Wanneer een van ons as kinders aanhoudend gepraat het, het ons gehoor ons is 'n kwebbelkoppie. Ek het nie mooi geweet wat dit beteken nie. Jare later ontdek ek dis 'n Nederlandse woord toe ek lees hoe 'n karakter in 'n boek sê: "Hou toch je vervelende kwebbel dicht, de mensen kijken je na!"
'n Nederlandse woordeboek omskryf kwebbel as: "Eig. mond die altijd maar doorpraat; mond die nooit stilstaat." Die woord kletskous is dalk 'n meer verstaanbare Nederlandse en Afrikaanse sinoniem hiervoor. Wel, of ons nou kwebbel en of ons klets, ons praat soms te veel. Partykeer praat ons selfs vinniger as wat my ma se keteltjie water kon kook.
Ons moet leer om ons praat te beheer. Nee, dis nie net goeie raad nie; dit vorm deel van Spreuke se instruksies oor hoe ons moet leef. Soms moet ons stilbly (Spreuke 10:19). As ons wel praat, moet ons woorde keurig en opbouend wees (Spreuke 12:18; 18:4).
Selfs ons gebede moenie oorloop van 'n gekwebbel nie. Jesus sê so in Matteus 6. Hy sê ons Hemelse Vader weet wat ons nodig het. Daarom kies ons ons gebedswoorde met opregtheid en versigtigheid.
Uit die Woord
Here, plaas 'n wag voor my mond, bewaak die deur van my lippe. - Psalm 141:3





















