te belê. Dit is om dag in en dag uit daarmee besig te wees, soos die hoof van ’n Kaapse skool waar ons kerk ook betrokke is. Toe my vrou onlangs daar besoek aflê, vertel hy van al die hartseer en armoede wat deur dwelmmisbruik en misdaad in hul gemeenskap veroorsaak word.
Maar hyself swem stroomop. Hy vertel vir my vrou hoe die Here hom party nagte wakker maak, dan ry hy skool toe en gaan bid daar vir al die kinders. Hy en sy span deel weekliks kos uit en sorg dat kindertjies naweke kos huis toe vat omdat daar niks te ete is nie.
Toe my vrou groet, sê die hoof vir haar hy wil graag ook voltyds vir die Here werk. Toe sê sy vir hom: “Meneer, jy doen dit! Jy doen dit meer as wat jy ooit sal besef.”
Dit is ware grootheid voor God. Dit is nie sielsdodend nie, maar lewegewend!
Uit die Woord
“Wanneer die Seun van die Mens in sy heerlikheid kom, en al die engele saam met Hom, sal Hy op sy glansryke troon gaan sit.
“Dan sal die Koning vir dié aan sy regterhand sê, ‘Julle, geseëndes van my Vader, kom beërf die koninkryk, wat vir julle gereedgemaak is van die grondlegging van die wêreld af. Want Ek was honger, en julle het vir My iets te ete gegee; Ek was dors, en julle het vir My iets te drinke gegee . . .’ ” – Mattheus 25:31 en 34-35





















