Stephan Joubert: Pasop vir ’n wiegielied-godsdiens

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: Getty Images
Foto: Getty Images

Ralph Waldo Emerson skryf: "People wish to be settled; only as far as they are unsettled is there any hope for them."

Ongerief en nuwe uitdagings is nodig vir persoonlike groei. Dis ook nodig wat ons geloofsgroei betref.

Wanneer ons nooit na enige preke luister of aan gesprekke deelneem wat ons uitdaag om ons vooropgestelde idees rakende kultuur, politiek en godsdienstige tradisies te ondersoek nie, bevind ons ons in steriele geloofsomgewings. Wanneer almal in die kerk net nice is, en niemand ooit begelei word om Jesus se konkrete verskilmakers in die wêreld te wees nie, is ons opgesaal met 'n oordadige rustigheid. Dan speel ons geloof binne oorbekende kerklike samekomste af. Niks ontstel ons ooit hier nie, behalwe miskien 'n paar kindertjies wat Sondae in die kerk raas sodat ons nie ons rustige kerkdienste kan beleef nie.

Nee, dit gaan nie daaroor dat kerke en predikers sogenaamde shock jocks moet wees wat almal skok nie. Dit gaan oor ‘n inherente ongemak wat altyd in die nabyheid van die evangelie voelbaar moet wees. Jesus sê tog op verskillende maniere dat die evangelie altyd teen ons eie grein skuur. As dit nooit in ons eie lewe of kerk gebeur nie, is ons in 'n geestelike wiegeliedjie-omgewing vasgekluister.

Uit die Woord

"Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. Want Ek het gekom om 'n wig in te dryf, ‘tussen 'n man en sy vader en tussen 'n dogter en haar moeder, en tussen 'n skoondogter en haar skoonmoeder; en 'n mens se vyande sal sy eie huismense wees'. Wie sy vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie, en wie sy seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie." - Matteus 10:34-37

SPELETJIES VANDAG

CTA