Stephan Joubert: Wees ’n moderne verskilmaker, soos Yassir

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Rookwolke bo die Nabatieh-distrik in die suide van Libanon ná ’n Israeliese aanval daar op 27 Junie.  Foto: Reuters
Rookwolke bo die Nabatieh-distrik in die suide van Libanon ná ’n Israeliese aanval daar op 27 Junie. Foto: Reuters

Ek dien saam met Yassir Eric in 'n raad. As boorling van Soedan het hy jare gelede daar tot bekering gekom. Omdat hy sy familie se tradisies prysgegee het, moes hy spoedig vlug.

Sedert 1999 woon Yassir in Duitsland, waar hy homself onderskei het as 'n gesoute kerkleier en akademikus. In 2024 is Yassir ingeseën as biskop in die Anglikaanse kerk in Rwanda vanweë sy werk oor Noord-Afrika en die Midde-Ooste heen.

Twee weke gelede vertel Yassir via Zoom vanuit Duitsland vir ons hy was in die middel van Junie in die Midde-Ooste, waar hy nuwe bekeerlinge in Damaskus en Beiroet gedoop en ook gepreek het.

Hy vertel toe die Israeliese weermag (IDF) het almal in Libanon se selfoonnommers. Terwyl Yassir saam met gelowiges iewers heen onderweg was, ontvang hulle 'n dringende teksboodskap per selfoon van die IDF wat beveel hul motor moet terugval, want die voertuig voor hulle gaan met 'n missiel uitgehaal word. 'n Paar minute later gebeur dit reg voor hul oë.

Yassir vertel ook terwyl hy 'n Bybelstudie gelei het, het nog 'n IDF-waarskuwing deurgekom dat die gebou langsaan deur missiele geteiken gaan word. Toe gebeur dit ook. Later het Yassir op die enigste beskikbare vlug teruggevlieg na Duitsland, waar sy doktorsgraadstudente hul proefskrifte moes verdedig.

Ek was verstom oor sy ervarings. In wat 'n skrikwekkende wêreld leef ons nie!

Maar toe dink ek dis nie heeltemal waar nie, want mense soos Yassir leef ook tussen ons. Hy leef as 'n helder getuie vir die Here vanaf 'n oorloggeteisterde Libanon tot in die geleerde, "veilige" wêreld van Duitsland. Mag ons elkeen op ons eie maniere aanmeld as verskilmakers.

Uit die Woord

Terwyl ons dan so 'n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. - Hebreërs 12:1-2

SPELETJIES VANDAG

CTA