Cicero en Quintilianus was twee Romeinse denkers. Albei was bekend met die Griekse digter Simonides (556-468 v.C.). Hulle vertel tydens ’n openbare ete, aangebied deur sy weldoener, Scopas, het Simonides buitentoe gegaan om met twee besoekers te gesels. Toe hy uitstap, stort die gebou ineen. Almal is onherkenbaar vermink. Simonides kon almal egter uitken op grond van sy visuele geheue oor die gaste se sitplekke of loci aan die verskillende bankettafels.
Simonides se manier van onthou het spoedig gewild geword as ’n soort geheuepaleis. Daarvolgens plaas jy al die items wat jy graag wil onthou, op strategiese plekke in die een of ander bekende gebou. Wanneer jy later iets wil herroep, reis jy net deur al dié plekke in jou eie geheuepaleis.
Hoe ons vandag ook al oor geheue dink, ons onthou met behulp van ons innerlike sintuie. Dis hoekom Paulus ons in Kolossense 3:1-2 oproep om ons gedagtes visueel in die rigting van God se hemelse paleis te verskuif sodat ons reg kan onthou en leef.
Hoor net hoe klink dit: “Omdat julle saam met Christus opgestaan het uit die dood, moet julle lewe ingestel wees op die dinge daarbo waar Christus is. Daar is Hy op die heel belangrikste plek in die hemel. Daar sit Hy aan God se regterhand. Verskuif julle gedagtes se fokus na die dinge wat daarbo is. Moenie toelaat dat dit verstrengel raak met die dinge wat hier op die aarde is nie.” (Nuwe Nuwe Testament-vertaling)





















