Digitaliteit is 'n onlosmaaklike deel van die werklikheid, en van ons geloof. Die verskoning dat digitale uitdrukkings van kerkwees nie egte koinonia of geloofsgemeenskap is nie, is sedert die Nuwe-Testamentiese tyd reeds uit die mode.
Paulus beskryf byvoorbeeld in 2 Korintiërs 9 hoe koinonia tussen mense in Judea en sy gemeentes in Korinte en Masedonië plaasvind. Hulle het mekaar nog nooit van aangesig gesien nie, maar koinonia gebeur wanneer hulle in mekaar se konkrete nood voorsien en vir mekaar bid.
'n Ander onderskatte instrument van koinonia is ons oog. Ons vind aansluiting by ander mense deur ons oë. Onlangse navorsing dui ook daarop dat ons oë (veral spesifieke onbewuste oogbewegings) ons aanlyn betrokkenheid baie direk en gevoelvol begelei. Ons oog is inderdaad die sleutel tot ons hart, asook tot ons liggaamlike belewenisse en ervarings.
Jesus sê tereg in Matteus 7 as ons verkeerd kyk, lei dit tot donkerte in ons ganse liggaam. Mense wat verslaaf is aan sondige afloerdery op die internet, sal weet hoe gevaarlik sulke dodelike kyke is. Daarom moet ons al ons kyke in toom hou. Ons oë bepaal immers of ons aanlyn en vanlyn op die regte maniere geloofsgemeenskap met die Here en mekaar beleef.
Uit die Woord
"Haal eers die balk uit jou eie oog, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog te haal."
"Gaan deur die nou poort in. Want breed is die pad en wyd die poort wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur binnegaan." - Matteus 7:6 en 13





















